Slim ma’s hou hulle peuter se lyfie én breintjie besig. Hier is spesiaal uitgesoekte aktiwiteite wat jou peuter se brein stimuleer terwyl haar liggaam hard aan die oefen is.

12 tot 18 maande

Sit die hoed op

ONTWIKKEL Groot motoriese vaardighede en sosiale bewustheid

JY BENODIG

  • Knuffeldiere en poppe
  • Hoede

DOEN DIT Plaas die poppe op verskeie plekke en hoogtes in die kamer. Laat hulle verskillende posisies inneem: party kan rug teen rug sit, op die vloer met die bene gebuig sit, of handeviervoet staan. Moedig jou baba aan om ’n hoed te kies om op die kop te sit van ’n pop wat jy uitwys. Hy moet self die hoed kry en tussen sy speelgoed beweeg om die hoed op die pop se kop te sit. Prys hom as hy dit op die regte pop se kop sit.

Skattejag

ONTWIKKEL Sortering, sintuie en motoriese vaardighede

JY BENODIG

  • Emmer
  • Muffinpan

DOEN DIT Stap saam met jou kind deur die huis en in die tuin. Laat hy ’n versameling interessante skatte bymekaarmaak en dit in die emmer plaas. Gooi die skatte dan uit die emmer en laat jou peuter dit volgens kleur uitsoek en in die muffinpan groepeer.

VARIASIE Gaan stap in ’n park of die buurt, of groepeer volgens grootte of vorm.

18 tot 24 maande

Musiekbeelde

ONTWIKKEL Motoriese vaardighede, verbeelding en sosiale interaksie

JY BENODIG ’n Verskeidenheid musiek

DOEN DIT Luister na die musiek. Laat jou peuter besluit watter soort beweging dit uitbeeld. Harde, ritmiese tromme kan die stamp van olifantvoete wees, ligte musiek kan die vlug van ’n voëltjie voorstel. Laat jou peuter so beweeg tot jy uitroep: “ ’n Honger mamma gaan jou drukkies kom gee.” Jaag hom terwyl hy vir jou weghardloop. Soen en druk hom wanneer jy hom vang. variasie Laat jou peuter jou vang.

Tentpret

ONTWIKKEL Luistervaardighede en tassin

JY BENODIG ’n Groot kombers

DOEN DIT Plaas die kombers bo-oor julle in die tuin, asof dit ’n tent is. Neem ’n flits saam as jou kind lig nodig het. Sit stil en luister na die geluide om julle. Vra jou kind om uit te roep sodra hy dink hy iets hoor. variasie Plaas voorwerpe in jou kind se hand (klippie, blaar of blom) sonder dat hy sien wat dit is. Laat hom raai wat dit is deur daaraan te voel.

24 tot 36 maande

Storietoneel

ONTWIKKEL Simboliese denke, geheue en taal

JY BENODIG Kinderboeke

DOEN DIT Moedig jou kind aan om ’n bladsy uit haar gunsteling-boek te kies. Beeld die toneel op die bladsy uit. Kies karakters en beeld die rolle van die diere, masjiene of menskarakters uit.

VARIASIE

  • Kies verskillende stories.
  • Laat jou kind verskeie eindes uitdink.
  • Gebruik dekorstukke.

Klein kunstenaar

ONTWIKKEL Groot en fyn motoriese vaardighede, kreatiwiteit, kleurbegrip en sintuie (beweging, gesig, gehoor en tassin)

JY BENODIG

  • Babasjampoe
  • Nie-giftige, afwasbare verf
  • Groot ballon
  • Ongekookte rys
  • Ou laken

DOEN DIT Kies ’n warm dag. Meng die verf en sjampoe en laat jou kind haar self verf. Plaas die laken op die grond wanneer sy droog is. Blaas ’n ballon op en plaas ’n paar ryskorrels daarin. Laat jou kind die ballon in die lug opslaan en tel saam hoe lank dit duur voor sy dit weer vang.

VARIASIE

  • Gooi die ballon vir jou kind sodat sy dit kan vang en na jou kan terugslaan.
  • Skud die ballon terwyl julle op die ritme daarvan sing en dans.

’n Hupstoot vir baba se brein

Jou peuter se brein ontwikkel teen ’n ontsagwekkende koers. Tot twee jaar oud ontwikkel haar taal en motoriese vaardighede vinniger as enige ander tyd in haar lewe. Tussen drie en vyf vorm haar brein verbindings tussen verskillende dele, wat logika en probleemoplossingvaardighede verbeter. Jy kan hierdie ontwikkeling só aanhelp:

1. Alleentyd

As sy spesiale tyd met haar ouers deurbring, gesels en haar gevoelens en gedagtes uitdruk, word haar taalontwikkeling aangemoedig.

2. Speel-speel

Jou peuter gebruik haar verbeelding om rolle te vertolk wanneer sy haar poppe aantrek of self opdollie. Dit laat haar toe om dinge te ervaar en te hanteer waarmee sy nie in die regte lewe in aanraking kom nie. Dit berei haar emosioneel voor vir regte situasies en help ook taalontwikkeling aan.

3. Sosiale skoenlapper

’n Hoë IK is nie die enigste boublok van jou kind se brein nie. As sy tyd saam met haar maats deurbring, leer dit haar selfbeheersing en verhoudingsvaardighede soos om te deel.

Raakgekoop

Pylones se oulike diere-hoekbeskermers R59,95, pylones.co.za en Pylones-takke landwyd.