Bekkie perfek

akkreditasie
Hoe hou jy jou woelige peuter se tande skoon en gesond sonder te veel drama?

Stel jou voor ’n fliek waarin die held se tande nie pragtig skitterwit is nie, maar vrot met selfs hier en daar een weg?

Of ’n nuusleser van wie die gebit nie eweredig en wit is nie? ’n Mooi, goed versorgde stel tande is ononderhandelbaar vir ’n aantreklike voorkoms.

Natuurlik is jou asjas se tande in jou toekomsdrome vir hom net so pragtig perfek en skitterwit soos dié van enige televisieheld, maar dit sal ongelukkig net ’n werklikheid word as jy nou reeds jou deel doen om ’n gesonde tandesorgroetine by hom te vestig – wat soms makliker gesê as gedaan is, veral met ’n woelige peutertjie! Hier is kenners se beste raad.

0 tot 18 maande

Jou kleinding se tandesorg begin eintlik reeds voor sy eerste tandjies ’n verskyning maak, sê dr. Ronel Podde, ’n tandarts van Pretoria wat in kinders spesialiseer.

“Voor die verskyning van enige tande moet die tandvleis en tong elke oggend en aand met ’n nat waslappie of watte afgevee word.”

Sodra die eerste tandjie verskyn, word goeie mondhigiëne nog belangriker.

Die tandjies kan ook met ’n nat waslap afgevee word, of ’n klein tandeborsel kan gebruik word – eers sonder tandepasta, dan met tandepasta sonder enige fluoried. Dis omdat baba die tandepasta sal insluk, en dit kan fluorose veroorsaak – ’n toestand waar wit vlekke vorm op die ontwikkelende tande as gevolg van ’n te hoë inname van fluoried.

18 maande en ouer

Vanaf sowat 18 maande behoort ouers ’n klein tandeborsel te gebruik om hul kind se tande mee te borsel, sê Ronel. “Laat jou peuter met die tandeborsel in sy mond speel om gewoond te raak aan die gevoel daarvan. Jy moet egter self die eintlike borselwerk doen en ’n sirkel-borseltegniek gebruik.”

Jy moet ook nou jou peuter se tandjies begin vlos, beklemtoon sy.

“Hy sal nie self sy tande skoon genoeg maak nie, en julle moet dus nog volle verantwoordelikheid daarvoor neem. Hierdie roetine moet twee keer per dag herhaal word.”

Ronel verduidelik dat vlos noodsaaklik is omdat ’n tandeborsel nie tussen die peuter se tandjies kan skoonmaak nie en ’n groot persentasie van kariës (tandbederf) tussen die tande vorm as gevolg van kos en plaak wat nie deur vlos verwyder word nie.

“ ’n Tand het vyf kante wat skoon gehou moet word: die bovlak, die twee kante, en die dele tussen die tande. Met ’n tandeborsel kan ons slegs die bovlak en die twee kante skoon hou. Vlos is verantwoordelik vir die skoonmaak van die dele tussen die tande.”

Maar hoe kry jy ’n eenjarige se tande gevlos? Die Johannesburgse kindertandarts dr. Angela Gilhespie, skrywer van die boek The ABC’s of children’s teeth, vertel sy het gevind hoe vroeër sy haar kinders se tande begin vlos, hoe makliker is dit, omdat twee- tot driejariges dikwels meer weerstand bied teen nuwe gewoontes.

Die volgende metode het baie goed vir haar gewerk: Maak dit ’n troeteloomblik saam met jou kind. Laat jou japsnoet op haar rug op die bed lê met haar kop op ’n kussing bo-op jou bene of skoot terwyl haar bene tussen joune lê. (Jy kan ook in hierdie posisie haar tandjies met ’n elektriese tandeborsel borsel. Moenie dan water gebruik nie – gebruik net ’n droë smeersel tandepasta.)

Laat sy haar mondjie oopmaak en vlos versigtig tussen haar tande. Jy kan die vlos met ’n effense saagbeweging tussen die tandjies inkry (maar maak seker jy beskadig nie die tandvleis nie) en dan die vlos in ’n C-vorm om elke tandjie vou terwyl jy dit so drie keer op en af beweeg om die plaak af te skraap. Doen dit met elke tand. Verwyder weer die vlos met ’n ligte saagbeweging.

Vrot se vriend

Seker een van die grootste sondes wat ouers van babas en peuters pleeg as dit kom by hul kinders se tande is die gebruik van drankies wat suiker bevat om hul kleingoed aan die slaap te maak.

“Die aanhoudende gebruik van ’n bottel gevul met melk, suikerwater, versoete drankies of vrugtesap sal lei tot ‘bababottelsindroom’ ”, verduidelik Ronel.

“Dit is wanneer al die voortandjies wat bo uitgekom het slegte plekke ontwikkel. Dit gebeur omdat die voortandjies heeltyd blootgestel word aan vloeistowwe wat baie suiker bevat en tande laat sleg word. Dit lei tot die vorming van plaak en verhoog die suur in jou kind se mond, wat baie vinnig tandbederf veroorsaak.”

Sy beveel aan dat jy net water in die heel laaste bottel skink, sodat geen suiker in die mond is terwyl hy slaap nie, en dat jy die bottel verwyder sodra baba slaap.

“Vermy ook die gebruik van medisyne met ’n hoë suikerinhoud. En hou so gou moontlik op om vir jou kind ’n bottel te gee, verkieslik tussen 12 en 15 maande,” is Ronel se raad.

Angela waarsku ook teen te veel sap, selfs al is dit verdun, omdat dit so ’n hoë suurinhoud het.

Elektriese tandeborsel?

Hou jou kind nie van tande borsel nie? “Skaf ’n elektriese tandeborsel aan,” sê die Pretoriase tandarts dr. Ronel Podde. “Oral B het ’n goeie reeks. Kinders vind dit snaaks en interessant en borsel so makliker tande. Elektriese tandeborsels se borselkoppies is ook baie klein en so word moeiliker toeganklike areas geborsel. Dit draai verder teen 3 000 revolusies per minuut, iets wat die hand nie kan doen nie, en is dus baie doeltreffender.”

So borsel jy reg

  • Borsel die voorkant of buitekant (labiale kant) van al die tande met klein sirkelvormige bewegings.
  • Borsel bo-op die tandjies (die oklusale oppervlak) in vorentoe-agtertoe-bewegings.
  • Borsel die binnekant van die tandjies (linguale kant) weer met klein sirkelbewegings.
  • Borsel jou kind se tong omdat daar baie plaak op die tong self voorkom wat slegte reuke en smaak tot gevolg kan hê.

Hoe lank moet ek borsel?

Jy behoort jou kind se tande twee minute lank te borsel, dus 30 sekondes per kwadrant, sê Ronel. “Die mond word in vier dele gedeel in die middel bo en die middel onder, dus is daar vier kante wat elk ’n kwadrant genoem word.”

Wat van grootmens-tandepasta?

Kinders tot en met vier jaar behoort tandepasta sonder enige fluoried (wat jy in grootmens-tandepasta kry) te gebruik.

Ronel verduidelik waarom: “Die ouderdom twee tot vier is ’n tyd waarin fluorose (’n toestand waar wit vlekke op die ontwikkelende tande vorm as gevolg van te veel ingeneemde fluoried) baie maklik ontstaan. Peuters van dié ouderdom sluk die meeste van hul tandepasta en kan as gevolg daarvan te veel fluoried inkry. As fluoried-tandepasta wel gebruik word, moet ’n spikkel net so groot soos ’n ertjie op die tandeborsel geplaas word.”

Moet ek flouriedpilletjies gee?

Dit is baie belangrik om eers doodseker te maak dat jou kind nie reeds genoeg fluoried inneem deur fluoriedbevattende water, kos of formulemelk nie, sê Ronel.

“Fluoriedpilletjies soos Zymafluor of Listerfluor word sistemies ingeneem en kan slegte gevolge soos fluorose hê. Die hoeveelheid fluoried wat in die water voorkom in die omgewing waar jy bly kan by die munisipaliteit nagegaan word, want dit verskil drasties van streek tot streek.” Praat met jou tandarts daaroor.

Wanneer moet my kind die eerste keer 'n tandarts besoek?

Jy behoort jou kind tandarts toe te neem terwyl daar nog niks met sy tande verkeerd is nie, is Ronel se raad. “Dit sorg dat die eerste besoek aan die tandarts ’n vriendelike besoek is en dat jou kind sien hy hoef nie bang te wees nie. Die eerste besoek word aanbeveel sodra die eerste tandjie verskyn het.”

Moet ek my peuter se tande by 'n tandarts laat verseël?

’n Eenvoudige manier om slegte plekke bo-op tande te voorkom is om ’n fissuurseël in te sit, sê Ronel. “ ’n Fissuurseël verseël die kou-oppervlaktes. Dit maak die groewe in die tande dus vlakker sodat geen kos of bakterieë daarin kan beland nie, en dis makliker om skoon te hou omdat dit vlakker is.

Fissuurseëls is egter omstrede. Omdat 90 per- sent van kinders onder 18 wel die een of ander vorm van tandbederf het, moet elke kind geëvalueer word en die nodigheid van ’n fissuurseël bepaal word.

Die tandarts sal die besluit neem, maar geskikte kandidate is dié kinders wat klaar slegte plekke op enige van hulle groot agtertande het, of kinders wat ’n diep fissuur het waar kos kan gaan vassit wat moeilik met ’n tandeborsel verwyder kan word. Fissuurseëls word afgeskraap soos ons eet, dus is dit van kardinale belang dat die seëls met elke sesmaandelikse ondersoek geëvalueer word.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees