Ek onthou maar min van die soektog na Megan. Ek onthou wél sy was nog in haar pienk pajamas toe my man, Frikkie, haar pap lyfie uit die water gehaal het. ’n Paar uur later was alles verby. Die dogtertjie met wie ek elke minuut van elke dag deurgebring het, was dood. En niks sou ooit weer dieselfde wees nie.

Ek wou nog altyd ’n mamma wees. Megan is op 2 Oktober 2008 gebore. Sy was ons eerste kind en boonop die eerste kleinkind aan my kant van die familie. Haar veiligheid was vir my ’n prioriteit. Die muurproppe was toe, geen gif het rondgestaan nie en sy was altyd in haar motorstoeljie.

En die swembad? Ons het die net laat afhaal omdat dit te moeilik styfgetrek het en dit vervang met ’n seil waarop selfs ék kon loop. Die swembad was nooit oop nie: wanneer ons klaar in die water baljaar het, het ons dit dadelik weer toegemaak.

Megan het reeds op 8 maande swemlesse begin neem en was al so gevorder, dat sy 15 minute op haar eie kon dryf, sou sy in die water beland.

Die ongeluk

Op 15 Februarie vanjaar sou al hierdie voorsorgmaatreëls egter steeds nie genoeg wees om my kind se lewe te red nie. Megan was 16½ maande oud. Dit was ’n gejaagde oggend waarin ek Megan vinnig
alleen by ons huishulp moes los. Ek en Frikkie het later ’n afspraak gehad en hy het vroeër gery – ons sou mekaar kort daarna ontmoet.

Ek was maar enkele minute weg van die huis toe Frikkie se foonoproep kom: draai terug, die huishulp
het laat weet Megan is weg.

Ons het eerste by die swembad gekyk. Die huishulp het die seil al begin oopmaak, maar ons kon niks sien nie. Ons het die tuin gefynkam. Baie dinge flits deur jou brein – die waarskuwings oor mensesmokkel, die tuinier wat nie opgedaag het vir werk nie, die feit dat ek Megan noodgedwonge by die huis gelos het.

Frikkie was kort ná my by die huis. Hoewel ons reeds probeer kyk het of Megan in die water beland het, het hy in die water onder die seil ingespring om séker te maak. Ek en die huishulp het Megan onwetend net rondgeskuif en omdat die seil haar platgedruk het, kon sy nie dryf nie. Ons skat sy was sowat 20 minute in die water.

Ek het ook ingespring en ons het haar uit die water gehaal. Ek het vroeër ’n noodhulp-kursus gedoen en met KPR op my liefling-kind begin. Ons bly naby die Pretoria-Oos-hospitaal, en het self met Megan in die motor binne vyf minute tot daar gejaag. Dit was nie nodig om iets te verduidelik nie: ons was twee sopnat ouers, met ’n kleintjie in ons arms...

Die lang gewag

Hiér het die wag begin. Dit het soos ure gevoel, maar dokters kon Megan se hartklop terugkry en haar stabiliseer om per helikopter na die Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas te word.

Dit was sowat ’n uur voordat sy oorgeplaas is, en in Johannesburg het een van die beste kinderverdrinking-spesialiste op Megan gewag. Ons het ons ouers gevra om vir Megan in Johannesburg te gaan wag en het per motor agterna gery.

Kort voor ons aankoms by die hospitaal, het Megan se longe platgeval en moes die mediese span haar
weer probeer stabiliseer. Hulle het gevra of hulle haar haartjies mag afskeer – dieselfde hare waarmee ek die vorige dag nog kon stertjies maak en strikkies insit.

’n Berader het met ons kom gesels. Die nuus was sleg; Megan se vooruitsig selfs erger. As sy sou leef, sou dit in alle waarskynlikheid met breinskade en ernstige gestremdheid wees. As onderwyseres wat al jare met serebraal gestremde kinders werk, het ek presies geweet wat dit behels. Ek kon nie my springlewendige dogtertjie so voorstel nie.

Megan het in die intensiewesorgeenheid vir kinders gelê. Haar koppie was kaalgeskeer, sy was net in ’n doek en oral was pype. Daar was geen breinaktiwiteit nie, maar ons het bly hoop. Ons het bly bid en bly glo.

Omstreeks 20:00 daardie aand het ’n neurochirurg ’n gaatjie in Megan se skedel gemaak om die drukking op haar brein te verlig. Die familie en vriende het gewag tot sy gestabiliseer is, en is huis toe.

Ons was ’n paar minute buite die saal om familielede te groet. Minute later was ons terug in die intensiewesorgeenheid. Die gordyne rondom Megan se bed was toegetrek. Megan se hart het gaan staan en dokters het haar vergeefs probeer bybring.

My kind was dood.

Ek wou my lieflingdogter nog een keer vashou. Hulle het die pype uit haar lyfie gehaal en van die familie het ’n laaste keer kom afskeid neem.

Ek het vir oulaas haar doek omgeruil. Dié keer was anders. Sy was ’n pap lyfie wat nie met my wou speletjies maak of probeer wegkom om kaalbas die wêreld vol te hardloop nie. Dit was ’n swaar, koue, dooie lyfie.

Vir nog ’n uur lank het ek aan my kind vasgeklou. Want hoe los ’n ma haar kind? Hoe aanvaar ek wat nou net gebeur het? Die vrae het meer geraak, die antwoorde al minder. Frikkie het Megan se handjie
vasgehou en vir my onthalwe probeer sterk wees – maar sy gebroke hart was duidelik op sy gesig.

Ná die tyd

Vroeër het ’n kinderlaggie deur ons huis weerklink – nou is daar net stilte. Dis nou amper ses maande ná Megan se dood. Ek is nog steeds kwaad en ek het nog steeds nie antwoorde nie. Ek weet Eduard, Megan se boetie, is op pad, en ek gaan al my liefde vir hom gee. Niks of niemand sal egter ooit Megan se plek inneem nie.

Baie mense sien Eduard as ’n plaasvervanger vir die kind wat ons verloor het, maar dit werk verseker nie so nie. Deesdae sukkel ek om uit die huis te kom. Ek gaan werk en kom terug, maar ek vermy byvoorbeeld winkelsentrums:

Megan is nie meer by my in haar stootwaentjie of die inkopie-karretjie nie. Dit voel of my lewe gaan stilstaan het en ek sukkel om aan te gaan sonder my kind.

Megan se begrafnisdiens was op 20 Februarie. Dit het in ’n waas verbygegaan en ek onthou nie veel daarvan nie. Ek onthou wél daar was ongelooflik baie mense wat ons kom ondersteun het.

Eduard word binnekort gebore. Maar ek is bang. Ek is bang en ek weet nie wat om te verwag nie. Hoe gaan ek optree? Die lewe het reeds bewys dat jou veilige wêreld in ’n oogwink kan verander en nie altyd uitwerk soos ons beplan nie. Ek besef jy kan nie jou kind teen alles beskerm nie, maar dit maak nie die worsteling minder nie.

Ek kan nie anders as om die lewe nou een oomblik op ’n slag te probeer hanteer nie. Miskien red Megan se verhaal ’n ander kind se lewe. Vir my kind was dit te laat.

Sewe ander kinders het in verskillende vorms van water verdrink in dieselfde week dat Megan dood is. Mense is net té gemaklik rondom water, en met al die tegnologie tot ons beskikking – enigiets van nette tot seile – dink ek nie kinders hoef meer in swembaddens te verdrink nie.

Moet nooit, ooit ’n kind alleen los naby water nie – nie in badtyd om vinnig die foon te antwoord, naby ’n visdam of enigiets anders nie. ’n Seil het nie gekeer dat my kind verdrink nie – net volwasse toesig
kan.

Dit help nie ons soek iemand om te blameer nie. Ons kon nog steeds nie verklaar hoe Megan onder die swembadseil beland het nie, maar ons het saam besluit daar gaan geen verwyte wees nie: nie teenoor
die mense wat die swembadseil geïnstalleer het, of onder mekaar nie.

’n Mens dink dit kan nie met jou gebeur nie en as jy jou oë uitvee, staan jy langs ’n kind se oop graf.