Speelskool toe met Aspatat!

akkreditasie
pre-primary school
pre-primary school
Het jou huis oornag te beknop geraak vir jou peuter se ondersoekende gees? Of moet jy terug werk toe en daar is niemand wat bedags na hom kan omsien nie? Dan is dit dalk tyd om ’n speelskool te oorweeg ...

Boetie is jou eersteling en jy wil ’n superma wees. Maar dis tyd om weer te begin werk en ouma sien nie kans om heeltyds oppasser te speel nie. En soms wonder jy of jy en ouma saam hom besig genoeg kan hou, want die mannetjie kom verveeld voor en jy’s skoon gedaan soos jy probeer byhou.

Nou lê jy snags en wonder of ’n kleuter- of speelskooltjie die oplossing vir julle almal is. Maar hoe weet jy of jou kind gereed is, en hoe kies jy die regte skool?

Die sosiale vraag

“Baie ouers glo hulle behoort hul kinders tussen twee en drie kleuterskool toe te stuur om beter sosiale vaardighede te kweek, maar voor driejarige ouderdom is die ouerhuis eintlik die beste plek vir ’n kind,” sê die Pretoriase sielkundige Magdaleen Carstens.

“Die werklikheid is egter dat ma’s móét werk en daar is nie altyd iemand betroubaars by wie jy jou kind kan los nie. Dan moet jy hom maar by ’n groepstruktuur laat inskakel.” Dis moeilik om vas te stel of jou kind gereed is, maar ’n kind wat tuis geborge voel, se aanpassing in ’n skooltjie is veel makliker, sê Magdaleen.

Kinders moet van jongs af sosialiseringsvaardighede en interaksie met ander leer, sê Amy Goodlace, vroeëkinderjare-opvoedingspesialis by die Crawford-skole. “’n Speelgroep is ideaal. Dit stel kinders in staat om ’n paar keer per week saam met ander te speel en dié vaardighede te ontwikkel.”

Berei jou voor

Wees voorbereid daarop dat jou kleinding siek gaan word. En nie net een keer nie! Kieme baljaar in ’n kleuterskool en kinders tussen die ouderdom van een en twee se immuunstelsel is nog glad nie goed ontwikkel nie. Die peuters wat aan meer as vyf kinders blootgestel word, word die siekste. Ongelukkig kan ’n mens ’n dagmoeder of kleiner groepstruktuur nie so goed monitor soos ’n kleuterskool nie en as jy huiwerig is om jou kind aan die genade van een of twee versorgers in ’n huisopset oor te laat, moet jy dalk tog eerder ’n kleuterskool oorweeg.

Nog iets waarop jy voorbereid moet wees, is dat jy moontlik belangrike mylpale gaan misloop.
“Soms word daardie eerste woordjie by die skool geuiter en dit is nie vir ’n ma lekker nie,”  sê Magdaleen. “Die pluspunt is egter dat jy weer volsinne kan praat en kans kry om jou batterye te herlaai.”

As jy kan, laat jou kind aanvanklik net halfdag kleuterskool toe gaan. Dis vir hom nie so lank nie, jy kry ’n blaaskans, en hy word stelselmatig aan die groep gewoond en begin selfstandig raak.

Wanneer gooi ek tou op?

Elrien du Plessis, ’n grafiese ontwerper van Pretoria en ma van twee, het self ervaar hoe ’n groepstruktuur verskillend vir kinders kan werk. Michelle was 20 maande oud toe sy vir die eerste keer kleuterskool toe is.

“Sy het die eerste paar dae vreeslik gehuil, maar die hoof het my aangeraai om haar drie dae kans te gee. Teen die derde dag was sy dolgelukkig. Sy het dadelik ’n maatjie gemaak met wie sy tot vandag steeds goeie vriende is.”

Met Shaun, haar boetie, was dit ’n ander storie. “Hy is op 18 maande die eerste keer kleuterskool toe en drie dae se hartseer het drie weke geword. Drie weke het drie maande geword ...” Michelle en Shaun het in ’n stadium dieselfde onderwyseres gehad. Waar Michelle onder die juffrou se sorg gefloreer het, het Shaun gekwyn. “Hy het net nooit aangepas nie en die skeidingsangs was vir hom (en my) net te veel. Hy is ’n sensitiewe kind en ’n kleuterskool is skrikwekkend vir ’n kind wat nie agtergrondgeluide kan uitskakel nie. Sy balans is ook versteur as gevolg van ’n oorinfeksie. Maats het nog altyd van Shaun gehou, maar hy wou net nie deel wees nie.”

Ten einde raad het Elrien hom na ’n opvoedkundige sielkundige geneem.

Die sielkundige het bevind dat hoewel hy intellektueel op peil is, hy emosioneel ver agter maatjies van sy ouderdom is. Sy het voorgestel dat hulle hom uit die kleuterskool haal en hy is nou terug by die huis waar Elrien se huiswerker nou bedags na hom omsien.

“Die sielkundige het ons gerusgestel dat ons nie die pyniging net uitstel nie en dat sy aanpassing in die laerskool veel makliker sal wees omdat daar meer orde en struktuur is, iets wat Shaun nodig het.”

Maar hoe weet ’n mens wanneer om deur te druk en wanneer nie?

Wees bewus van jou kleinding se gemoedstoestand. Gun hom tyd, maar tree op as jy bekommerd raak. “Peuters kry dikwels skeidingsangs tussen 20 en 24 maande. Neem dit in ag en maak seker dit word reg hanteer,” sê Magdaleen.

Skeidingsangs is deel van normale ontwikkeling, maar ’n mens kan dit maklik as ongelukkigheid by die skool interpreteer en jou kind dan onnodiglik uit die skool neem. Waarna jy moet oplet, is die gereeldheid en intensiteit van sy skeidingsangs. Huil hy ’n paar minute lank wanneer jy ry, of die hele dag vir weke lank?

Amy sê dis belangrik dat die kind nie getraumatiseer word nie. As hy goed op die kleuterskool voorberei is en verskeie benaderings gevolg is om probleme uit te stryk en dit werk steeds nie, stel vas of die knoop by die instelling of jou kind se gereedheid lê. As die kleuterskool die probleem is, kan jy ’n ander plek beproef. Maar as jy vermoed dit gaan oor jou kind se emosionele gereedheid, is die beste plan waarskynlik om hom uit te haal, ’n paar maande te wag en die situasie dan te  herevalueer. “Soms is al wat jou kind nodig het, ’n paar maande om emosioneel ryper te word,”  sê Amy.

Soek só die regte skool

Jy gaan nooit regtig weet watter skool die regte skool is nie, sê die Pretoriase sielkundige Magdaleen Carstens.

Maar een van die betroubaarste metodes om uit te vind, is om te gesels met ander ouers wie se mening jy vertrou.

Jy moet vasstel of die speelskool by die Departement van Gesondheid geregistreer is en of die onderwyseres en personeel die nodige kwalifikasies (soos noodhulpopleiding) het.

Maak ook seker die skool is in ’n veilige omgewing en dat daar genoeg geriewe soos toilette, geskikte toerusting, speelgoed en ’n slaapafdeling is.

Vra uit oor die onderwyseres en maak seker die verhouding tussen kinders en oppassers is voldoende sodat elke kind die aandag kan kry wat sy verdien en dat die personeel nie oorwerk is nie.

Hier is ’n lysie eienskappe waarvolgens jy die skool kan beoordeel:

  • Vind uit of daar musiek in die klas gespeel word om haar ouditief te help ontwikkel. As daar ’n televisiestel in die speelkamer is, hou verby. Dikwels word die kassie ingespan as kinderoppasser en word kinders visueel pleks van ouditief gestimuleer.
  • Maak seker die personeel wat met jou kind werk, praat haar taal vlot sodat optimale taalontwikkeling kan plaasvind.
  • Daar moet verskeie aktiwiteite met teksture soos sand, klei en water wees – dit bevorder haar tasontwikkeling. Dit is ook belangrik om te kyk hoe groot haar speelarea is en of daar gepaste (en veilige) klouterapparaat en fietsies is om haar motoriese ontwikkeling te stimuleer.
  • ’n Kind moet emosioneel geborge voel. Kyk na die omset van personeel aangesien personeel wat kom en gaan, jou kind se gevoel van sekuriteit kan bedreig.
  • Vra uit oor die skool se roetine. Peuters floreer op roetine.
  • Ondersoek die skool se higiëne. Vra hoe gereeld die speelgoed gewas word en hoe gesteld die personeel is op hande was.
  • Kyk of die personeel wat met jou kind gaan werk, emosioneel met die hulp van gesigsuitdrukkings kan kommunikeer, omdat peuters hierop staatmaak.
  • Besluit of die skool prakties geleë is sodat jy nie later gaan moedeloos raak met die afstand nie.
  • Besoek die skool sonder ’n afspraak om ’n gevoel te kry van wat regtig daar aangaan. Vra jou af: Word daar geskree? Is dit rustig? Speel daar agtergrondmusiek? Hoe lyk die skool se sekuriteit?

Doen die volgende om dinge vir JULLE te vergemaklik

As sy nie daaraan gewoond is om weg van jou af te wees nie, laat haar ’n paar dae saam met ’n kinderoppasser of familielid deurbring. Los haar die eerste paar dae net ’n uur of twee lank by die skool of bring die eerste paar dae saam met haar daar deur as dit moontlik is.

Die meeste preprimêre instellings werk met ’n voorspelbare roetine wat speeltye, slaaptye, versnaperingstye en etenstye insluit. As julle nie roetine-mense is nie, vestig maar vooraf ’n mate van roetine deur haar maaltye elke dag op dieselfde tyd voor te sit.

Berei jou kleinding voor op die skool. Wys haar haar klassie en praat dinge deur, al dink jy sy verstaan dit nie. Verduidelik dat Mamma gaan werk en dat dit nou haar nuwe skool is. Moet haar nie net een dag in ’n vreemde omgewing gaan aflaai nie.

Wys haar jy het baie selfvertroue – as jy self onseker voorkom, sal jou kleinding dit aanvoel en selfs banger wees. Die belangrikste ding wat jy kan doen, is om self positief te wees oor die ervaring. Glo dat jy die beste vir jou kind doen.

Laat haar haar eie skoolsak uitsoek en jou help om haar kospakkie in te pak.

Sê altyd liefdevol tot siens by die skoolhek; moenie ongesiens wegglip nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees