Resepte vir droomland

akkreditasie
Baby sleeping, baba slaap, droom, slaapwenke
Baby sleeping, baba slaap, droom, slaapwenke
'n Paar superwenke om jou nuwe kleinding droomland toe te stuur.

Wat om te verwag

Die gemiddelde pasgeborene slaap baie: tussen 13 en 16 uur per dag. Die vangplek is dat hy nie aanmekaar slaap nie. Die meeste kleingoed word elke drie tot vier uur wakker vir voedings, maar daar is ook dié wat elke uur wakker word, terwyl ander weer uit die staanspoor snags deurslaap.

’n Tipiese patroon in die eerste paar maande is ’n langer slaapsessie in die 'n Paar superwenke om jou nuwe kleinding droomland toe te stuuroggend, ’n paar kort slaapsessies in die middag, en dan weer langer slaapsessies in die nag. Jou baba se slaaproetine kan egter ook radikaal hiervan verskil.

Die beste raad is om vir byna enigiets gereed te wees. Weet ook dat net omdat baba aanvanklik snags goed slaap, dit geen waarborg is dat dit sal voortduur nie. Iets soos siekte of ’n verandering in roetine of omgewing kan ’n invloed hê op jou kleinding se slaappatroon.

Wieg of neerlê?

Slaapkenners beveel aan dat jy jou baba neerlê terwyl sy vakerig maar nog nie vas aan die slaap is nie. So kan sy leer om sonder jou hulp aan die slaap te raak. Die rede is dat as jy jou baba saans aan die slaap wieg, sy dit later steeds sal verwag, ook as sy in die nag wakker word.

Aan die ander kant is daar min dinge so bevredigend as om jou baba aan die slaap te sus, en dit bly dus jou keuse.

Dag en nag?

Baie nuwelinge sukkel om te onderskei tussen dag en nag, en as hulle dié twee omruil, is die pajamadril uitputtend.

Hier is hoe jy jou kleinding kan help:

Moenie baba se doek in die nag ruil tensy dit absoluut noodsaaklik is nie, soos as dit vuil is of jy agterkom dit hou haar wakker.

Hou die kamer donker in die nag as jy haar moet voed of haar doek moet ruil – ’n dowwe nagliggie is voldoende.

Probeer baba bedags stimuleer deur tussen voedings en ná slaaptyd met haar te gesels en te speel, maar skakel alle stimulerende aktiwiteite in die nag uit: Moenie onnodig met haar gesels of enigsins met haar speel nie; dit kan haar onnodig wakkerder maak.

Moet haar nie snags vir voedings wakker maak nie, tensy sy sukkel om gewig aan te sit. Voed haar wanneer sy self wakker word.

Skep ’n vaste roetine voor haar nagslaap deur haar byvoorbeeld eers te bad, dan te voed, dan doek te ruil, dan lekker musiek aan te sit en haar te gaan neerlê. Dit vorm ook die basis van ’n latere slaaptydroetine.

Veiligheid is ’n prioriteit

Moet nooit jou baba op haar magie laat slaap nie, tensy jou dokter dit voorgeskryf het. Navorsing het gewys babas wat op hul maag slaap, loop ’n baie groter risiko vir wiegiedood. Laat jou baba liewer op haar ruggie of sy slaap.

Ander veiligheidsmaatreëls:

  • Moenie jou baba te warm toemaak nie – dit verhoog ook die risiko vir wiegiedood.
  • Vermy speelgoed en opgestopte diertjies in die bed met slaaptyd.
  • Moenie by jou baba of in die huis rook nie.
  • Moenie vir baba ’n duvet of kussing gee nie. ’n Slaapsakkie is ideaal.
  • Laat jou baba aan die onderkant van die kot lê sodat sy nie met haar koppie onder die komberse kan ingly nie.

Waar jou baba slaap, hang af van jou voorkeure.

In sy eie kamer. Voordeel: Sommige babas slaap beter in hul eie kamer. Dan is ’n monitor nuttig sodat jy dadelik kan hoor as jou baba huil. Nadeel: Jy moet na ’n ander vertrek gaan as jou baba huil, wat jou eie slaap onderbreek.

Langs die ouers se bed. Voordeel: Jou baba is byderhand vir voedings. Nadeel: Sommige babas slaap ligter by hul ouers in die kamer.

In die ouerbed. Voordeel: Borsvoeding is baie maklik en jy verloor minder slaap. Nadeel: Dit kan gevaarlik wees vir jou baba as basiese veiligheidsmaatreëls nie gevolg word nie.

Superwenke

Verskillende babas reageer verskillend, maar as jou baba ’n swak slapertjie is, beproef gerus die volgende.

Styf toegedraai: Sommige babas slaap beter as hulle styf in ’n kokon toegedraai is omdat dit hulle aan die baarmoeder herinner en hulle dus veilig laat voel.

Laventelbad: Laventel het kalmerende eienskappe. Gooi ’n druppeltjie laventelolie by haar badwater voor slaaptyd.

Musiek: Speel elke aand met slaaptyd rustige, kalmerende musiek. Dit skakel agtergrond-geluide uit en help haar om minder alleen te voel.

Wit geraas: Die geluid van ’n haardroër, wasmasjien, motorbande op die teer of die see kan help om baba aan die slaap te sus. Of sê net “sjj-sjjj”!

Moedertroos: Jou liggaamsgeur stel jou baba gerus. As sy snags dikwels wakker word, sit een van jou kledingstukke in die kot (maak net seker sy kan nie daarin verstrengel raak of versmoor nie) sodat sy jou naby haar kan ruik.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees