Woel met gevoel

akkreditasie
Jou kleinding verken nie net sy wêreld deur te sien, voel, ruik, hoor of proe nie: sy 'beweging sintuie' is net so belangrik vir sy gesonde ontwikkeling.

Die ervaring van beweging is ’n sintuig – jy kan immers “voel” jy beweeg al is jou oë toe. As jy in ’n hysbak ry, voel jy dat jy op of af beweeg, al sien jy dit nie. Toe oë in ’n motor voel jy wanneer julle om ’n skerp draai ry en pas jy outomaties jou balans daarby aan, sodat jy nie omval nie. As jy met trappies
afklim, pas jy outomaties jou liggaam aan by die hoogte sodat jy nie onnodig hard trap nie.

Jou liggaam is voortdurend besig om inligting te verwerk oor waar jy in verhouding met ander dinge is, waar jou liggaamsdele ten opsigte van mekaar is, of jou spiere en gewrigte gespanne, ontspanne, gestrek of gebuig is, en wat jy volgende gaan doen – alles sonder dat jy twee keer daaroor dink.

Jou klein aspatat se lyfie werk net so, behalwe dat hy sy bewegingsintuie nog moet verfyn en ontwikkel.
Daar is twee groot bewegingsintuie wat jou kleinding se beweging bepaal: die vestibulêre stelsel en proprioseptiewe stelsel.

Wat beteken hierdie groot woorde en wat moet jy as ouer daaroor weet?

Gebalanseerde ontwikkeling

Die vestibulêre stelsel reageer op jou liggaam se bewegings in ruimte en die verandering van die kop se posisie, en help om die lyf se bewegings te koördineer. Dit speel ’n kritieke rol in balans en jou ervaring
van waar jy is ten opsigte van ander voorwerpe.

Die kern van die vestibulêre stelsel is in die binneoor gesetel. Dit help jou liggaam om die regte spiertonus te hê vir ’n bepaalde aksie, help die twee kante van die lyf om saam te werk en help jou
ook regop hou teen swaartekrag. as dinge skeefloop

Kinders met vestibulêre probleme kan hipersensitief wees vir beweging (en dus beweging probeer vermy, amper asof hulle bang is hulle gaan val), of hulle kan ’n buitengewone behoefte aan beweging hê.

Hulle kan dus swaaie en glyplanke vermy en stiller aktiwiteite verkies, dit haat om in ’n hysbak of met roltrappe te ry, bang wees om te val al is daar geen risiko voor nie, bang wees vir lae hoogtes, en versigtig wees vir enige ongelyke oppervlak. Hulle hou nie daarvan as jy hulle onderstebo hou nie, verloor maklik hul balans en kom lomp voor.

Of hulle kan heeltemal die teenoorgestelde wees: Hulle kan die heeltyd beweeg met intense bewegings, daarvan hou om vinnig te spin, gek wees daaroor as jy hulle in die lug gooi en eindeloos in die rondte draai sonder om dronk te voel.

Hulle kan voortdurend op die trampolien (of jou meubels!) spring en hou daarvan om onderstebo te hang. Hulle doen soms gevaarlike dinge.

Help jou kind so

Die arbeidsterapeut Annemarie Lombard, skrywer van Sensoriese Intelligensie, biedwerkswinkels hieroor aan. Sy sê die volgende aktiwiteite sal jou kleinding help.

  • ’n Bonsbal: Dis daardie lekker groot balle met oortjies aan waaraan jou kind kan vashou terwyl hy op en af wip.
  • Rolpret: Sny die bodem uit ’n kartondoos sodat jou kleinding se kop en arms bo uitsteek en die voete onder en laat hom teen ’n skuinste afrol. Jy kan hom ook in ’n groot handdoek toedraai.
  • Hamer-spyker: Twee volwassenes hou elkeen twee hoeke van ’n kombers vas en swaai die kind heen en weer.
  • ’n Swaai: Moedig jou kleinding aan om op ’n skoppelmaai te swaai. As hy angstig voel, kies ’n lae swaai sodat sy voete aan die grond kan raak of hou hom op jou skoot vas.
  • Spin rondomtalie: Laat jou kind op die speelgrondrondomtalie draai of hang ’n buiteband aan ’n boom, wen dit op en laat hom daarin spin. Jou kantoorstoel wat in die rondte kan draai sal ook werk, maar hou dit binne perke.
  • Glyplank: Laat hom met ’n glyplank afgly in sittende, lêende en kop-eerste posisies – alles waarvoor hy kans sien.
  • Fietsies, driewiele, skaatsplanke en skopfietse: Dit help alles baie om kinders se balans sowel as hulle motoriese beplanning en koördinasie te verbeter.
  • ’n Wipmat of trampolien: Dis ’n uitstekende belegging. As jy nie een het nie, gooi ’n ou matras op die gras en laat jou kind daarop spring.
  • Onstabiele oppervlakke: Laat hom gereeld op onstabiele oppervlakke loop soos ’n sanderige
    strand, die bruggie op die klimraam, ’n groot grasperk of ’n klipperige paadjie. Dit vereis dat jou kleinding sy lyfie aanpas soos hy beweeg.
  • Sit en wieg jou kind op jou skoot of heup. Skaf ’n skommelperdjie of wiegstoel
    aan as hy te groot word.
  • Wipplank ry: Jy kan ook jou kind help om van die een kant na die ander te loop en in die middel te balanseer sodra hy ’n bietjie ouer is. Of laat hom op ’n lae muurtjie loop.
  • Sitbal: Laat jou japsnoet op ’n bal van so 30 tot 40 cm deursnee sit terwyl hy televisie kyk of storie luister. Die bal moet groot genoeg wees dat jou kind met sy knieë teen ’n 90-grade hoek sit met sy voete plat op die vloer. Hy kan ook op ’n groter oefenbal rol, sit of wip.
  • Trappies: Laat hom soveel moontlik trappies op en af klim en met hysbakke en roltrappe op en af ry.
  • Pretpark: Gaan saam pretpark toe en geniet al die verskillende ritte!

Wat is propriosepsie

Propriosepsie gaan daaroor dat jou kind se liggaam boodskappe van buite ontvang oor sy spiere, bewegings en liggaamsposisie, waarop hy dan kan reageer.

Carol Kranowitz praat in haar bekende boek The Out-of-Sync Child van die posisie-sintuig. Dis die sin van waar jou liggaamsdele, spiere en gewrigte ten opsigte van mekaar is en wat aandui hoe jy hierdie liggaamsdele moet beweeg om ’n taak te verrig, byvoorbeeld hoe hard jy moet druk of trap en hoe ver jy moet reik of jou posisie moet verander. Dis wat jou in staat stel om iets raak te vat selfs al kyk jy na daarna nie – sonder dat jy jou hand sien, weet jy presies waar dit is en wat dit doen.

As dinge skeefloop

As jou kind se proprioseptiewe sintuig nie behoorlik werk nie, kan hy sukkel om gladde, gekoördineerde
en beheerde bewegings uit te voer.

Take wat vir ander kinders normaal is, is vir hom ’n probleem, soos loop, kruip en teken. Hy kan sukkel met motoriese beplanning, om sy liggaam in ’n stabiele posisie
te hou, om sy bewegings te gradeer sodat hy weet hoe hard of sag hy moet werk, en om beplande bewegings akkuraat uit te voer.

Soms dink mense hy is stout of lui, maar eintlik sukkel hy om sy bewegings te beheer of is dit vir hom net te moeilik.

Gebrekkige propriosepsie kan lei tot ’n swak selfbeeld omdat hy gedurig voel hy doen verkeerd of deur maatjies verwerp word omdat hy hulle seermaak, al bedoel hy dit nie.

As jou kleinding se proprioseptiewe stelsel swak ontwikkel is, sal jy die volgende oplet:

  • Hy is buitengewoon lomp, stamp gedurig teen goed en maak homself dikwels seer.
  • Hy sukkel om sy bewegings te koördineer en om te beheer hoe hard of sag hy iets doen. Hy druk te hard met sy potlood op papier, is geneig om hard te stamp pleks van net ligweg te du, of speel rof met speelgoed of maatjies. Hy kan ook “hard” loop.
  • Hy beweeg gedurig: Hy skop aanmekaar teen goed of vroetel met sy hande, kou aan iets, byt sy naels of knak sy kneukels.
  • Hy is oorenergiek en rof en hardloop, spring, wip rond of raas waar dit eintlik onvanpas is.
  • Hy verkies styfpassende klere soos rolnektruie.
  • Hy sukkel om ’n liggaamsposisie te handhaaf.

Help jou kind so

Die goeie nuus is dat ’n mens aan proprioseptiewe probleme kan werk. Hierdie kinders het ekstra proprioseptiewe insette nodig om hul lyfies rustig, georganiseerd en gereguleerd te hou. Die arbeidsterapeut Annemarie Lombard stel die volgende aktiwiteite voor.

Dra swaar vragte: Laat jou kind help om die inkopies in te dra, die wasgoedmandjie rond te karwei,
boeke te dra en die gieter te dra om plantjies water te gee. Gee hom ’n rugsakkie met swaar goed in wat hy kan ronddra.

Stoot en trek ’n Waentjie vol sand wat hy van een plek na ’n ander moet trek, werk uitstekend. Laat
hom kruiwa stoot, ’n stootwaentjie stoot, help stofsuig en swaar bokse rondstoot.

Hang soos ’n apie: Jou kind wil aan sy arms hang; hang dus gerus ringe in sy kamer of aan ’n boom in
die tuin, of kry ’n klimraam waar hy na hartelus kan swaai, hang en klouter. Dit stuur belangrike boodskappe na die brein.

Kussingduik: Gooi ’n klomp kussings, boontjiesakke en duvets in ’n hoek en laat jou apie daarop spring, rol, strek en duik.

Kluisenaarskrap: Sit ’n groot pak rys op sy rug en laat hom rondloop met sy “huis” op sy rug.

Speel hy is ’n papie: Rol hom toe in ’n kombers of mat sodat net sy koppie uitsteek.

Gee hom baie stywe drukkies en hou hom styf vas: Gaan sit op die vloer agter hom, vou jou bene
om hom, sit jou arms om sy knieë
en trek hom styf teen jou vas.

Rofstoei: Laat hom met Pappa (of jou) rofstoei.

Laat hom kou, blaas en suig: Kougom kou kan help. Laat hom borrels blaas deur ’n strooi en alles
deur ’n strooitjie drink.

Stresballetjie: Gee ’n stresballetjie wat hy kan druk en manipuleer as sy hande nie met iets anders besig is nie, of laat hom klei speel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees