book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Eetstaking!

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

My tweejarige het nog nooit vir die eerste span geëet nie, maar het darem altyd aan minstens een kossoort gepeusel wat ek voorsit. Hy eet egter die laaste ruk niks nie. Hoe hanteer ek sy eetstaking?

Anel Kirsten antwoord: My eerste brokkie raad is: Wees geduldig! Baie kinders deurloop ’n fase waarin hulle etes weier. Dit is veral tipies tussen 18 en 36 maande oud en dan maak dit gewoonlik deel van hul “onafhanklikwording” uit. Maak seker jou kind kry ’n maksimum van 500 ml melk per dag in (die ideale hoeveelheid is 380 ml) sodat aan sy basiese voedingsbehoeftes voldoen word. Moenie die fout maak om sy melk meer te maak omdat hy swak eet nie – meer as 500 ml melk per dag sal sy magie vol maak en dan gaan hy in elk geval nie wil eet nie. Moet nooit kyk na wat per dag geëet word nie – wat hy in die loop van ’n week eet, is belangriker. Kinders se eetlus en kosinname wissel van dag tot dag. Kyk na wat hy gemiddeld in ’n week inkry en of dit genoeg is. Hou aan om hom aan ’n groot verskeidenheid kosse bloot te stel. Hou aan om dit met etenstyd voor te sit, selfs al eet hy dit nie. Die herhaling sal hom help om die kos te leer ken sodat hy later gemaklik daarmee voel en dit nog later hopelik begin aanvaar en eet. Moet hom nooit dwing om te eet nie, al voel jy soms mismoedig. Moenie etenstyd te lank uitrek nie; beperk dit tot 30 minute om te keer dat hy slegte assosiasies met kos en etes begin vorm. Neem die kos weg as hy dit nie eet nie. Moenie kommentaar lewer of ’n bohaai opskop nie; hy sal dit as aandag beskou. As hy wel die slag sy kos eet of ’n nuwe kossoort beproef, kan jy ’n bohaai maak en hom gelukwens. So leer hy dat hy positiewe terugvoer kry as hy sy kos eet. Gee hom intussen maar ’n goeie multivitamien-en-mineraalaanvulling om seker te maak hy kry die nodige noodsaaklike voedingstowwe in en om voedingstekorte te voorkom.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees