Tien gebooie van peuterdissipline

akkreditasie
Dis belangrik vir ‘n peuter om sy eie identiteit te ontwikkel. Dit doen hy deur ‘nee’ te sê vir opdragte en grense te toets...

Plaas die pret terug in peuter

'n Peuter leer om 'n fyn lyn te handhaaf tussen erge onafhanklikheid en die veilige wêreld van ‘n baba. Hier is tien dinge wat jou as ouer kan help om hierdie uitdagende stadium te hanteer.

1. Leer jou kind luister

Volgens die gewilde kinderkenner Dr. Don Roos is die peuterstadium die beste tyd om jou kind te begin leer luister. “Vat aan jou kind wanneer jy met hom praat,” sê hy. “Fisiese en oogkontak is baie belangrik. Vra jou kind om die kort opdrag wat jy gegee het, te herhaal. ‘n Kind wat kan luister maak dit vir ander mense, by die kleuterskool of elders, makliker om hom te help.”

2. Wees realisties

Onthou dat jou kind nog klein is en pas jou verwagtinge daarby aan. Volgens Roos moet ‘n mens min reëls hê. “Hoogstens drie tot vier basiese reëls wat in vele situasies van toepassing is.” Dit beteken dat jou kind ‘n regverdige kans het om die reëls te onthou. ‘n Voorbeeld hiervan is die reël dat kos slegs by die kombuistafel geëet mag word. So hanteer jy kinders wat krummels in kamers los, stukke vrugte op jou sitkamerbank smeer of ‘n geëtery voor die televisie – alles met een reël.

3. Maak jou huis peutervriendelik

“Alle slim kinders is nuuskierig,” sê Roos. “Ouers kan dit gerus soos ‘n mantra onthou. Nuuskierige kinders wil meer weet van die wêreld om hulle. Maak dus seker jou kind stel nie bloot net ondersoek in voordat jy hom as stout beskryf nie.” Om te verseker jou kind kan in veiligheid sy omgewing ondersoek, maak seker jou huis is toeganklik en veilig vir ‘n peuter. Jou kind gaan byvoorbeeld nie onthou om nie met jou porseleinware te speel of weg te bly van ‘n kragprop nie. Jy moet die kas waarin dit is, gesluit hou en kragproppe bedek.

4.  Vermy ‘n magstryd

Volgens Anne Cawood, kenner op die gebied van ouer-kindverhoudings, moet ouers dit vermy om absolute bevele te gee, soos bv. “Eet jou kos!”. Op haar webwerf verduidelik sy dat so ‘n bevel dikwels ‘n ‘nee’-respons by ‘n peuter ontlok wat ‘n onmiddellike magstryd tot gevolg het. Bevele moet eerder samewerking vra, soos ‘wat sal ons eerste eet – die wortels of die vis?’.

5. Wees konsekwent

‘n Peuter se geheue is beter as wat ‘n mens dink. As dit vandag reg is om op die sitkamerbank te spring omdat jy te besig is om te vermaan, kan jy môre op jou kop staan om te verduidelik waarom dit eintlik verkeerd is. “Ouers moet ook uit een mond praat,” volgens Roos. “Dit help nie sekere reëls geld wanneer ma tuis is, maar wanneer pa moet kyk, verander die reëls nie.” Konsekwentheid vereis goeie kommunikasie tussen ouers en duidelike reëls sonder enige grys gebiede.

6. Kritiseer die daad, nie die persoon

Vermy negatiewe woorde wat jou kind as persoon beskryf, soos byvoorbeeld stout, moeilik, lelik, goor, ens. Volgens Roos moet ‘n mens vanuit die standpunt gaan dat jou kind oulik en soet is. “Die woordkeuse wat jy dan gebruik is ‘dit [hierdie daad] pas nie by ‘n oulike kind soos jy nie’ of ‘soet kinders maak nie so nie’. Jou kind leer dan dat sekere dinge nie strook met wat as aanvaarde gedrag beskou word nie.

Cawood sê ook op haar webwerf dat ouers gerus vir kinders die woordeskat van gevoelens kan aanleer. “Kinders leer dan dat gevoelens altyd aanvaarbaar is, soos hartseer, woede, frustrasie. Die manier om dit te hanteer is egter nie altyd aanvaarbaar nie. Oulike kinders slaan nie hul maatjies nie, selfs al is hulle kwaad.”

7. Stel ferm, duidelike grense

Kinders toets dikwels hoe ernstig jy is oor ’n reël, of hoe spesifiek die reël gevolg moet word. Sou jy byvoorbeeld sê dat jou kind nie op die tafel mag staan nie, sal sy op die stoel klim en kyk wat is jou reaksie, dan haar een voet op die tafel sit en weer kyk. Dis belangrik om dan die presiese grens te stel – mag sy een voet op die tafel sit? Nee. Dit is ouers se plig om duidelik te wees oor die grense, al voel dit soms soos harekloof. Volgens Cawood lê kinders se sekuriteit nie slegs in die grense wat gestel word nie, maar ook in die volwassenes se vermoë om die grense te handhaaf.

8. Vermy straf

Volgens Cawood beteken ferm dissipline jou kind leer die gevolge van keuses. “Om jou kind te slaan is oneffektief,” sê sy. “Dit kweek aggressie en werk oënskynlik slegs tydelik.” Volgens Roos moet alle dissipline uiteindelik lei na selfdissipline. “Dit help dus nie jou huis is vol onbenullige reëls wat uiteindelik niks vir jou kind se karakter beteken nie. Jou kind moet weet dat hy vry is om te doen wat hy wil, maar dat hy nie vry is van die gevolge van sy dade nie.”

Hy is ook glad nie ten gunste van om ‘n kind te ignoreer nie. “Daar is ‘n verskil tussen ignoreer, en om solank aan te gaan met iets anders terwyl jou kind ‘n oomblik nodig het vir homself,” sê hy. “Moet ook nie die gevolge, of straf indien nodig, uitstel nie. Moenie dat jou kind moet wag vir pappa om tuis te kom om hom te straf nie. Dit is wreed.”

9. Kweek ‘n goeie selfbeeld – vir jouself

Volgens Roos is dit belangrik dat ‘n ouers ‘n goeie selfbeeld het. “Vir dissipline en kinders het ‘n mens ‘n goeie sin vir humor nodig en dit kry ‘n mens slegs wanneer jy ‘n goeie selfbeeld het, sodat jy kan lag vir jou eie onvermoëns.” Volgens Cawood moet ouers sorg dat hulle tyd vir hulself inruim, asook tyd vir ander volwassenes. “Dit is nodig om ‘n bietjie van jouself te spaar vir wanneer jou kinders eendag die huis verlaat!”

10. Prys jou kind

‘n Mens is geneig om te reageer slegs wanneer jou kind iets doen wat optrede vereis. Ouers moet egter onthou om ook positiewe bevestiging te gee vir al die dinge wat jou kind reg doen. Goeie maniere kan nooit te veel geprys word nie, asook al die kere wat jou kind agslaan op ‘n reël – veral wanneer jou kind nie dink jy kyk nie. Volgens Roos is veral tyd saam met jou kind ‘n goeie beloning. “Moet tog nooit lekkers of speelgoed as die enigste beloning sien nie. Ouers onderskat hoe groot beloning dit is om iets saam met jou kind te doen. Meeste kinders sal dit verkies bo geskenke.”

Bronne: Gesprek met Dr. Don Roos www.familyforum.co.za

Koester jou kleuter – Ann Richardson

Moeders gee raad

“Hulle is slimmer as wat jy dink. Omdat hulle nog nie goed praat nie, maak ’n mens dikwels die fout om te dink hulle verstaan nie. Tog sal hulle basiese boodskappe goed verstaan.
“Dikwels wanneer ek voel my kind is ‘stout’, blyk daar iets anders verkeerd te wees, soos ’n slegte boud-uitslag of tandekry waarvan ek nie bewus was nie. Dus moet ’n mens eers moontlike honger, dors, moegheid of pyn uitskakel voordat jy besluit sy is stout.”
Année Taylor, Johannesburg

“My kind floreer op grense. Dit gee aan haar 'n gevoel van geborgenheid. Sy moet weet dat haar bed nie 'n plek is vir spring nie, maar haar trampolien wel. Dat sy nie Pa se nuwe Popular Mechanics mag deurblaai nie, maar wel die tydskrifte in die speelkamer.”
Marinda Bender, Ladybrand

“Om hard te praat of pak slae te gee het geen uitwerking nie op my kind, wat ’n baie sterk persoonlikheid en wil van haar eie het. Sy haat dit egter om fisies uit ’n situasie verwyder te word, daarom werk die ‘stout-hoekie’ soos ’n bom. Soms moet ons deurdruk en vasbyt om haar hoekie toe te neem – sy huil en maak haarself soms naar. As ons egter nie ag slaan daarop nie en bloot aandring dat sy in die hoekie bly sit vir die aangewese tyd, dan gee sy gou moed op en bedaar.”
Amelia de Milander, Kaapstad

"Maak seker jou kind slaap genoeg, want ’n uitgeruste kind is minder geneig om ’n tantrum te gooi oor iets.
“Verder is dit belangrik ‘to pick your battles’. Probeer onderskei tussen gewone nuuskierigheid en opsetlike optrede, want anders gaan jy heeldag ‘nee’ sê en dis nie goed vir jou of jou kind nie. Probeer ‘nee’ hou vir situasies waar veiligheid ’n kwessie is, want as hulle dit nie gereeld hoor nie, is hulle geneig om gouer daarop te reageer.”
Stephanie Petch, Vancouver

“Dit klink erg, maar ek gaan winkels toe met die houtlepel in my handsak – hoewel ek hom nie wiks nie, weet hy dis in my handsak. Al my vriendinne weet as ek kom kuier, gaan soek ek heel eerste die houtlepel en dit lê heeltyd so dat hy die lepel kan sien. Wanneer hy tuis stout is, kry hy maar sy pak slae, want dis al wat werk.”
Anoniem, Ceres

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees