Het jy hare op jou tande nodig wanneer dit by jou peuter en sy tandeborselroetine kom? Jy is beslis nie alleen as jou kleinding tussen 18 maande en vier jaar oud dikwels weier om te borsel nie.

Die eerste lesse in mondhigiëne val ongelukkig saam met die ontwikkelingsfase waarin peuters baie graag vir die wêreld wil wys hulle is selfstandige wesens (wat byvoorbeeld self sal besluit of hul skoon tande wil hê of nie).

Moet ook nie hul onlangse herinnering aan pynlike tande kry vergeet nie – dit kan peuters ook ontmoedig om te begin borsel. Maar, sê kenners, as jy pret en plesier inspan, is daar dalk hoop.

Dié wenke sal jou woelwater motiveer om sy tande gereeld en goed te borsel:

  • Speel na-aper. Spring op een beentjie en trek skewe gesigte en vra jou peuter om jou na te aap. Gryp die tandeborsel en begin jou tande borsel sodra hy dié speletjie begin geniet.
  • Tandeborsels is pret! Laat hom toe om sy tandeborsel as ’n speelding te gebruik. Por hom aan om sy teddie se tande daarmee te borsel, of laat hom toe om joune te borsel.
  • Vertel ’n storie. Terwyl julle tandeborsel- tandeborsel speel, kan jy hom vertel waarom ons ons tande moet borsel.

Jou storielyn kan min of meer só verloop: Die taai goed (suiker) in ons kos gaan sit vas op ons tande. As die suikergogga dit sien, is hy baie bly want dan kan hy gate in jou tande begin kap. Ons moet dié taai goed dus van ons tande afhaal – met tandeborsels en tandepasta. As ons dit nie doen nie, sal ons tande nie meer sterk wees nie. En later sal dit ook nie meer wit wees nie ...

As jy dalk ’n stopsel het, wys dit vir hom. Sien is glo. Daar is ook baie oulike gratis toepassings, speletjies en video’s met ’n soortgelyke boodskap wat jy op jou slimfoon kan aflaai. Soek dit onder ”mouth hygiene and kids” of ”toothbrush games” in aanlynwinkels.

  • Gee hom beheer. Neem hom saam winkel toe en laat hy self sy tandeborsel kies. Laat hom ook toe om self die tandepasta op te sit, al is dit meer of minder as die aanbevole ertjiegrootte.
  • Lei sy aandag af. Speel musiek of wys ’n video terwyl hy tande borsel. Liedjies en video’s wat spesifiek vir dié doel ontwerp is, is beskikbaar op die internet. Die meeste daarvan is gratis en duur twee minute om seker te maak jou kleinding borsel sy tande 120 sekondes lank.
  • Koel toerusting. ’n Elektriese tandeborsel of een met ’n liggie wat flikker vir die minuut of twee wat hy moet borsel, kan die geesdrif aanvanklik aanblaas.
    Onthou net elektriese tandeborsels is nie noodwendig beter as tradisioneles nie – die regte tegniek en hoe gereeld ons borsel is belangriker. 
  • Speel ’n speletjie soos dié: Gaan op safari in sy mond en soek al die diere wat tussen sy tandjies wegkruip. As julle die diere kry, borsel hulle.
  • Gebruik ’n buitekontrakteur. As hy nie na jou wil luister nie, laat sy geliefde speelding die ”praatwerk” doen. Hiervoor sal jy jou versteekte talent as buikspreker moet inspan.
  • Laat hom begaan. As hy verkies om die borseltjies net te kou, laat hy dit doen. Dit is beter as niks en sal ten minste help om die tandeborselroetine te vestig.

Wat as hy bly weier?

Sommige kinders wil regtig nie tande borsel nie. As joune een van hulle is, is hier ’n paar planne om te sorg dat hul tande tog skoon bly.

  • Spoel sy mond met water uit – nie net voor hy gaan slaap nie, maar ook ná ete en veral nadat hy soetgoed geëet het. As dit enigsins moontlik is, kan jy sy tandjies ná ete met ’n lap afvee.
  • Gee jou kind gereeld water om te drink. Dit help met spoegvloei wat op sy beurt tande beskerm.
  • Skaf xilitol-jel aan. Die jel is veilig as dit ingesluk word en peuters kan dit self aan hul tandjies smeer.
  • Gee hom ’n stukkie kaas voor slaaptyd. Navorsingstudies waaroor in die Mei/Junie 2013-uitgawe van die joernaal General Dentistry berig word, het gewys dat kaas sure op die tandoppervlak neutraliseer en die tande dus teen plaak beskerm.
  • Moet hom nie toelaat om met ’n bottel te gaan slaap nie, selfs al is dit melk. Bottels veroorsaak dat daar altyd vloeistof op die tandoppervlak is, wat weer keer dat die natuurlike spoeglagie die tande beskerm.
  • Gebruik jou vinger as ’n tandeborsel. Jy kan ’n stukkie gaas om jou vingerpunt draai en die tandepasta daarop sit.
  • Beperk soetgoed, gaskoeldrank en selfs vrugtesap, wat ook ’n hoë suikerinhoud het. Bakterieë voed op die suiker in kos en vorm dan ’n suur op die tande wat die oppervlak sag maak en die emalje beskadig. Probeer om vrugtesap met ’n strooitjie te drink en gee liefs suikervrye kosse soos springmielies en ryskoekies as bederfkos.

Hoekom is peuter-tandesorg so belangrik?

Kinders is oor die algemeen taaier as wat ons dink – behalwe as dit by hul gebit kom. Jou peuter se tandemalje is nie naastenby so sterk soos joune nie – kenners sê dit is tot 50 persent dunner as dié van volwassenes.

Wanneer suiker dus hul tandemalje aanval, slaan die skade vinniger én in ’n erger graad toe. En as enige moontlike skade nie dopgehou word nie, sal dit omskakel in tandverrotting. Dít is hoekom gereelde tandartsbesoeke so belangrik is. Tandbederf het boonop ’n baie slegte invloed op kinders, van hul eetlus en immuunstelsel tot hul emosionele welstand.

Dit is ’n groot mite dat melktande onbelangrik is. Babatande wat goed versorg word, baan die weg vir gesonde permanente tande.