Bly by my

akkreditasie
Elke keer as jy net in die rigting van die deur begin stap, bars jou baba in trane uit. Wees gerus, dis heeltemal normaal.

Iewers tussen agt maande en drie jaar oud gaan ’n ding met die naam skeidingsangs sy kop uitsteek. Dis nie lekker nie, en dit kan jóú ook laat angstig voel, maar hierdie fase is deel van jou kind se normale ontwikkeling. Dit beteken nie dat sy altyd ’n klouerige kind of afhanklike mens gaan wees nie.

’n Positiewe manier om daaraan te dink, is dat dit ’n teken van jou baba se toenemende intelligensie is. Toe sy nog baie klein was, het sy nie eens besef hoe broos en hulpeloos sy is nie.

Maar nou leer sy ál meer van die wêreld, en sy begin besef dat sy heeltemal van jou afhanklik is. Dis dus te verstane dat sy angstig voel as jy nie naby is nie. Sy weet ook nog nie dat jy steeds aanhou bestaan en omgee as sy jou nie kan sien nie. Dít is iets wat sy nog moet leer.

Skeidingsangs is dus ook ’n teken dat jy en jou baba goed gebind het, en dat jul verhouding vir haar belangrik is. Dink net hoe sou jy gevoel het as dit haar nooit geskeel het of jy nou daar is of nie!

Hier is ’n paar wenke om dié fase gladder te laat verloop:

  • Probeer self kalm en geduldig bly terwyl sy aan die ontwikkel is. Sy is nog klein en jy kan haar nie dwing om iets te verstaan waarvoor sy nog nie gereed is nie. Nog ’n manier om seker te wees dat jou eie angs sake nie vererger nie, is om heeltemal gelukkig te wees met die mens of mense in wie se sorg jy haar laat. Jou kind sal aanvoel as jou houding teenoor hulle positief is.
  • Speel speletjies waarin skeiding deel van die spel is, soos wegkruipertjie of kiekeboe. Jy kan ook voorwerpe onder ’n lappie wegsteek en haar vra om dit te ontdek.
  • Oefen om tatta te waai, uit die vertrek te gaan en dan dadelik weer terug te kom.
  • Jou baba of kind sal veral nou baat by ’n voorspelbare roetine. As sy weet wat om elke oomblik van die dag volgende te verwag, sal sy baie meer geborge voel. Probeer om ontwrigtings van enige aard ’n paar maande lank te beperk waar jy kan.
  • Kies jou tye goed. Dis natuurlik onmoontlik om 24 uur van elke dag by jou kind te wees, maar probeer ingestel wees op haar ritmes sodat jy jou weggaantye goed kies. Moet byvoorbeeld nie probeer wegglip as jou kind baie moeg, honger of rusteloos is nie, of pas wakker geword het nie.
  • Hou jou beloftes sodat jou kind kan weet dat sy altyd op jou kan vertrou en dat wat jy sê, waar is. Moenie sê jy is oor vyf minute terug, en dan kom jy eers ure later weer nie.
  • Moenie net verdwyn nie – dis vir jou kind vreesaanjaend. Sê tot siens, gee ’n druk en ’n soen, verseker haar jy kom weer, en dan loop jy. Moenie self emosioneel raak en huil nie. Wees ferm en vriendelik.
  • Moet nooit jou kind met onttrekking dreig of straf nie. Uitsprake soos “ek gaan wegloop as jy weer stout is”, is beslis ’n moenie.
  • Maak seker jy en jou kind deel elke dag alleentyd saam, waar jy net op haar kan fokus. Laat sy dan jul spel lei.
  • Gee ekstra liefde wanneer jou kind angstig voel. Leer haar ook die name van haar emosies deur te sê wat jy dink sy voel. So sal sy leer om self haar vrese te verwoord, wat ’n groot deel van emosionele intelligensie uitmaak. Moet nooit die spot dryf met haar emosies of dit afmaak as oordrewe of onnodig nie.
  • Moenie bangmaakstories vertel waar sy kan hoor nie, want dit kan die indruk wek dat die wêreld ’n onveilige plek is.
  • As jul gesin onlangs ’n trauma beleef het, soos egskeiding, dood, ’n inbraak of ’n ongeluk, kan dit ’n skeidingsangstigheid veroorsaak wat erger as normaal is. Oorweeg in so ’n geval gerus gesinsberading.

Onthou

Skeidingsangs kan 'n paar keer in 'n kind se lewe voorkom en 'n paar maande duur. Dit behoort nie aanhoudend te wees nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees