Uit Andalene Salvesen se boek: A Brand-New Child in 5 Easy Steps.

Hoe jonger jou kinders is, hoe strenger en fermer behoort jul grense te wees. Namate hulle ouer word kan jy die leisels geleidelik verslap, maar dít kan net werk as dit met verantwoordelikheid en respek gepaardgaan. Jy kan nie met slap leisels wegspring nie – kinders beskik nie oor die nodige insig om sulke vryhede te hanteer nie – en dan verwag om hulle in die tienerjare weer voor stok te kry wanneer hulle onwyse besluite neem wat swaarder gevolge dra nie. ’n Slim ouer sal streng beheer toepas, geleidelik skiet gee en deurgaans wysheid aan die dag lê.

Almal het ’n ouerskapstyl wat deels deur hul persoonlikheid en deels deur hul ouers se manier van ouerwees (of nie wees) beïnvloed word. Die meeste mense kies om hul ouers se voorbeeld te volg, of doen presies die teenoorgestelde. Watter roete hulle ook al kies, hulle verwysingsraamwerk is gebaseer op hul persoonlike ervaring en nie een van die twee roetes is noodwendig reg of verkeerd nie. Om ouerwees te oorleef, het jy vyf verskillende ouerskapstyle nodig. Hier is hulle– kyk of jy jou herken.

#1 Versorger 

Vanaf geboorte het kinders ’n ouer nodig wat vertroetel. Dit is baie belangrik vir hul ontwikkeling en gevoel van geborgenheid. Babas het nodig om in die eerste jaar van hulle lewe vertroue te ontwikkel. Daar moet in al hul behoeftes voorsien word. Honger, pyn en ongemak moet voorkom word en hulle moet vertroetel en oorlaai word met liefde en aandag. Hulle het ’n ongelooflike hoeveelheid oogkontak en een-tot-een-interaksie nodig, veral in die eerste 18maande. Versorgerouers geniet dit om hul baba te vertroetel en te beskerm. Hulle is inskiklik teenoor hul kind, voorsien in al haar behoeftes en gee toe aan alles waaroor sy protesteer.

#2 Sammajoor

Kinders se behoeftes verander egter baie vinnig. Eiewilligheid en vloermoere steek hul lelike koppies uit en ma en pa moet sterk staan. Kinders jonger as ses jaar het ’n ferm benadering nodig. Ouers moet hul outoriteit as ouers vestig en ferm, voorspelbare grense in plek hê. Jong kinders voel veilig in so ’n omgewing.

As jy ’n kind te veel vryheid gee, sal sy haarself seermaak. Sy moet beskerm word teen gevaar, veilig gehou word en aangemoedig word om te groei en sy moet gesond wees. Te min vryheid veroorsaak weer rebelsheid en ontmoedig hulle om risiko’s te waag. Hierdie ouerskapstyl is, meer as enige ander tyd in haar lewe, veral vir kinders jonger as ses jaar relevant aangesien sy nie die insig of ervaring het om goeie besluite te neem nie. Sodra sy haar aan jou reëls onderwerp, leer sy om dit by haar reeds geïnternaliseerde grense te integreer.

Jou kind leer nou om haarself aan gesag te onderwerp, en grense en die gevolge wat die oorskryding daarvan inhou, te aanvaar. Jy is die eerste regering waaraan jou kind haar moet onderwerp. Ná jou kom die onderwysers, dan haar werkgewer, en uiteindelikdie landsregering. Iewers gaan iemand haar in die pas dwing. Jou huis verskaf ’n liefdevolle omgewing waarin sy kan leer om ’n gesonde respek vir gesag te hê.

Dit is uiters belangrik om ’n kind in hierdie stadium goeie maniere te leer want dit word lewenswaardes vir die toekoms. Kinders in hierdie ouderdomsgroep (jonger as ses) verander hulle gedrag gewoonlik wanneer dit deur eksterne faktore soos straf en beloning gemotiveer word. Dit kan die vorm van sterkaarte, ’n strafhoekie of pak slae aanneem. Die gesprek wat dit in haar kop aan die gang moet sit moet iets wees soos, “Ek gaan nie dit doen nie, want dit gaan eina maak,” of “Ek gaan dit doen want dan gaan ek ’n sterretjie kry!"

Hierdie ouerskapstyl is egter nie toepaslik wanneer ’n mens op ’n gereelde basis met tieners werk nie.

#3 Onderwyser of bestuurder

Hierdie ouerskapstyl is soortgelyk daaraan om ’n bestuurder te wees. Soos ’n onderwyser hou die ouer toesig oor en bestuur dag-tot-dag aktiwiteite. Hy help die kind om eienaarskap van ’n probleem te aanvaar en om doelwitte te stel en bereik. Hy stel die voorbeeld wat selfdissipline en lewensvaardighede betref. ’n Kind moet in hierdie stadium nie uit die verknorsing gehelp word nie, maar eerder die gevolge van haar dade dra. Dit is oor die algemeen van toepassing op kinders tussen ses en 12 jaar oud.

Die grense is ’n bietjie wyer as in die sammajoor-fase, wat groter verantwoordelikheid en meer vryheid van keuse toelaat. Ouderdomsgeskikte onafhanklikheid word aangemoedig en die natuurlike gevolge van aksies eerder as strafhoekie tyd word as dissiplinêre instrument gebruik. Interne grense begin ook toeneem. In dié stadium wil hulle weet dat hulle sterk en bevoeg is. Hulle hou nie daarvan om ander teleur te stel nie, en moet aanhoudend gerusgestel word.

In dié stadium word kinders deur konvensies soos om goedkeuring te wen, gemotiveer om hulle gedrag te verander. Hulle sal redeneer: “Ek sal dit nie doen nie, want my pa sal so teleurgesteld in my wees.”

Nou speel die groep waarvan hulle deel uitmaak, ’n groot motiverende rol in gedragsverandering. Later beïnvloed reëls van die breër gemeenskapverandering. Die boodskap wat hulle waarskynlik dan sal motiveer sal iets wees soos: “In ons groep steel niemand nie.”

#4 Afrigter 

In die tienerjare het kinders die hulp van ’n afrigter nodig om hulpbronne vir projekte, sport, huiswerk en so meer te bekom. Wanneer jy egter aanhou om vir ’n kind te gee sonder om grense te stel, kan sy begin dink sy is geregtig om alles op ’n skinkbord te kry sonder om self ’n vinger te verroer.. Maar as die grense te eng is en jy te min gee, sal sy net moed verloor. Dan het sy die ontwikkeling wat goeie grense in jou jonger jare meebring, misgeloop.

Die grense kan in hierdie stadium verbreed word namate respek vir die grense van ander geopenbaar word en verantwoordelike gedrag ten toon gestel word.

Die afrigter se doel is om vrae aan die kind te stel wat haar sal lei na die regte antwoord. [Die groot Amerikaanse voetbalgees] Tom Landry het eenkeer gesê:“ ’n Afrigter laat mense dinge doen wat hulle nie regtig wíl doen nie, sodat hulle op die plek kan uitkom waar hulle wil wéés.” Ouers moet dieselfde vir hul kinders doen.

In die tienerjare beïnvloed ander waardes hul gedrag, byvoorbeeld, hul spiritualiteit. Hier sal hulle dalk soos volg redeneer: “Ek sal nie steel nie want die Bybel leer dat dit verkeerd is.” Hul eie reëls en waardes kom ook na die oppervlak en beïnvloed hul gedrag en/of besluite. Hulle sê waarskynlik iets soos volg vir hulself: “Ek sal nie steel nie, want ek dink nie dis reg nie.”

Namate hulle ouer word en volwassenheid bereik, is die hoogtepunt van ontwikkeling wanneer hul gedrag bepaal word deur wie hulle is. ’n Geïnternaliseerde waarde is vasgelê. Hulle sal sê: “Ek sal nie steel nie, want ek is nie ’n dief nie.”

#5 Vriendskap

Wanneer kinders die huis verlaat, verander jul verhouding in vriendskap. Voor hierdie stadium kon jy vriendelik wees en pret hê saam met hulle, maar ’n mens kan nie jou vriend dissiplineer nie. Hulle het tot dusver ’n ouer nodig gehad, nie ’n vriend nie. As hulle besluit om in jou huis te bly pleks van uit te trek, moet nuwe, duidelike grense in plek kom.

Dis 'n proses 

Daar is geen regte of verkeerde ouerskapstyl nie. Die sleutel is om jou natuurlike ouerskapstyl aan te pas by die toepaslike styl wat jou kind in ’n gegewe stadium nodig het. Soms gaan dit vir een ouer makliker wees as vir die ander, maar byt vas, die makliker dae kom weer. As jy van nature die sammajoor is en jou maat die sagter een, help hom, maar onthou dat jy in die tienerjare die een gaan wees wat hulp nodig gaan hê om die afrigter te wees. ’n Tiener het nie ’n sammajoor nodig nie, maar in dieselfde asem het ’n driejarige nie ’n afrigter nodig nie.

Dis nie jou werk om jou kinders gelukkig te maak nie, maar eerder om hulle te leer om wyse besluite te neem.

Wanneer ’n baba in die baarmoeder is, is hy geheel en al van sy ma afhanklik. Die afhanklike stukkie mens word mettertyd ’n onafhanklike tiener, wat ’n belangrike tree op die pad na volwassenheid is. Dit moet dan verder in ’n interafhanklikheid tussen julle ontwikkel wat ’n teken is van gesonde volwassenheid. Dit beteken ons het mekaarnodig binne die opset van gesonde menseverhoudings. Dit beteken egter nie dat my geluk afhanklik is van enige iemand anders nie. Ek is in beheer van my eie geluk.

Daarom moedig ons ouderdomsgeskikte gedrag aan soos dat hulle in hul eie bedjies slaap, bottels en fopspene weggooi en hulle self aantrek. Dit vorm uiteindelik deel van ’n proses om onafhanklike jong mense wat selfvertroue het en self goeie, wyse besluite kan neem, groot te maak. Kinders met ouers wat gesonde grense het, sal beter daartoe in staat wees om hul eie gesonde grense te vorm.

Klik hier om die boek te koop.