Marta is vol fiemies

Sy trek haar neus opsy

Kool wil sy nie eet nie

Pampoen laat sy ook bly

Haar rok is kastig lelik

Sy wil g'n voorskoot dra

En as 'n mens net met haar speel

Gaan sy by ouma kla 

-Tienie Holloway 

Hierdie versie, wat dekades gelede al geskryf is, wys dat kosfiemies niks nuuts is nie. Hoe ons dit hanteer, verskil dalk van hoe ons oumas en oumagrootjies dit aangepak het. Of dalk moet ons juis doen wat hulle gedoen het?

Ons het by Deborah Jacobson, ’n kinderdieetkundige van Johannesburg, gaan hoor hoe om kosfiemies te hanteer. Die eerste stap is om seker te maak jou verwagtinge oor jou peuter se eetlus is op koers, sê Deborah.

“ Kinders se eetlus neem ná hul eerste verjaardag af omdat hul nie meer so vinnig groei soos voorheen nie. Hulle stel dan baie meer belang in die wêreld om hulle as in stil sit en eet.”

Maak dus seker die porsies wat jy aanbied is die regte grootte vir ’n peuter. Dít is nagenoeg ’n kwart van ’n volwasse porsiegrootte. Baie dieetkundiges hou daarvan om die grootte van die handpalm as maatstaf te gebruik. Daarvolgens behoort ’n porsie vleis so groot soos jou kind se handpalm te wees.

’n Porsie groente hoef nie groter as een of twee eetlepels te wees nie. Goed dan, min kos is aanvaarbaar – maar hoe gemaak as sy niks wil eet nie? Of selfs nie eens wil proe aan die eier of ertjie nie? Moet jy toegee en haar geliefkoosde aarbeijogurt voorsit?

“Kinders moet aan ’n verskeidenheid kossoorte blootgestel word en dit moet herhaaldelik gebeur,” sê Deborah. Dit voel dalk vir jou soos vermorsing, maar wanneer die porsies die regte peutergrootte is, is dit eintlik baie min kos – hou dus aan om die kos aan te bied waarvoor jou peuter neus optrek. “Dit kan ’n rukkie duur voor sy die kos aanvaar. Soms gebeur dit ná 20 of meer kere!”

Die beste raad aan ouers of wie ook al saam met die peuter aan tafel sit, is om self gesond te eet. ”Julle is hul rolmodelle,” sê Deborah.

Tyd vir iets nuuts

  • As jy ’n nuwe kossoort bekendstel, sit dit voor jou kind neer sonder om te veel van ’n ophef te maak.
  • Laat haar toe om die onbekende vorm, tekstuur en kleur te ondersoek. As sy teen die einde van etenstyd niks daarvan geëet het nie, neem bloot haar bord weg sonder om iets daaroor te sê.
  • Stel nuwe kosse een vir een bekend – moet dus nooit meer as een onbekende kossoort op haar bord skep nie.
  • Beproef iets nuuts wanneer jou peuter honger is. Goeie tydsberekening is dalk al wat tussen haar en daardie veselperske lê.
  • Maak seker daar is altyd ten minste een kossoort op jou peuter se bord waarvan sy hou.
  • Etenstyd moet verkieslik kalm en stil wees. ’n Televisiestel wat op die agtergrond blêr of vaagweg sigbaar is, is ’n groot taboe. Jou peuter sal in sulke gevalle glad nie in die kos belangstel nie.

Is kul vuilspel?

Een van die suksesvolste kunsies wat ma’s inspan om groente in hul kinders se lyfie te kry, is om dit in geregte soos maalvleis te verdoesel. Is dit reg?

“Dis altyd ’n goeie plan om soveel groente moontlik deel van jou gesin se maaltye te maak om die voedingswaarde van die geregte te verhoog. Maar dis ook belangrik dat jou kinders die groente- of vrugtesoort afsonderlik herken. Dít sal hulle help en leer om later dié gesonde kossoort self te kies,” meen die dieetkundige Deborah Jacobson.

Mooi so!

Is dit gepas om jou kind te beloon as sy haar blomkool en beet geëet het? Volgens Deborah is dit beslis ’n goeie idee. Jy kan dalk ’n sterkaart vir ouer peuters beproef. Die jongeres kan beloon word met baie positiewe woorde en dalk ’n ekstra storie voor slaaptyd. 

Wanneer dit meer as net fiemies is...

Weerstand teen veral nuwe kos wat vir hulle voorgesit word en onvoorspelbare gedrag tydens maaltye is deel van normale peutergedrag. Maar soms skuil daar tog meer agter kosfiemies. Wanneer ’n peuter byvoorbeeld
aanhou om veral sekere kossoorte te weier, kan dit dui op sensoriese probleme soos tassensitiwiteit. As jy so iets vermoed, maak ’n afspraak by ’n arbeids- of spraakterapeut. As daar bevind is jou kind is tassensitief, sal ’n spraakterapeut ’n dieet met tekstuurryke kos vir jou kind kan opstel.

Die moenies van moeilike eters

STAAN STERK Die versoeking om sommer enigiets vir ’n kind te gee net sodat haar magie kan vol word, is soms baie groot. Moenie in dié slaggat trap nie, waarsku Deborah. “Moet nooit jou kind se honger stil met kos wat baie kalorieë maar ’n lae voedingswaarde (met ander woorde gemorskos) bevat nie. Jou werk is om jou kinders bloot te stel aan gesonde voedselkeuses. Om dit te eet, is hulle werk.” Tensy hulle siek is, sal kinders altyd eet wanneer hulle honger is.

BLY KALM Dit is baie belangrik dat jy nie kwaad word (of vir jou kind wys jy is kwaad!) as sy nie die gesonde kos op haar bord eet nie. ’n Magsoorlog sal ontstaan en jou peuter sal jou woede as ’n wapen teen jou gebruik. Kinders eet dikwels beter saam met iemand wat nie so besorg is oor of hulle gesond eet of nie. Vra ’n versorger soos jul kinderoppasser of selfs haar juffrou om te help.

HOU BY DIE ROETINE Dit is belangrik dat peuters gewoond raak aan die roetine van onbyt, happietyd, middagete, happietyd en aandete. “Moet beslis nie ’n nuwe maaltyd berei as jou peuter die vorige een geweier het nie.”

HOU DIE VLOEISTOWWE DOP Hoewel dit belangrik is dat kinders genoeg vloeistof inkry, moet jy waak teen te veel veral suikerbelaaide vrugtedrankies. “Jou peuter behoort nie meer as 200 ml vrugtesap en sowat 400 ml melk per dag te drink nie,” sê Deborah. “Jy kan wel gereeld water gee. Suikerdrankies demp kinders se aptyt.”

Moeilike eters versus probleemeters

Hierdie eienskappe kan jou help om te onderskei tussen peuters met fiemies en dié wat werklik probleemeters is:

Peuters wat net hul neus optrek omdat hulle kan:

  • Eet ’n beperkte aantal kossoorte (sowat 30),
  • Verdra nuwe kos op hul bord en sal teësinnig daaraan raak of proe,
  • Eet ten minste een kossoort uit al die voedseltekstuur-groepe, en
  • Eet meestal ander kos as die res van die gesin, maar eet darem saam met die gesin. Peuters wat werklik probleemeters is en by terapie sal baat:
  • Eet ’n baie beperkte verskeidenheid kosse (meestal minder as 20 verskillende kossoorte),
  • Huil en word hewig ontsteld as nuwe kos aan hulle voorgesit word,
  • Weier ’n hele kategorie (en nie net een kossoort nie) wat in ’n sekere tekstuurgroep val, en
  • Gee dikwels voorkeur aan kos wat min of meer dieselfde smaak. Hulle hou dalk net van souterige of net van soet kos.