Mylpale: 1 tot 3 jaar

akkreditasie
Daar gebeur ontelbaar baie dinge met jou kind se liggaam in sy eerste vyf lewensjare. Ons het vir jou ’n nuttige opsomming gemaak van wat daardie lyfie moet kan doen (en soms ook weer moet kan afleer) in die verskeie stadia.

1 tot 2 jaar

Wat kan jou peuter doen?

Jy sal verstom wees om te sien hoe jou peutertjie in hierdie jaar van ’n behendige kruiper na ’n goeie stapper tot byna ’n naelloper vorder. In hierdie jaar bereik jou peuter die volgende bewegingsmylpale. Hy:

  • Begin meer regop stap.
  • Hardloop sonder om te val (of in elkgeval nie so baie nie). Hardloop graag, maar vind dit aanvanklik moeilik om van rigting te verander en te stop, en val gevolglik net neer. Hy leer weldra die belangrike vaardigheid van STOP.
  • Leer om op sy tone te kan staan, en later vir ’n rukkie op sy tone rond te beweeg.
  • Klim trappe, maar hy sit altwee voete op een trap voor hy die volgende een  aandurf.
  • Speel graag en vir lang tye in ’n gehurkte posisie.
  • Balanseer op een voet (vir etlike sekondes) en spring op en af (en val nog soms).
  • Kan van ’n lae trappie af spring.
  • Kan ’n groot bal vang as hy sy arms teen sy bors “in ’n mandjie hou”.
  • Sit gemaklik op ’n klein stoeltjie.
  • Gebruik sy voete en bene om ’n skopmotorfietsie of iets dergelik op wiele aan die beweeg te kry.

Hoe kan jy help?

  • Laat hom so veel as moontlik kaalvoet loop. Só ontwikkel al die belangrike spiere in die voet en tone. As julle skoene moet aantrek, hou dit sag en gemaklik.
  • Bou so veel as moontlik bewegingspeletjies in jul daaglikse spel in. Alle beweging help konsentrasie aan, terwyl grootspier beweging soos kruip en spring goed is vir spiertonus.
  • Tref die nodige voorsorgmaatreëls by hoë trappe en vensters op ’n tweede verdieping. Peuters klim en klouter en ondersoek graag.
  • Gee hom geleentheid om op en af met trappies te klim.
  • Koop daai skopmotorfietse as julle nog nie het nie. Dit is elke sent werd.
  • Speel met ’n bal: rol dit vir hom, gooi dit en laat hy dit gaan haal, vang en skop.
  • Op die klimraam: op hierdie ouderdom geniet kinders dit om teen die glyplank op te klim en op hulle magies af te gly. Later leer hulle om om te draai en op hulle boudjies af te gly. As jou klimraam ’n drom het, moedig jou peuter aan om in en uit te klim.
  • Hou hom vas onder sy armpies en swaai hom in die rondte. WAARSKUWING: wees versigtig om hom nie aan sy hande te swaai nie, want dit plaas geweldige stremming op gewrigte en spiere.
  • “Perdjie ry” – die eeue oue aktiwiteit wat pappas en mammas se beenspiere so goed oefen is ook baie goed vir jou peuter se balans. Sit op ’n stoel, kruis jou bene en laat hy wydsbeen op jou enkel sit terwyl jy sy handjies vashou – en daar galop die perd!
  • Laat hom in en uit ’n hoepel of kartonboks klim.
  • Hardloopspeletjies: jaag en vang hom, of maak of jy vir hom weghardloop en hy moet jou vang.

2 tot 3 jaar

Wat kan jou kleuter doen?

Jou kleuter se beweging raak nou al hoe meer gekoördineerd. Op ’n bewegingsvlak is dit veral sy balans wat in hierdie jaar baie gaan ontwikkel. Hy bereik van die volgende bewegingsmylpale:

  • Gooi ’n groot bal sonder om sy balans te verloor.Klim op ’n stoel, draai sy lyfie en gaan sit in die regte posisie.
  • Kan trappe op- en afklim met alternatiewe voete, en sonder hulp, maar hy hou nog soms aan ’n reling vas.
  • Vaar al hoe beter op skopfietse en kan selfs al die driewiel se pedale begin trap. 
  • As hy spring (byvoorbeeld van ’n lae trappie af), land hy gemaklik op altwee voete.
  • Spring op die plek.
  • Staan eenbeentjie sonder om sy balans te verloor (hoewel vir ’n kort wyle).
  • Vang ’n bal nou met uitgestrekte arms.
  • Hardloop ritmies, met beter balans. Verander gemaklik van rigting terwyl hy hardloop.
    Kan op tone loop vir ’n kort rukkie.

Hoe kan jy help?

  • Laat hom op die maat van musiek beweeg. Dít, sê kenners, versterk onder meer balans.
  • Laat spring hom op die trampolien (maar kom al die veiligheidsmaatreëls na). Verskeie kenners reken daar is min oefening wat ’n kind se balans ’n groter hupstoot kan gee as dié lekker wipmat.
  • Speel gereeld saam bal en moedig hom aan om te skop (met albei voete afwisselend), gooi en vang.
  • Speel die ‘diere-speletjie’ waar jy jou kind vra om te seil soos ’n slang, hop soos ’n hasie, waggel soos ’n eendjie en galop soos ’n perd.
  • Op die klimraam: laat hom aan albei armpies hang. WAARSKUWING: wees daar om hom te vang as hy wil val. 
  • As julle ’n plat swaai het, laat hom op sy magie op die swaai lê terwyl jy hom swaai.
  • Jy kan ook nou hindernisbane bou. Hou dit eenvoudig en laat sy bo-oor en onderdeur hindernisse kruip, spring en loop.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees