"My twee jaar oue dogtertjie eet amper elke maaltyd dieselfde kos"

akkreditasie
My twee jaar oue dogtertjie eet amper elke maaltyd dieselfde kos. Sy’s mal oor komkommerstokkies en Marmite-broodjies en die verskeidenheid is dus min. Sy kry steeds drie formulevoedings per dag tesame met haar gunsteling-kos, maar ek is bekommerd dat sy nie gebalanseerd genoeg eet nie. Watter kossoorte moet sy nou al kan eet?

Tammy Wolhuter (dieetkundige) antwoord:

Kinders tussen 2 en 6 kan allerhande streke rondom kos ontwikkel, soos ’n weersin in sekere kossoorte waarvoor hulle vroeër baie lief was. Of hulle eet een soort kos met elke maaltyd oor en oor. Dit kan ’n manier wees om hul pas ontdekte onafhanklikheid uit te oefen.

Sommige ouers sukkel om beheer te neem van die eetsituasie, maar geen kind kan gedwing word om te eet nie. Onthou, dit sal verbygaan.

Jy is steeds in beheer van die kos wat aan jou kind voorgesit word en jy het die geleentheid om beperkings op onvanpaste gedrag te stel. Jy moet ’n verskeidenheid kosse aanbied, asook soms jou kind se gunstelinge, maar moenie gereeld haar maaltye met gunstelinge vervang nie. Dan word keuses vir haar roetine en sy weier makliker om te eet wat jy vir haar voorsit.

Op twee moet jou kind al dieselfde kos as die res van die gesin eet. Betrek jou dogter by die voorbereiding van die maaltye, want dit sal haar ’n gevoel van onafhanklikheid gee oor die keuses wat sy kan uitoefen en dan sal sy makliker ’n variasie van kosse aanvaar.

Moenie vra wat sy wil eet nie. Bied haar gesonde keuses soos “wil jy wortel- of koolslaai vir aandete hê?”. Moet haar nie te veel vloeistowwe voor etenstyd gee nie; dit kan haar aptyt onderdruk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees