Vier jou peuter se mylpale

akkreditasie
Om te sien hoe jou peuter voor jou oë sy baba-skoene ontgroei is pure vreugde. Ons vier 'n paar van sy prettigste mylpale saam met jou.

Om te sien hoe jou peuter voor jou oë sy baba-skoene ontgroei is pure vreugde. Ons vier 'n paar van sy prettigste mylpale saam met jou.

Dapper Stapper

Dis die een mylpaal waarvoor alle ouers asem ophou en hulle uiteindelik breëbors laat glimlag as die groot oomblik aanbreek: daardie eerste wankelrige treetjies gewoonlik kort na sy eerste verjaardag wat die peuterjare inlei.

Skielik is hy nie meer ’n babatjie wat vir byna alles van jou afhanklik is nie, maar hy kan self oor die weg kom – en sommer blitsvinnig ook!

Toweroomblik:

Sorg dat jy ’n kamera of videokamera byderhand het om hierdie spesiale oomblik vas te vang. Maak ’n voet-afdruk in ’n stukkie sement buite julle huis – dit sal ’n baie spesiale plekkie word!

Lees: Peuter-pret!

Tyd vir ‘n eie bed

As jou peutertjie eers ontdek het hoe om te klim, is sy kot nie meer veilig vir hom nie: tyd vir ‘n eie bed. Dis is een mylpaal waarvoor jy dalk ’n bietjie hare op jou tande sal nodig hê, want dis veel moeiliker om hom in sy eie bed te hou as in sy kot.

Belê gerus in ’n mooi duvet om sy nuwe slaapplek vir hom spesiaal te maak. Nog ’n opsie is om jou peutertjie ’n matrassie voor julle bed te gee waar hy kan slaap.

Toweroomblik:

Al ooit gesien hoe jou peuter uit sy bed sluip om by julle te gaan inkruip, net om halfpad van sy bed af weer aan die slaap te raak in die vreemdste posisie?

‘n Dagslapie minder

Iewers gedurende die tweede lewensjaar maak die meeste peutertjies die sprong van 2 dagslapies na 2. Dis ’n aanpassingstyd, aangesien jou kleinding dikwels nog te moeg en knorrig raak as hy net een keer slaap, maar ook nie regtig meer 2 slaapsessies nodig het nie.

Wees daarop ingestel om dit te wissel na gelang van behoefte. As jou kleinding teen die einde van ’n oggend oormoeg begin raak, skuif middagete dalk ’n bietjie vroeër en laat hom ’n bietjie langer in die middag slaap.

Toweroomblik:

Moegheid kan jou peutertjie soms op die mees onwaarskynlike oomblikke oorval, wat vir skreeusnaakse fotogeleenthede kan sorg. Kiek jou kleinding as hy oor sy bord kos aan die slaap raak, of al sittend terwyl hy nog besig was om met iets te speel.

Ek eet self

Met jou peutertjie se selfvertroue wat nou vinnig toeneem, sal jy nou al meer begin hoor: “Self!” Een van jou peutertjie se eerste treetjies na onafhanklikheid is dat hy daarop sal aandring om ‘self’ met ’n lepel te eet, gewoonlik so teen 18 maande.

Wees voorbereid: met vingertjies wat nog onhandig is, is dit ’n morsige affêre en jy sal waarskynlik met badtyd kos op allerhande vreemde plekke ontdek, soos agter sy ore of tussen sy tone!

Maak die lewe vir jouself makliker deur koerantpapier of ’n plastiektafeldoek onder sy eetstoeltjie te sit, sodat jy makliker kan opruim as die helfte van sy bord kos op die vloer eindig.

Toweroomblik:

Maak seker jy neem minstens een foto van jou kleinding met sjokoladekoek wat byna sy hele gesig versier!

Klouterkabouter

Jou kleinding gaan skaars die wonder van loop baasgeraak het, of hy ontdek ’n nuwe vaardigheid: om te klim.

Sommer gou sal jy agterkom dat niks meer veilig is met jou waaghals in die rondte nie – as hy nie teen jou diefwering uitklim nie, klim hy op jou banke (en val anderkant af), of trek hy ’n stoel nader en klim hy op jou kaste.

Onthou wel dat jou peutertjie waarskynlik sal leer hoe om op te klim voor hy leer hoe om af te klim, so jy sal hom gereeld uit netelige situasies moet red!

Jou kleinding sal ook so rondom 20 maande leer hoe om trappe met een voet op ’n slag af te klim – ’n reuse sprong in sy groot motoriese ontwikkeling. En rondom 2 jaar sal hy leer om met albei voete gelyk te spring – iets wat hy oral sal beproef en baie trots op sal wees! Veiligheid is nou van kardinale belang, want ’n peutertjie ken geen vrees nie.

Lees: Mylpale: 1 tot 3 jaar

Toweroomblik:

Hou die kamera byderhand vir daardie oomblik wanneer jy hom bo-op jou yskas betrap!

Ek kry momentum

Peuters hou nie van stadig beweeg nie, en sodra hy die lopery goed onder die knie het, sal hy sy hardloopvermoë tot die uiterste toets. Dit kan nogal ’n gevaarlike storie raak, aangesien jou kleinding se kop swaar is in vergelyking met die res van sy lyf, wat hom maklik sy balans kan laat verloor as sy voete nie meer kan byhou nie.

Wees dus gewaarsku dat jou kind waarskynlik met ’n paar bloukolle gaan eindig.

Toweroomblik:

As hy en sy hondjie al hardlopend op die gras baljaar en jil van plesier, is dit pure vreugde! Bêre hierdie herinneringe in jou onthou-bottel.

Onsigbare maatjie

Jou peutertjie is ’n sosiale wesentjie. Tog speel hy eers net langs sy maatjies, in stede van met hulle. Maar rondom 2 jaar sal hy al meer interaktief met maatjies begin speel. Dis ook iewers tussen 2 en 3 jaar wat jou peutertjie die wonder van fantasiespel ontdek en verdwyn in sy eie verbeeldingswêreld waar sy teddiebeer kan praat of sy motorfietsie hom kan wegvoer na ’n ander land.

Toweroomblik:

Luister gerus af terwyl jou kleinding (en sy maatjies) speel. Dis kosbaar! Kyk ook of jy dit ongemerk op jou videokamera kan vasvang.

Tatta foppie

Jy het waarskynlik al begin dink jou kleinding gaan eendag voor die kansel staan met sy bababottel of foppie in sy mond, maar dan verras hy jou eendag deur self sy bottel weg te gooi of sy foppie vir die kat te gee.

Of dalk het hy ’n bietjie meer aanmoediging nodig om van sy gunsteling gebruiksgoed ontslae te raak.

Hoe dit ook al sy, nou is die tyd wat jou kind afskeid neem van sy bottels en eerder uit ’n bekertjie begin drink ‘soos ’n groot kind’.

Toweroomblik:

Julle kan ’n spesiale ritueel daarvan maak om sy bottel of foppie weg te gee ‘vir ’n baba wat dit meer nodig het’.

Ek't my eie styl

Iewers na 18 maande sal jou kleinding daarop begin aandring om self aan te trek. Hy sal waarskynlik eers leer hoe om homself uit te trek (en dan jillend kaalbas deur die huis hardloop!) voordat hy rondom 3 jaar homself kan aantrek.

Die eindresultaat kan dalk ietwat krom en skeef lyk. Jy kan dit vir hom makliker maak deur klere te verskaf wat maklik aantrek, soos broeke met rekke, T-hemde en skoene met velcro. Jy sal steeds hier en daar ’n handjie moet bysit.

Toweroomblik:

Kyk net hoe gloei hy van trots as hy daarin geslaag het om homself aan te trek. (Al sit sy hemp windskeef en is sy broek verkeerdom aangetrek!)

‘n Prentjie van my

Jou kleinding se fynmotoriese vaardighede sal met rasse skrede verbeter in die peuterjare. Teen sowat 18 maande sal jou kind met ’n kryt op papier begin skribbel (wat hy waarskynlik nog met sy hele vuis sal vashou), en teen 3 jaar sal jou asjas ’n dik kryt in 'n normale skryfposisie kan hou en sal hy al sirkels kan teken met strepies deur terwyl hy in alle erns vir jou sal vertel dis ’n prentjie van homself.

Wees gewaarsku: nou is die tyd wat jou mure as skilderdoek gebruik sal word!

Toweroomblik:

Raam sy eerste tekening van homself met ’n datum daarby. Doen dit elke 6 maande en kyk hoe hy vorder.

Tatta doeke!

Vir meer as twee jaar lank was doeke koop deel van jou maandelikse begroting en die doeksak altyd reg en gepak – en dan ewe skielik is dit nie meer nodig nie.

Nie alle peutertjies is ewe gou gereed vir potjielesse nie, maar die meeste van hulle raak dit baas iewers tussen hul tweede en derde verjaarsdag. Moenie haastig raak nie en laat jou deur jou kind lei vir hierdie groot mylpaal.

Jy sal dalk vir jouself giggel oor hoe opgewonde jy kan raak oor daardie eerste pieps in die potjie, maar dis voorwaar ’n groot stap vooruit vir jou peuter!

Toweroomblik:

Potjielesse in die somer is groot pret as jou kleinding kaalbas in die tuin rondhardloop om te probeer agterkom hoe die storie nou eintlik werk. Of wat daarvan as hy hom so ewe met ’n boek op die toilet gaan tuismaak?

Koebaai babataal

Teen 1 jaar oud kan jou kleinding al enkele woordjies kwytraak, maar in die peuterjare beleef sy woordeskat ’n blomtydperk en groei vinnig tot twee-woordsinnetjies ná sy tweede verjaardag.

Maak ook maar reg vir ’n klein bietjie frustrasie as hy sukkel om homself uit te druk. Nou is by die tyd vir oulike sêgoed.

Toweroomblik:

Skryf elke skattige sêding van jou peuter neer. Dis só kosbaar en jy sal dit so altyd onthou.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees