Uiteindelik breek die groot dag aan: potjielesse! Jy is slaggereed, maar is jou kleinding? Potjielesse
kan so glad soos seep verloop of dit kan ’n nagmerrie wees, afhangende van jou kind se persoonlikheid.

Sommige kleingoed word so steeks soos donkies as dit kom by toiletmaniere. Ander raak dit so gou baas dat jy kan nie verstaan hoekom mense soveel drama daarvan maak nie.

Stap 1: Wat is dit?

Laat jou kleinding van kleins af saam met jou toilet toe gaan sodat sy aan die idee gewoond raak en kan leer deur jou dop te hou, sê Ann Richardson, medeskrywer van die boek Koester Jou Kleuter
(Metz Press). “Verwoord altyd vir haar wat jy doen (‘Mamma piepie nou’) en nooi haar om die toiletpapier af te trek of jou die toilet te help trek.”

As jy ’n seun het kan jy jou man vra om hom saam te nooi toilet toe. “So leer hy dat seuns dit anders doen as meisies.” Skaf solank ’n potjie aan – maak seker dis stabiel en prakties – en laat hom daarop sit, sommer met sy klere aan. Hy kan ook sy teddie daarop laat sit. Verduidelik dat hy dit kan gebruik as hy ’n bietjie groter is.

Stap 2: Is hy gereed?

Waak daarteen om te vroeg met potjielesse te begin. Jou kleinding se senustelsel moet eers ver genoeg ontwikkel wees dat sy die tekens van ’n vol blaas kan herken en dit kan beheer deur te knyp tot sy by die potjie is.

Gereedheid vir potjielesse kan nie aan ouderdom gekoppel word nie, hoewel die meeste kinders tussen 18 maande en twee jaar gereed is. Die eerste teken dat jou peuter gereed is, is as sy wys dat sy bewus is wat gebeur tydens of ná ’n stoelgang, sê Ann. “Sy kan dalk woorde soos ‘poefie’ of ‘piepie’ sê en sy kan kriewel en aan haar agterstewe vat, of ophou waarmee sy besig is en stil word terwyl sy druk. ”As sy nog nie self sê wat sy doen nie, kan jy die woorde sê sodat sy die verband kan trek.”

Nog ’n teken is as jou kleinding se doek vir langer tye droog bly. Sy moet self haar broekie kan aftrek voor jy met lesse kan begin.

Stap 3: Kies jou tyd slim

Kies ’n tyd wanneer jy taamlik ontspanne is en dus die geduld sal hê om jou kleinding deur die nuwe leerproses te help. Moet potjielesse verkieslik nie aanpak midde-in ’n tyd van groot verandering in jul lewe nie.

Die somer is ideaal, bloot omdat kinders dan minder klere dra, wat die aan- en uittrekkery makliker
maak. As dit mooi weer is, kan jy jou kleinding kaalbas buite laat loop sodat sy kan sien en voel as dinge gebeur. So sal sy makliker die verband kan tref tussen die sensasies van haar lyf en die eind- resultaat.

Stap 4: Dis lestyd

Koop mooi onderkleertjies met haar gunsteling-karakters op en verduidelik vir jou japsnoet wat jy wil hê sy moet doen: “Ons gaan vandag ’n onderbroekie aantrek. Mamma wil hê jy moet nou in die potjie begin piepie.”

Sit die potjie waar dit vir haar maklik bereikbaar is. Laat haar op die potjie sit en kyk of daar iets uitkom. Prys haar as sy suksesvol is. Soms help dit om haar vooraf water te laat drink sodat haar blaas vol is. Laat haar kaalbas of in haar onderklere loop en herinner haar kort-kort daaraan om toilet toe te gaan, maar hou dit ontspanne en vriendelik, sê Anne.

“Jy moet bereid wees om elke keer saam badkamer toe te gaan. Moenie ontsteld raak oor plassies op die vloer nie – sy sal uiteindelik die verband raaksien tussen die plasse en die gevoel dat sy toilet toe moet gaan, en sal vir jou sê as sy moet gaan.”

Wenke wat kan help

  • Maak seker dat jou kind klere dra wat sy maklik aan en uit kan trek.
  • Stel ’n alarm om jou te herinner om haar uurliks potjie toe te vat.
  • As julle uitgaan en jy is bang vir glipsies, trek vir haar oefendoeke aan. Dis doeke wat soos broekies lyk en werk.
  • Hou boekies byderhand om haar te help om op die toilet te ontspan terwyl sy wag dat iets gebeur. Belê gerus in boekies oor potjielesse soos Martie Kruger se Tatta, Doeke! (Lapa) of Mag Ek in Jou Doek Loer? deur Guido van Genechten (Human & Rousseau).
  • Moenie jou kleinding dwing om ure lank op die potjie te sit nie. Vyf minute is lank genoeg – as daar niks gebeur nie, probeer later weer.
  • Moenie angstig raak as jou kind sukkel om potjielesse baas te raak nie – sy sal dit aanvoel en dit sal haar ook angstig maak.
  • Moenie haastig raak of jou spruit met ander kinders vergelyk nie. Sommige kinders het meer tyd
    nodig. Die meeste kinders is teen drie jaar droog.

Dilemmas

Geen poef in die potjie

Moenie bekommerd wees as jou peuter steeds vra om nommer twee in ’n doek te doen nie. Dis normaal en sal nie vir altyd aanhou nie, sê Ann. Sommige kinders sal hul stoelgang vir dae terughou as jy weier om ’n doek aan te sit. Dit word ’n bose kringloop omdat dit hardlywigheid kan veroorsaak, wat op ’n pynlike stoelgang sal uitloop.

Hy huil as ek die toilet spoel

Vir sommige kinders is dit ontstellend dat jy hul poef in die toilet afspoel. Dit voel asof jy ’n stukkie van hulle wegspoel. Vra haar of sy dit self wil wegspoel en verduidelik hoekom jy dit wegspoel. Anders kan jy wag tot sy besig word met iets anders voor jy dit wegspoel.

Sy was droog – en nou is sy nie meer nie

Dit gebeur soms dat kinders terugval. Dit kan verband hou met veranderinge in haar lewe wat haar onseker laat voel. Selfs iets soos siekte kan dit veroorsaak. Regressie is algemeen met die koms van ’n nuwe boetie of sussie, ’n trekkery, of selfs net as Pa of Ma ’n ruk lank van die huis af weg was. Moenie ’n ophef daarvan maak nie en hanteer dit kalm – die probleem verdwyn gewoonlik vanself.

Sy speel met haar poef

Dis dalk grillerig, maar doodnatuurlik, want sy is nuuskierig oor wat uit haar lyf kom. Moenie haar skaam laat voel daaroor nie, maar sê dis nie gesond of aanvaarbaar nie en dat haar poef eerder in die toilet hoort. Spoel dit dan saam weg. Vertel ook sommer vir haar hoe belangrik dit is om altyd haar hande te was nadat sy die potjie gebruik het.

Die potjielesse werk nie

Jy het dalk begin met potjielesse onder die indruk dat jou kleinding gereed is en nou kan sy dit glad nie baasraak nie. Dan moet jy maar die projek eers op die lange baan skuif. Gee haar ’n maand of twee kans voor jy weer probeer.

Algemene vrae

Moet ’n seuntjie sit of staan?
Baie seuntjies sal aanvanklik verkies om op die potjie of toilet te sit en piepie eerder as om regop te staan en te mik. Dit is heeltemal normaal en aanvaarbaar, sê Ann. “Verseker hom dat dit in die haak is en probeer om nie druk op hom te plaas om dit op die ‘regte manier’ te doen nie.” As hy later wel sy pa wil na-aap, is dit die moeite werd om hom te help oefen om raak te piepie.

Sit ’n stukkie gekleurde sneespapier in die toiletbak of potjie en help hom om te mik om dit raak te piepie. Jy kan ook Cheerios-pap of enkele Rice Krispies vir die pret in die potjie sit.

Moet ons die groot toilet of ’n potjie gebruik?
Dis ’n persoonlike voorkeur. Sommige kinders verkies dit om uit die staanspoor soos Mamma en Pappa op die groot toilet te sit; dan is dit die moeite werd om te belê in ’n spesiale toilet-binnering wat die toilet verklein sodat jou aspatat nie inval nie. Maak ook seker daar is ’n stewige trappie sodat sy met gemak op die toilet kan kom en sit. Ander kleingoed vind die groot toilet intimiderend - maak dan seker hul potjie is stewig en stabiel.

Wat van daai nagdoek?
’n Teken dat jou kind gereed is om snags sonder ’n doek te slaap, is as sy ’n paar oggende ná mekaar droog wakker word. Hou ’n waterdigte laken op die bed om teen glipsies te beskerm. Glipsies is tot so
vyf jaar oud nog normaal.

Goue reël

Moet nooit jou kind straf as jy 'n glips het nie. Sê: O gaats, het jy 'n glipsie? Kom trek gou droog aan. Volgende keer moet jy onthou om in die potjie te piepie."

Onthou

Jy sal aan die begin altyd jou kleinding se boudjies moet afvee, want hy sal dit nie self kan doen nie. Mettertyd kan jy jou dogterjie leer dat sy haarself altyd van voor na agter moet afvee, anders kan sy 'n infeksie kry. Leer jou seuntjie om te wag tot die gedrup ophou voor hy sy broekie optrek.