Wag so 'n bietjie!

akkreditasie
‘Wag’ is nie juis ’n woord wat ’n mens in dieselfde asem as ‘kleuter’ gebruik nie. Maar ’n kind wat geduldig kan wag, leer in die proses ’n hele boel vaardighede wat haar eendag goed te pas sal kom.

Hier en daar kry mens ’n lankmoedige kind, maar vir die meeste kleingoed is dit baie moeilik om te wag vir iets wat hulle begeer. Om geduldig te kan wag is ’n aangeleerde vaardigheid – een wat ouers gerus moeite mee kan doen sodat hul kind dit kan baas raak, want dis een van die sleutels tot toekomstige geluk. Die vermoë om te kan wag lei tot geduld, respek, selfdissipline en suksesvolle verhoudings.

Wees versigtig om nie te vroeg daarop aan te dring dat jou kind geduld leer nie. In haar eerste twee jaar is ander dinge belangriker, soos haar behoefte aan sekuriteit, liefde en vertroue, sê Sanet Verster, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

“Navorsing wys dat babas wat onseker en angstig grootword en nie leer om hul omgewing te vertrou nie, gewoonlik meer ongeduldig en gefrustreerd is en nie in staat is tot uitgestelde beloning (delayed gratification) nie,” sê sy.

“Dis gewoonlik dié kinders wat impulsief is en hul emosies nie goed kan beheer nie. Hulle soek onmiddellike reaksies, selfs al is dit ’n negatiewe reaksie.”

Teen vier maande oud word ’n baba bewus van haar omgewing en behoeftes en begin sy met haar ma of versorger kommunikeer deur te huil of ander geluidjies of tekens te maak.

Sy het sekuriteit nodig en moet weet dat sy jou kan vertrou om in haar behoeftes te voorsien. Jy kan die basiese beginsel van uitgestelde beloning begin vaslê deur nie dádelik aan haar versoeke te voldoen nie.

As jou baba vir ’n bottel huil, kan jy dadelik na haar bedjie stap en sê: “Mamma sal nou terug wees met jou bottel.” Verdwyn dan vir ’n kort rukkie en kom terug met die bottel. So leer sy twee dinge: Jy is bewus van haar behoeftes, en as sy ’n oomblik geduldig wag, sal sy kry wat sy wil hê.

“Dis belangrik dat jy konsekwent optree,” sê Sanet. “Leer jou kind dat as sy geduldig wag, daar altyd na haar omgesien sal word. As jy jou baba toelaat om lank en onbedaarlik te huil voor jy optree, kan sy aflei dat sy harder moet huil om ’n reaksie te kry.”

Dit begin by jou

Teen twee jaar oud het ’n kind se taalvaardigheidgoed genoeg ontwikkel datsy kan verstaan wanneer jy haar aansêom te wag. Kinders moet ook nou leerdat hul rol as kind verskil van mamma enpappa s’n as volwassenes.

“Kinders voel veilig as daar grenseis en hulle weet wat die gevolge gaan wees as hulle die grense oortree. Hullebehoort ook te kan onderskei tussenregte en voorregte. Basiese behoeftes soosveiligheid, sekuriteit, kos, klere en slaapis hul regte, maar as mamma of pappavir hulle ’n lekkertjie koop of saam methulle parkie toe stap, is dit ’n voorreg,”verduidelik Sanet.

“Moet nooit vergeet dat kinders hul ouers se gedrag naboots nie. Geduldige ouers maak gewoonlik geduldige kinders groot. Kleuters hou ons fyn dop en ons kan hulle nie kwalik neem as hulle sien hoe ongeduldig ons by ’n verkeerslig is, en dan self nie vir iets wil wag nie.” Jy kan jou kind maklik bederf as jy altyd spring wanneer sy iets vra. As sy daaraan gewoond is om dadelik te kry wat sy wil hê, leer sy dat mense na haar pype behoort te dans.

“Dan maak jy ’n veeleisende kind groot wat gaan sukkel om by ’n klas in te skakel waar sy een van baie is, en by ’n samelewing waar alles nie om haar draai nie. Sulke kinders is dikwels emosioneel onseker en ook nie onafhanklike denkers nie, want hulle raak afhanklik van die reaksie en goedkeuring van hul ouers,” sê Sanet.

Een van die redes waarom kleuters met uitgestelde beloning sukkel, is dat hulle nog nie ’n tydsbegrip het nie, en ook omdat hulle spontane, energieke en geesdriftige wesentjies is.

“Kinders leef suiwer, impulsief en met ’n ongeskonde lewensvreugde,” sê Sanet. “Hulle is entoesiasties en sien met kinderlike onskuld uit na geleenthede en aktiwiteite. Dit maak afwagting moeilik, want hulle het nie ’n benul hoe lank hulle moet wag nie.”

Koppel dus die wagtyd aan ’n tydsbegrip wat vir hulle sin maak, soos dat die rit in die motor nog so lank sal neem soos twee episodes van Barney. Indien hulle dae of weke lank moet wag, soos wanneer mamma of pappa oorsee is en oor ’n paar weke eers sal terugkeer, kan dit help om die slapies op ’n kalender af te merk.

“Kinders word baie angstig, ongeduldig en gefrustreerd as hulle hulle in ’n tyd-lugleegte bevind wat hulle nie kan peil of bepaal nie,” sê Sanet.

Wat jy kan doen om te help

1. Kry sywurms en verduidelik die lewenssiklus

As ’n mens geduldig wag, sal daar ’n mot uit die kokon kom wat sal eiers lê. Met verloop van tyd sal die eiers uitbroei en dan is daar weer sywurms. So leer jou kind dat dinge op ’n spesifieke tyd gebeur en al gaan kyk sy 20 keer ’n dag in die boks, sal sy nie die proses kan versnel nie.

2. Wees 'n rolmodel

As kinders grootword in ’n omgewing waar hul ouers geduldig is en ander deur geduld respekteer, leer hulle dit is die norm.

3. Oefen geduld by die huis

Waar jou kinders veilig voel en jy in beheer is van ’n taamlik voorspelbare omgewing, soos dat ’n mens aan tafel wag tot almal kos het voor jy begin eet. Kinders is geneig om meer ongeduldig en impulsief te wees in openbare situasies waar hulle oorgestimuleer is.

4. Wees emosioneel in beheer en geduldig met jou kinders

As jy agterkom jy’s besig om beheer oor jou gevoelens te verloor, gee pad uit die situasie tot jy jou ewewig herwin het. Kinders reageer op hul ouers se ongeduld en irritasie deur negatiewe aandag te soek en met woedebuie te reageer.

5. Waak teen perfeksionisme 

Ons raak dikwels ongeduldig as ons iets laat val of om stamp. Dit stuur die boodskap uit dat ons met niks minder as volmaaktheid tevrede is nie en nie mislukkings duld nie.

6. Kinders moet kan waag, eksperimenteer en sukkel

Ons neem dikwels hul take oor om tyd te spaar, en so ontneem ons hulle die geleentheid om geduldig te probeer tot hulle regkry waarmee hulle besig is.

7. Leer deur speel

’n Kind wat speel, is ontspanne en leer dus makliker. ’n Speletjie soos wegkruipertjie leer haar dat die persoon wat wegkruip en die een wat soek, deur ’n proses van geduldige afwagting moet gaan voor sy suksesvol is.

8. Gee terugvoer

As jou kind geduldig gewag het vir iets kan jy haar gerus prys en wys dat haar gedrag jou trots maak.

9. Sien om na jouself!

’n Uitgemergelde ouer kan onmoontlik geduldig genoeg wees om ’n goeie voorbeeld te stel. Kry genoeg rus en neem deel aan aktiwiteite wat jy geniet en wat jou inspireer.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees