Sowat een uit elke 20 kinders word geraak deur voedselallergieë en babas wat ’n pa of ma het wat ook allergies was of is, se kans om ’n voedselallergie op te doen is groter. Dalk het jy ook al gewonder of die los stoelgange, maagkrampe of loopneusie en slymerige bors wat net nie opklaar nie, dalk die gevolg is van ’n kos wat nie met jou kind akkordeer nie.

Wat is 'n allergie?

’n Allergiese reaksie ontstaan wanneer jou kind se immuunstelsel gewone, skadelose kosse as ’n bedreiging vir die liggaam beskou en dit daarom probeer vernietig. Ons kry twee hoofreaksies: onmiddellike reaksies wat binne minute tot twee uur nadat ’n kossoort geëet is toeslaan, en vertraagde reaksies wat tussen vier en 28 uur kan duur.

In albei gevalle kan bloedtoetse gedoen word om te help om die skuldige kosse te identifiseer, maar die enigste manier om ’n diagnose te maak, is om die moontlike skuldiges vir ’n ruk uit te skakel (uitskakelingsdieet) en dan weer te gee (voedsel-uitdaging).

Die blote uitsluiting van kosse kan by kinders tot voedingstekorte en groeivertraging lei en moet daarom nie sonder ’n kenner se hulp aangepak word nie. Hou egter moed: Die meeste kinders ontgroei hul allergieë voor hul vyfde verjaardag.

Melk & eier verbode

Liezel en Liam (2½) Fookes

Liezel Fookes van Centurion het as nuwe ma gesukkel met borsvoeding en op twee weke ’n borsmelkvervanger begin gee. “Liam het al die melk opgegooi. Hy is opgeneem en die pediater het gesê hy het refluks. Ek was nie oortuig nie en het gevra dat hulle sojamelk gee omdat Liam se pa as kind allergies vir koeimelk was. Sommer die eerste bottel sojamelk het binne gebly. Bloedtoetse het bevestig het dat hy vir koeimelk allergies is.

“Toe hy op sewe maande ’n saggekookte eier eet, het dit gelyk of hy stik en hy het onmiddellik benoud begin huil en ’n bloedrooi uitslag oor sy gesig en lyf gekry. Ons het hospitaal toe gejaag terwyl ek asem in sy mondjie geblaas het. Die eier het anafilakse veroorsaak, ’n reaksie wat sy dood kon beteken as ons nie vinnig by die hospitaal gekom het nie.

Toetse het bevestig dat hy allergies is vir eier en die pediater het ons verwys na ’n allergiespesialis, dr. Tamatha Urquhart. Sy het ons na die dieetkundige Zelda Ackerman verwys om met ’n dieet te help.

“Die toetse het gewys dat hy ook vir beesvleis allergies is. Zelda het aanbeveel dat ons toets of hy regtig daarvoor allergies is. Liam is opgeneem sodat Tamatha en Zelda onder toesig vir hom beesvleis kon gee. Hy het geen reaksie daarop gehad nie en kon dit weer begin eet. Liam kan nou ook al cheddarkaas eet, maar is steeds allergies vir melk en eier. Hy het intussen ongelukkig ook ’n soja-allergie ontwikkel en ons moet dit nou ook uitsluit.”

Wenke vir 'm ernstige eier- en melkallergie

“Ek was aanvanklik baie bang om nuwe kosse te gee omdat Liam twee keer anafilakse gekry het,” sê Liezel. “Ek lees die etiket op ’n nuwe produk vyf keer en toets dit dan op Liam se wang voor ek dit vir hom gee. Ons het eiers heeltemal uit ons huis verwyder.”

Omdat Liam nou op twee en ’n half ook uit hul borde wil eet, sorg Liezel dat alles wat sy kook eier-, melk- en sojavry is. Sy maak ’n pastasous van blomkoolpuree en doop hoenderrepies in water en mielieblom pleks van eier en meel. Sy bak soms piesangbrood en vervang die melk met rysmelk en die eier met bakpoeier, olie en water.

Sy het ’n blik met peuselkosse wat Liam mag eet. Wanneer hy iets wil hê wat hy nie mag kry nie, trek hulle maar sy aandag met speelgoed af.

“ ’n Mens moet die etikette gereeld lees, want die samestelling van produkte verander soms. Ons het al produkte op een dorp gekoop wat veilig is, en as ons dieselfde ding op ’n ander dorp koop, bevat dit melk. Ons bly weg van ingevoerde produkte wat nie allergiewaarskuwings op het nie.

“Ek het baie gesukkel om ’n skool te kry wat kans gesien het vir Liam se ernstige allergieë. Ek is aktief betrokke en het leesstof en ’n noodhulptassie gegee.

As iemand verjaar bak ek self vir al die kinders ’n koek wat vir Liam veilig is.” Liezel het ’n leemte raakgesien en die onderneming African Allergy Friends begin, wat produkte met allergiewaarskuwings verkoop.

Rits kosse is van die spyskaart af

Nadia en Louis (3) Mileham

Toe Nadia Mileham van Pretoria vir Louis kort ná geboorte ’n borsmelkvervanger begin gee, het hy met boë gebraak en ’n loopmagie gekry.

Nadia is pediater toe en dié het haar na ’n dieetkundige verwys wat ’n klomp verskillende borsmelkvervangers aanbeveel het. Teen vier maande het die pediater aanbeveel dat Louis ’n spesiale peperduur aminosuurborsmelkvervanger begin gebruik en hy het baie goed daarop gereageer.

“Toe ek in ’n stadium sukkel om dit in die hande te kry, het ek ’n hipoallergeniese melk begin gebruik,” vertel Nadia. “Hoewel Louis met rooi oë en ’n loopneus gesukkel het, het hy nie meer diarree gekry nie en ek het gedink dat hy die allergieë ontgroei het.

“Hy was heeltyd siek en die dokters het aangehou om antibiotika voor te skryf en selfs dreineringsbuisies in sy ore gesit. Ek het besef iets moet verkeerd wees. Omdat Louis nie onmiddellike simptome gehad het nie, maar chroniese, vae simptome, was dit baie moeilik om agter te kom watter kosse hom siek maak.” Net ná Louis se tweede verjaardag het sy hom na die allergiespesialis dr. Tamatha Urquhart geneem.

Deur Tamatha het hulle by ’n dieetkundige uitgekom en Louis het ’n uitskakelingsdieet begin volg. So het hulle melk, eier, soja, koring, mielies, klapper en natriumbensoaat uitgeskakel en nou is Louis gesond. Van tyd tot tyd bring hulle een van die kossoorte terug in sy dieet om te kyk of hy die allergie al ontgroei het, maar dit het nog nie gebeur nie.

Praktiese raad vir veelvuldige voedselallergieë

Nadia het waardevolle raad vir ma’s met allergiese kinders: “Leer jou kind van vroeg af om geen kos, lekkernye of drankies by iemand te neem nie.

“As etikette lees ’n Olimpiese sport was, het ek goud gewen. Maak seker jy weet presies waarvoor om uit te kyk en lees die etiket van elke produk, van speserye tot lekkernye.

“Moenie fokus op alles wat hy nie mag kry nie. Fokus eerder op alles wat hy kan eet. Gebruik hoofsaaklik vars kosse. “Jou kind se allergieë hoef nie jul lewe oor te neem nie. Maak aanpassings, maar moenie die res van jou gesin afskeep nie. Laat almal dieselfde eet, ten minste vir die hoofmaaltyd. Maak seker die oupas en oumas weet wat hulle mag gee.”

Hy begin dit ontgroei

Carlien en Christiaan (5) Grieshaber

Carlien Grieshaber van Pretoria vertel haar oudste se storie: “Christiaan het op drie weke hewige ekseem gehad wat ons met dermatologiese produkte onder beheer gekry het. Hy het egter nooit deurgeslaap nie, altyd in die nag wakker geword met ’n ongemaklikheid op sy maag en sy stoelgang was altyd baie los.

“Omdat ek hom geborsvoed het, het ek sekere kossoorte uit my dieet begin skakel. Ek en sy pa is gevoelig vir gluten en ek het dus net rys en aartappels as stysel geëet, maar die simptome het voortgeduur. Ek was oortuig dis kleur- en preserveermiddels en het hom heeltemal daarvan weggehou, maar dit het geen verskil gemaak nie.

“Uiteindelik is ek na dr. Tamatha Urquhart toe. Hy was 18 maande oud toe toetse gewys het hy is allergies vir aartappel, tamatie, suiwel en eier. Al my raaiskote was verkeerd!

“Ek het hom dadelik van alles af weggehou en het self ook dié kosse vermy terwyl ek geborsvoed het tot hy 22 maande oud was. Sy slaappatroon het dadelik verbeter en sy stoelgang was normaal.

“Ek het hom tot drie jaar oud van alles weggehou en toe stelselmatig weer aan klein hoeveelhede begin blootstel. “Christiaan is nou vyf en het al sy allergieë behalwe vir rou eier ontgroei. Hy maak altyd self seker dat eier heeltemal gaar is voor hy dit eet.”

Praktiese wenke

“Die allergiebeheer is makliker gemaak omdat ek geborsvoed het,” vertel Carlien. “Ek hoef nie spesiale duur melk te gekoop het nie, maar kon net die probleemkosse uit my eie dieet skakel.

Toe Christiaan ophou borsvoed het, het ek hom kalsiumaanvullings begin gee tot hy sy melkallergie ontgroei het. Dit was gelukkig nie moeilik om van die kossoorte af weg te bly nie.

Ons eet heelwat rys, mielies en mieliepasta-produkte met vleis en altyd vars groente en vrugte. Ons is geneig om gluten die skuld te gee vir ongewenste reaksies, maar as jou kind ekseem het en blootgestel word aan aartappels, kan jy gerus aartappels en tamaties as sondaars oorweeg. Aartappelstysel word in heelwat verwerkte kos gebruik en alle etikette moet dus gelees word.”