Ontlont uitbarstings

akkreditasie
Vloerstuipe kan ongelukkig nie altyd voorkom word nie. As die papaja begin spat, kan hierdie krisisbeheerdewenke 'n bietjie help. 

Die kenners wat altyd aanbeveel dat vloerstuipe liefs geïgnoreer moet word, was seker almal baie lank gelede self ouers. Want hoe kan ’n mens dit ignoreer wanneer boetie die supermark se dak laat lig met sy bloedstollende geskreeu? By die huis kan jy nog so half voorgee dat jy dit ignoreer, maar in die openbaar is dit meestal nie moontlik nie. Hier is dus jou realistiese vloerstuipeplan.

Stel die oorsaak vas

A: Manipulasie 

Probeer jou kind jou met die woedebui manipuleer om iets te koop of iets te doen? Dis gedrag wat jy vinnig wil kortvat voor dit ’n gewoonte raak. Moenie toegee ter wille van ’n bietjie vrede nie. So pluk jy vir jou ’n lat, want as jou kind eers besef het sy kry wat sy wil hê wanneer sy skop en skree, gaan sy dit beslis weer doen. Dit werk mos!

Maak só

By die huis kan jy hierdie soort woedebui beslis ignoreer, of ten minste maak of jy dit ignoreer. Haal diep asem, sê ferm en duidelik dat sy weer na jou toe kan kom as sy kalm is, en loop dan weg. Gee haar eers weer aandag as die bui uitgewoed is.

As die woedebui in die openbaar gebeur, los alles net so en vat jou kind na ’n meer privaat plek soos ’n badkamer of jou motor. Wag dat sy bedaar, maar hou voet by stuk oor die kwessie wat gelei het tot die vloerstuipe. Jy kan sê: “Ek kan sien jy is kwaad, maar ons gaan nie nou lekkertjies koop nie.” As dit lyk of sy nie haar samewerking gaan gee nie, gaan reguit huis toe. As sy mooi bedaar het, kan julle van voor af probeer om jul takie af te handel.

Jy gaan moet diep asemhaal en so kalm moontlik voorkom. Moenie deel word van die drama nie. Moet ook nie dat jou kind sien dat jy verleë voel voor ander mense nie. Ignoreer die bystanders met hul agie-oë.

B: Frustrasie 

Dis moeilik vir kleintjies om selfbeheersing toe te pas. Hul emosies borrel eenvoudig soms oor, veral omdat hulle nie die woordeskat het om hulself mee uit te druk nie.

Maak só

Moenie kwaad word nie. Dit help glad nie. Moenie met jou kind redeneer nie –jy mors jou asem. Moenie afgryse wys, of haar met straf dreig of met ’n beloning probeer omkoop nie. Jy gaan baie verder kom met empatie. Gee tyd vir die bui om hom uit te woed, en maak maar net seker sy maak haarself nie seer nie.

Hou jou stemtoon en lyftaal kalm en gerusstellend. Verwoord haar gevoelens vir haar. “Ek kan sien jy sukkel, en dit maak jou kwaad.” Moedig haar aan om vir jou te probeer sê wat fout is, en kyk of jy kan help met die probleem. As sy heeltemal histeries is, vat haar na ’n ander kamer toe en hou haar styf vas tot sy begin bedaar. Jy kan haar sus of ritmies tik ook, soos toe sy ’n baba was. Prys haar as sy haar self tot bedaring bring en bied ’n slukkie water aan. Gesels dan so ’n bietjie oor wat gebeur het en oor wat sy kan doen om te keer dat sy so kwaad word. Maar oppas om te veel aandag te gee ... dit moenie soos ’n beloning vir die uitbarsting voel nie.

Skadebeheer

Probeer later die aand oordie woedebui gesels. Moenie veroordelend wees nie. Vra en luister aandagtig na wat sy sê, al kan sy nog nie lekker praat nie. So begin sy geleidelik ’n woordeskat ontwikkel vir emosies en begin sy nadink oor ander maniere van optree in moeilike situasies. Dis ook vir haar gerusstellend om te weet dat jy kalm kan bly te midde van haar storm en dat jy haar steeds onvoorwaardelik lief het en dat jy weet waar om grense te stel.

As jy voel jou kind is in ’n fase van besonder baie woedeuitbarstings, probeer ’n punt daarvan maak om haar deur die loop van die dag baie positiewe aandag te gee. Met ander woorde, reageer positief op alles wat sy reg doen. Jou kind wíl jou eintlik gelukkig maak en tevrede stel, en jou positiewe boodskappe wys vir haar die regte paadjie.

Ontduik 'n krisis

Sekere omstandighede hou ’n groot ontploffings gevaar in. As jy hulle kan vermy, sal daar aansienlik minder woedeuitbarstings wees om te hanteer.

Dink ’n bietjie terug oor jou kind se laaste paar woedeuitbarstings; heelwaarskynlik het een van die volgende drie dinge ’n rol gespeel in die chaos:

  • Honger: 'n Honger kind het min geduld. Hou altyd iets byderhand waaraan sy kan knaag, veral as julle winkel toe gaan. ('n Honger ma het ook minder geduld!)
  • Moeg: Jy soek moeilikheid as jy 'n moeë kind op 'n veeleisende uitstappie saamneem. Haar weerstand teen frustrasie gaan baie laag wees. Hou uitstappies kort en gaan huis toe voor sy uitgeput raak. 
  • Angs: As dit vir jou kind voel asof haar wêreld onveilig is, kan vloerstuipe meer algemeen wees. Die koms van 'n nuwe baba, 'n nuwe skooltjie of 'n nuwe huis kan alles aanleiding gee tot verhoogde angs. Hanteer met geduld en liefde. 

Onthou, vloerstuipe is ’n normale verskynsel. Dis nie ’n teken dat jy ’n slegte ouer is nie. Soos met enige ontwikkelingsfase sal jou kind mettertyd beter tegnieke leer om die probleem te bowe te kom en uitbarstings sal geleidelik afneem, tot jy eendag besef julle het ’n jaar laas een gehad!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees