Met haar ampies gevou en lippies styf toegeknyp kyk syjou stip aan. Sy hou nie van aartappel nie, sal haar lippe nie aan pampoen sit nie en vleis is net eenvoudig sies.

Daar is min dinge wat ’n mamma so lam maak soos ’n peuter wat vol nonsens is en niks wil eet nie. Aan die klein mensie wat beter weet van alles en alles self wil doen, kan ons ongelukkig nie veel verander nie, maar hoe ’n ouer op kleingoed se giere en grille reageer, kan bepaal hoe lank die nonsens aanhou. Volg hierdie sespunt-plan om jou peuter te troef. 

1. Laat haar help

Plant tamatieplantjies, pluk perskes of laat sy by die supermark help om vrugte en groente te kies. Jy kan haar selfs vra om te help klits of roer of sommer net by jou te sit en kuier terwyl jy kos maak. Enige positiewe belewenis sal haar minder bang maak om vreemde kosse te eet.

2. Moet jou nie aan haar steur nie

Soms sal ’n peutertjie weier om iets te eet net om reaksie uit te lok of aandag te kry. As jy ’n ophef van haar fiemies maak, kry sy die aandag wat sy soek en sal sy aanhou om moeilik te wees net om aandag te kry.

Wanneer jou woelwater iets nie wil eet nie, is dit die beste om neutraal te bly en dit amper nie eens raak te sien nie. As sy onverwags iets in haar mond druk wat sy nooit voorheen geëet het nie, maak ook of dit heeltemal normaal is.

Moenie praat oor voor- en afkeure nie – nie joune nie en ook nie hare of die man in die maan s’n nie. Dit kan haar afkeure net nog sterker maak.

3. Moenie na haar pype dans nie 

Die natuurlike reaksie van ’n mamma as haar kleinding nie wil eet nie, is om vir haar iets anders te gee om te eet; een van haar gunsteling-kosse. Solank sy net iéts eet; sy kan tog nie honger gaan slaap nie. Jou kleinding is baie slimmer as wat jy dink en sy sal gougou een en een bymekaartel en twee kry.

Sy sal elke keer kos weier net sodat sy haar gunsteling-kos kan kry, en voor jy weet eet sy dit oggend, middag en aand. As jy slimmer wil wees as jou kind, moet jy nie toelaat dat sy enigiets anders eet as dit wat jy voorgesit het nie, maar maak seker dat jy minstens een kossoort per maaltyd voorsit wat jy weet sy sal eet.

Sy mag kies wat sy wil eet uit dit wat op die tafel is, maar niks anders nie.

4. Stel 'n voorbeeld

Kinders leer deur te kyk na wat pappa en mamma doen. Die beste wat jy dus kan doen is om nie sélf vol fiemies te wees nie, maar ’n groot verskeidenheid kosse te eet – ook nie langtand nie, maar geniet dit regtig.

Jou klein speurdertjie hou jou fyn dop en sal daardie jig trek op jou gesig tussen jou nagemaakte glimlaggies vinnig sien. Maak dus seker jy maak die spinasie lekker gaar, al weet jy sy sal nie eens probeer nie.

5. Moet haar nie dwing of omkoop nie 

Beloon, straf, manipuleer, omkoop, onderhandel en dwang is alles goed wat nie lekker met ’n peuterwilletjie werk nie. Dit sal maak dat sy die kos nog minder wil beproef. Vergeet ook van aandag aftrek met die televisie of vliegtuigspeletjies. Wat baie keer die beste werk, is om vreemde kosse nie vir haar te gee nie, maar net vir jou in te skep.

As sy sien hoe julle aand ná aand smul aan ’n vrugteslaai, sal sy naderhand ook wil hê. As jy iets nuuts wil beproef, noem dit ’n verrassing. Net die woord skep al ’n positiewe verwagting in ’n kinderhartjie.

Gebruik ook die krag van ’n taboe: Vertel jou kind dat dit wat jy gemaak het, eintlik net vir die grootmense is. Sodra dit ’n uitdaging is om dit te kry, sal sy heel waarskynlik daarvan wil hê, en dan kan jy maar ’n happie of twee aan haar afstaan as sy vra.

6. Kry die voedingstowwe in

Tot jou peuter agtergekom het dat pampoen en ertjies regtig lekker is, moet jy seker maak sy kry die voedingstowwe in wat daarin opgesluit is.

Steek dit weg in maalvleis, bredies, souse, gladdejantjies, muffins en enige ander eetbare ding. Gee ook ’n multivitamien-aanvulling om seker te maak dat sy elke dag al die belangrike voedingstowwe inkry.