Blitsige bone

akkreditasie
Boontjies is ware wonderkos. Ons vertel hoe jy en jou peuter kan floreer op 'n boontjierank of twee.

Bone, lensies en ertjies is almal deel van een groot gesonde familie wat ons peulgroente noem. Hulle is presies wat hul naam sê: groente wat in ’n peul groei. As jy ’n gesonde peuter wil hê, is dit tyd dat jy hierdie familie meer gereeld vir ete nooi.

Hoekom bone?

Peulgroente is behoorlik in die kollig omdat dit soveel gesonde eienskappe het. Wêreldwyd begin ál meer mense die gesondheidskrag daarvan sien en proe.

Dit is ’n uitstekende bron van proteïen, cholesterolvry en bevat feitlik geen vet nie. Hierdie eienskappe maak dit ’n baie goeie vleisvervanger; nie net vir peuters wat hul neusies optrek vir vleis nie, maar af en toe ook sommer vir die hele gesin.

Die lae glikemiese indeks beteken dat bone alleen, as deel van ’n maaltyd, of binne-in iets weggesteek sal help om jou woelwater se bloedsuiker meer konstant te hou.

Peulgroente is ook propvol fitochemikalieë. Hierdie groot woord is eintlik net ’n sambreelterm vir al die goeie goed wat bo en behalwe voedingstowwe in plante voorkom. Fitochemikalieë help om jou gesin te beskerm teen hartsiektes, diabetes, hoë bloeddruk en kanker.

Die groot hoeveelhede vesel in hierdie familie is soos medisyne vir jou hele familie. Die doppie bestaan uit growwe vesel, wat die derm kielie en so help dat jou klein mensie se magie gereeld werk. Die binnekant van boontjies, lensies en ertjies bestaan uit sagte vesel wat weer help om haar pappa se cholesterol laag te hou.

Maklike bone

Jy het dalk al, ewe vasberade om meer bone te eet, ’n pakkie droë bone gaan koop. Maar al jou idees het vinnig by die deur uitgewaai toe jy jou Kook en Geniet uithaal en sien dat jou botterbone eers oornag moet week en dan ’n volle vier uur lank moet kook.

Met ’n drukkoker kan hierdie proses heelwat verkort word, maar as selfs dit te veel moeite is met ’n peuter wat aan jou soom klou, kan jy gerus maar ’n blikkie koop.

Blikkies bone bevat wel sout, maar vir ’n besige mamma is dit beter as geen bone nie. Lensies kan maklik en vinnig van droog af gekook word, min of meer op dieselfde manier as rys. Maak seker jou gesin kry minstens drie keer per week peulgroente op die een of ander manier in. Om bone vir ete te nooi, is maklik.

Peulgroente vir baba?

Heelparty mense gril ’n bietjie vir die tekstuur van peulgroente. Deur jou baba van kleins af daaraan bloot te stel, kan jy haar help om van vroeg af gewoond te
raak aan die snaakse mondgevoel.

Jy kan dit van ses maande af begin gee. Omdat peulgroente baie vesel bevat, behoort ons nie groot hoeveelhede vir babas te gee nie; dit maak hul magie te vol. Gee liewer klein hoeveelhede meer gereeld. Vir baba moet dit natuurlik nie sout bevat nie en daarom is blikkies bone vir eers uit.

Lensies het nie so baie tyd soos bone nodig om sag te kook nie en kan maklik sonder sout gaargemaak word. Begin met rooi- (of gesplete) lensies wat jy saam met rys of maalvleis vir jou baba kook.

Van ongeveer nege maande af kan jy ook bruinlensies kook en vir jou klein mensie gee om tydsaam met haar vingertjies te eet. As jy self bone sonder sout kook, kan jy van agt maande af klein hoeveelhede begin gee. Ná haar eerste verjaardag kan jy geblikte bone ook begin gee.

Oostewind

Een van die redes waarom jy dalk self ’n bietjie skrikkerig vir bone is, is omdat dit heelwat gas produseer wat ’n onaangename verleentheid kan veroorsaak.

Dit gebeur wanneer dele van die boontjie wat nie verteer kan word nie, deur bakterieë in die dikderm afgebreek word. Hierdie bakterieë produseer gas wat êrens ’n uitkomplek moet kry.

Om die gasse te verminder, begin deur klein hoeveelhede peulgroente te eet en maak dit geleidelik meer. Maak seker dat jy genoeg water drink en eet gereeld bone sodat jou ingewande daaraan gewoond kan raak.

Bone wat jy self kook sal minder gas vorm as geblikte bone, aangesien daar ’n paar ekstra dinge is wat jy kan doen. Volg die aanwysings hieronder en vries jou bone in blikkie-grootte porsies sodat jy maklik net kan uithaal.

Watter bone?

Al die bone smaak min of meer dieselfde. Dit beteken dat jy eintlik enige soort boon in ’n resep kan gebruik. Mense kies bone volgens hul voorkoms eerder as hul smaak. Witterige bone soos botterbone of kekerertjies pas by hoender, en donkerbone soos suikerbone, rooi nierbone en rooi gespikkelde bone pas by rooivleis.

Verskillende kleure bone saam in een gereg vorm weer ’n mooi kontras wat sommer lekker lyk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees