“Een van my vriendinne het dit eendag baie oulik gestel. Sy het gesê: ’Kinders is soos springmielies: Almal spring nie op dieselfde tyd nie’. En dit is so waar! Hoe minder druk ons op ons kinders uitoefen deur hulle met ander te vergelyk, hoe beter.” Aan die woord is Anri van den Berg, ’n ouerskaps-, verhoudings- en traumaberader by die Vita Nova-beradingsentrum in Elarduspark, Pretoria. Haar kollega by die sentrum, die kinderterapeut en maatskaplike werker Heske Stanger, stem saam dat elke kleuter ’n unieke mens is. En, sê sy, dis belangrik om kennis te neem van jou driejarige se unieke eienskappe terwyl haar breintjie aan die ontwikkel is. Driejariges se verstandelike ontwikkeling val in wat die pre-operasionele fase genoem word, verduidelik sy. Die Switserse ontwikkelingskenner Jean Piaget het dié fase beskryf as een wat van drie tot ses jaar oud strek en hoofsaaklik deur egosentriese denke gekenmerk word. “Driejariges het nie die vermoë om die wêreld uit ander se perspektief te beskou nie. Hulle sal byvoorbeeld dink dat as hulle honger voel, almal honger is.” As dit by driejariges se bewegingsvaardighede kom, leer hulle nou om groot sowel as klein motoriese vaardighede sonder doelbewuste inspanning te verrig. “Dit beteken ’n driejarige kan hardloop en omdraai sonder om daaroor te dink, waar hulle voorheen hard moes konsentreer om te hardloop,” sê Heske. “Dis ook in hierdie fase dat kinders leer om ’n reeks onafhanklike aksies by ’n ingewikkelder vorm van gedrag te integreer. Voorheen was dit byvoorbeeld hul doelwit om op en af te spring, maar nou maak die springery deel van ’n speletjie uit.” Wat kan jy dus alles van jou driejarige verwag?

Self aantrek

Driejariges kan hulle self aantrek, hoewel hulle met knopies en ritssluiters sukkel omdat hul fyn motoriese vaardighede nog nie so goed ontwikkel het nie, sê Heske.

So kan jy help

Dis baie belangrik dat jy geduldig geleenthede skep waar jou kleinding die kans kan kry om haar aantrekvaardighede te bemeester, sê Anri. “Dit kan beteken dat julle ’n rapsie vroeër vir skool moet begin regmaak. “Soos met die oefening van alle ander vaardighede moet jy liefs nie dadelik inspring en help as jy sien sy sukkel nie. Liefdevolle en geduldige, positiewe aanmoediging versterk haar selfvertroue en help bou aan die deursettingsvermoë wat nodig is om ’n nuwe taak te bemeester. “Deur geduldig te wag en aan te moedig, stuur jy ook aan jou kleinding ’n boodskap dat jy glo sy kan dit regkry. Moet haar nie aanjaag en te haastig word nie. Dis dalk ’n goeie plan om die klere met klein knopies en ritse vir naweke te los.”

Self kos en drinkgoed kry

Jou driejarige sal al met ’n bietjie hulp self ’n broodjie kan smeer, sê Heske. Hulle kan egter nog nie glase of bordjies heeltemal beheer nie, waarsku Anri. “Dis heeltemal normaal dat hulle soms mors as hulle met ’n glas water van een vertrek na die ander loop. Baie ouers verkies dit daarom dat hul kinders glad nie met glase vloeistof rondloop nie.”

So kan jy help

Anri se raad is dat jy jou driejarige die verantwoordelik gee om met haar glasie van die kombuis tot by die tafel te loop omdat dit ’n ideale leergeleentheid is. “Maak seker die glas is nie te vol nie en verduidelik kalm dat sy stadig en versigtig moet loop. Moenie te kwaai raas as sy mors nie. Dit kan haar selfvertroue om takies te vermag, ’n knou gee. “ ’n Vriendelike ‘o toggie, kom ons maak gou skoon’ is ’n goeie manier om te reageer. “Gee haar ’n lappie sodat sy kan help skoonmaak.”

Self speelgoed wegpak

Jou kleinding is heeltemal in staat om haar speelgoed weg te pak as sy weet waar dit moet kom, sê Heske.

So kan jy help

Vir baie ouers is opruimtyd in nagmerrie, sê Anri. “ ’n Voorspelbare roetine tuis maak klaar ’n groot verskil. Moenie leë dreigemente maak nie. “Om te sê: ‘As jy nie nou hierdie karretjies optel nie, gooi ek hulle weg!’ is nie juis deurvoerbaar nie en jou kind leer dus jy praat sommer net. “Daar is beter planne. Probeer opruimtyd in ’n speletjie verander en gee keuses. Kinders van hierdie ouderdom wil voel dat hulle beheer en keuses het. “Besluit op keuses waarmee jy gemaklik is soos ‘watter kleur karretjies wil jy eerste bêre? Die rooies of die bloues?’ ” Beloningskaarte is op dié ouderdom ook waardevol. Maak dit deel van julle vaste roetine: “As al die speelgoed voor badtyd opgetel is, kan jy ’n sterretjie kom kies en op jou kaart plak’.”

Speelgoed deel?

Dis normaal dat driejariges nie wil deel nie, sê Anri. Dis onder meer omdat hulle nog so egosentries is. “Ons moenie van ons kinders verwag om deel maklik baas te raak nie – daar is selfs baie volwassenes wat nie maklik deel nie!” Namate kinders ouer word, verander en ontwikkel die manier waarop hulle speel darem, sê Heske. “Teen drie tot vier jaar oud begin hulle meer met mekaar speel, terwyl hulle voorheen net met dieselfde speelding wou speel. Hulle sal dus begin om saam blokkies te bou.”

So kan jy help

Die kuns is om met geduld in te meng wanneer dit nodig is en oplossings te probeer vind, sê Anri. “Vrae soos ‘Hoe dink jy voel die maatjie as hy nie ’n beurt kry om met die blokkies te speel nie?’ kan help. Eindig met iets soos: ‘Watter plan dink jy kan ons maak?’ Kyk ’n bietjie hoe kreatief ’n driejarige met haar oplossings kan wees!”

Is my kind agter?

Verskeie faktore speel ’n rol wanneer kinders nuwe vaardighede aanleer, sê Heske. “Die belangrikste is om jou kind se gereedheid in ag te neem. Dit beteken dat ’n sekere mate van fisieke en emosionele volwassenheid nodig is voor jou kind ’n nuwe aktiwiteit kan leer. “Kinders se ontwikkeling word beskou as boublokke wat op mekaar volg, en jou kind kan nie die volgende blok bou as sy nie die vorige blok goed genoeg bemeester het nie. Navorsing wys dat wanneer kinders heeltemal gereed vir ’n nuwe aktiwiteit is, dit die minimum moeite en motivering verg om hulle dit te laat bemeester. “Onthou dat elke kleinding uniek is en dat hierdie plek van gereedheid vir almal verskil.” ’n Kleuter se konsentrasievermoë dra ook by tot die aanleer van nuwe vaardighede, sê Heske. “Kleuters tussen drie en vyf jaar oud kan nie noodwendig lang woordelikse opdragte uitvoer nie en leer die beste deur aktiewe nabootsing. Met ander woorde, ons moet hulle wys wat om te doen. “Dis ook belangrik dat hulle die nuwe vaardigheid inoefen deur dit oor en oor te herhaal, soms tot ons frustrasie. Gee ook aandag aan terugvoering. Hulle het nodig dat jy hulle motiveer om aan te hou tot hulle die aktiwiteit bemeester het.” Anri reken dat as jy ’n gebalanseerde omgewing skep waarin jou kind onvoorwaardelike liefde en aanvaarding ervaar, ’n omgewing waar jy as ouer ferm en konsekwent, voorspelbaar en regverdig optree, jou kind teen haar eie unieke tempo kan ontwikkel en floreer. Hou deurentyd in gedagte dat elke kleinding uniek is. “Ons leef in ’n tyd waar dit die norm geword het om ons kinders met ander kinders te vergelyk,” sê Anri. “Baie ouers meet hul waarde as mens aan die hand van hul kinders se prestasie en vordering. Ons verwag partykeer dinge van ons kinders bloot omdat ander kinders dit al kan doen of omdat hulle sus of so is. “Ek wens so ons kan dit regkry om ons kinders as 100 persent uniek geskape te beskou en ons fokus te verskuif van ander kinders se vermoëns na ons eie kinders se unieke menswees.” 

Kinders van drie jaar oud is egosentries en gaan nie maklik hul speelgoed met ander deel nie.
Getty Images
Jou driejarige kan ook:
  • ’n groot bal vang, gooi en skop,
  • haar basiese liggaamsdele benoem en die basiese funksies daarvan ken,
  • haar naam en van ken,
  • weet watter geslag sy is en dat seuns en meisies verskil,
  • self haar tande borsel as haar ouer help om die tandepasta op te sit,
  • self haar hare kam as dit taamlik beheerbaar is,
  • self opvee waar sy gemors het, en
  • die kat of hond kosgee as die kos maklik bereikbaar is.