Die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede verg tyd en oefening. Dis bitter belangrik, want sowat 70 persent van take wat jou kind op skool sal moet verrig, vereis fyn motoriese vaardighede.

Dink maar net aan hoe ’n potlood vasgehou en beheer moet word, of hoe jy ’n blad omblaai, wat nog te sê klavier speel of knip.

Wat is fyn motoriese vaardighede?

Dis die beheer van die klein spiertjies van die lyf wat jou kind in staat stel om ’n verskeidenheid materiale en stukke gereedskap presies en akkuraat te hanteer, beheer en manipuleer.

Die klein spiertjies van die hand moet saamwerk met die klein spiertjies van die oë (dis wat ons hand-oog koördinasie noem) sodat ’n kind presiese, akkurate bewegings kan uitvoer.

Die twee hande se spiertjies moet ook kan saamwerk, aangesien baie aktiwiteite twee hande vereis. ’n Baba word nie met dié vaardigheid gebore nie. Dis eers teen ongeveer vier maande oud dat sy sal begin om doelbewus na voorwerpe uit te reik.

Dan leer sy om dit vas te hou, teen mekaar te kap, en later van die een hand na die ander te verplaas. Wees ook maande later op die uitkyk vir wanneer sy dinge doelbewus begin loslaat – dit word ’n hele speletjie! Sy sal ook leer om klein goedjies tussen duim en wysvinger vas te knyp.

Die tweede jaar

In haar tweede jaar word jou kind se vingers, hande en gewrigte ál slimmer.

Sy sal kryt met haar hele hand vashou en probeer om horisontale strepe te trek. Sy hou daarvan om bewegende voorwerpe dop te hou en tel graag klein goedjies tussen duim en voorvinger op. Sy kan vormpies sorteer en blokkies op mekaar stapel.

Met etenstyd word haar nuwe vaardighede ook ingespan. Sy sal haar self kan voer en mettertyd ál minder mors. Met oefening sal sy ook ’n bekertjie met handvatsels kan bemeester. Teen 16 maande sal sy boeke se blaaie kan omblaai en self haar eie klere probeer uittrek.

Die derde jaar

Sy sal maklike legkaarte geniet en graag klei in verskillende vorms manipuleer. Sy sal groot krale aan ’n toutjie kan ryg en selfs met ’n skêr begin knip, hoewel dit nog ’n groot uitdaging is. Sy sal leer om flesse oop en toe te draai en ook om haar eie tande te borsel.

Wenke:

1. Gee geleentheid vir krabbel, veral teen 'n vertikale vlak.

2. Laat haar dinge in- en uitpak en houers oop- en toemaak.

3. Bou torinkies met blokkies.

4. Speel baie met klei.

5. Laat haar legkaarte bou. 

6. Speel "Duimpie en Duimpie se maat". 

7. Laat sy self probeer knope vasmaak of ritssluiters optrek.