Jou peuter se nuwe onafhanklikheid gaan sommer vinnig kop toe. Skielik wil sy baasspeel en vir die wêreld wys dat sy nou groot is en self besluite kan neem; ook as dit by kos kom.

Sy gaan jou toets en kyk waar sy oral beheer kan kry en jy moet haar wys dat jy steeds in beheer is. Sy gaan ook besef dat die spinasie wat sy as baba so lekker geëet het, eintlik sleg is, en jy gaan nuwe maniere moet uitdink om dit in haar lyfie te kry.

Dis ’n maak- of-breek-tyd in jou kind se lewe en as jy nou die kosgrense reg vaslê, sal jy toekyk hoe sy tree vir tree te oulik vir woorde word.

Kos met ’n doel

Jou kleinding sal met elke ete ’n sjokolade, roomys of pakkie skyfies bestel as dit van haar afhang, maar as mamma is dit jou taak om haar lyfie te voed. Roomys en koeldrank maak ’n klein tweejarige se maag vinnig vol en dan is daar nie plek vir gesonde kos wat die voedingstowwe moet gee wat haar lyf nodig het nie. Voedingstekorte met ernstige gevolge ontstaan dan maklik. Kom ons kyk wat kos alles vir jou tweejarige moet doen.

Kos moet jou tweejarige …

Gesond hou Haar immuniteitstelsel is nog swak en as dit by kieme bestry kom, gaan sy dikwels die geveg verloor – veral as sy in ’n kleuterskool is. Vitamien A en C asook sink is veral belangrik om haar immuniteitstelsel sterker te maak. Maak seker dat sy elke dag genoeg daarvan in haar kos kry.

Optimaal help ontwikkel Sonder die regte voedingstowwe kan jou kleinding se lyfie nie reg gevorm word nie. Fluoried is nodig vir sterk tande en genoeg kalsium en vitamien D vir sterk bene en tande. Sy het ’n klein bietjie proteïen nodig om spiere te bou sonder dat dit haar niere oorlaai. Al die vitamiene en minerale word in ’n fyn balans benodig om ’n klein lyfie sentimeter vir sentimeter te laat groei!

Tatta leer sê vir fiemies Jou tweejarige moet sommer vinnig besef dat mamma besluit wanneer en wat geëet word, en dat sy kan besluit of sy wil eet en hoeveel sy wil eet van dit wat mamma voorgesit het. Stel vroeg al hierdie kosgrense vas – geen spesiale geregte of keuses nie. Leer haar om te aanvaar wat sy kry of honger te bly. So kan ’n mens onnodige fiemies vinnig vasvat. Werklike vrese vir nuwe kos of vreemde teksture kan stilletjies in ag geneem word deur een soort te kies wat jy weet sy sál eet.

Se brein laat groei en ontwikkel Die eerste drie jaar van jou kleinding se lewe is kritiek vir haar breingroei en -ontwikkeling, en daarvoor moet sy genoeg omega 3-vetsure inkry. Vetterige vis een tot twee keer per week sal dit verskaf. Genoeg yster is ook baie belangrik en ’n tekort kan ’n permanente ontwikkelingsagterstand en langdurige leerprobleme veroorsaak. Lewer, vleis en ysterverrykte pap is die beste bronne van yster.

’n Gesonde liggaamsgewig gee Baie tweejariges het ’n tipiese babalyfie en hulle mag maar meer vetjies as hul ouer boeties en sussies hê, maar binne die volgende jaar of twee moet al die babavet wegsmelt. Leer jou tweejarige om te luister na haar lyfie deur nie meer te probeer inkry as sy genoeg gehad het nie. Vermy lekkernye en koeldrank wat baie energie gee, maar geen voedingstowwe nie.

Jou tweejarige benodig elke dag:

  • 700 mg kalsium
  • 7 mg yster
  • 3 mg sink
  • 700 mg omega 3-vetsure (100-150 mg EPA + DHA)
  • 19 g vesel

So kry jy die regte kos in haar lyf

  • Stel ’n voorbeeld van gesond eet.
  • Maak gesond eet pret: Sit dit op ’n stokkie, pak ’n toring of prakseer ’n gesiggie.
  • Gee gesonde kos as sy baie honger is.
  • Moenie val vir fiemies nie.
  • Moenie spesiale kos maak nie.
  • Moedig aan, maar moenie dwing, omkoop of beloon nie.

Wat sy moet drink

Jou tweejarige behoort sowat vyf glase vloeistof per dag te drink. Twee daarvan is melk en drie water. Leer haar van vroeg af dat koeldrank en vrugtesap nie elke dag gedrink word nie deur self net water en melk te drink.

Voor twee behoort ’n kind nie tee te drink nie omdat dit ysteropname belemmer. Van twee jaar oud af kan sy af en toe ’n koppie rooibostee sonder suiker drink.

Spyskaart vir ’n tweejarige

Wat jou tweejarige min of meer in ’n dag moet eet

  • 5 halfkoppies stysel
  • 2 eetlepels vleis of vleisalternatiewe
  • 2 koppies laevet-melk
  • 5 middelslag-vrugte
  • 1 koppie groente
  • 6 teelepels gesonde plantolies
  • 2 teelepels suiker of konfyt of 2 klein lekkertjies