Hierdie artikel is gepubliseer in die Februarie 2017 uitgawe van Baba & Kleuter.

Daar gebeur soveel in jou kind se brein en klein lyfie in die eerste 1 000 dae van sy bestaan. Jou baba word gebore met ’n brein waarin daar meer as biljoen selle is. Van dag een af word verbindings gevorm wat uiteindelik netwerke vorm.

Het jy geweet dat jy die bouer is van daardie netwerke? Met elke betekenisvolle kyk, glimlag, geselsie en aanraking word daar ’n sterk fondament gebou waarop leer en ontwikkeling kan plaasvind.

Selfregulering speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling, leer en welsyn van jou kind. Dit word ook toenemend beskou as ’n goeie voorspeller vir sukses later in jou peutertjie se lewe. 

Selfregulering in ’n neutedop 

Selfregulering is die vermoë om ons gedrag, emosies en denke te reguleer sodat dit vir die situasie toepaslik is. Jou kind leer mettertyd om:

  • Sy liggaam te reguleer sodat hy nie té lusteloos of té ooraktief voel nie,
  • Oorweldigende gevoelens soos opgewondenheid, frustrasie, woede en vrees te hanteer, en
  • Volwasse denke te ontwikkel sodat hy nie net deur sy gevoelens beheer word nie.

Om selfregulering te ontwikkel, moet jou kleinding veilig en gebonde voel. Hier vergelyk ons dit met ’n potplant: Die plant sal groei wanneer die grond waarin dit geplant is bymekaargehou word deur ’n pot. Net so het die ontwikkelende, onvolwasse brein ’n spreekwoordelike houer nodig wat alles bymekaarhou.

En dit is waar jy inpas. Jy is die houer wat jou kinders veilig hou en gebonde laat voel. Saam met die omgewing en aktiwiteite waaraan jy jou kinders blootstel, skep jy die ideale omstandighede waarbinne jou kleingoed selfregulering kan ontwikkel.

Het my kind ’n probleem?

Wanneer ’n kind sukkel met selfregulering, sal jy die volgende opmerk:

  • Slaapprobleme. Hy sukkel om aan die slaap te raak en/of aan die slaap te bly
  • Buierigheid
  • Geneigdheid om te oorreageer op kleinighede wat tot ontploffings kan lei.
  • Geneigdheid tot ongelukkigheid, vrese, angs en aggressie.

As jy wonder of jou kind se vermoë om homself te reguleer ouderdomstoepaslik vorder, kan jy ’n arbeidsterapeut, spelterapeut of sielkundige nader om ’n evaluering en raad. 

Het jy geweet? 

Die ontwikkeling van doeltreffende selfreguleringsvaardighede is vir sommige kinders makliker as vir ander. Kinders met ’n groter risiko is dié wat aan trauma en langdurige stres blootgestel word, kinders met ’n moeilike temperament, kinders wat neurologiese probleme het soos aandaggebrek en hiperaktiwiteit, dié wat met sensoriese verwerking sukkel en kinders op die outismespektrum

Doen dit so

Gebruik hierdie riglyne om jou peuter te help om sy selfreguleringsvaardighede aan te moedig en verder te ontwikkel.

1. Koester jou kind 

Selfregulering ontwikkel slegs wanneer kinders veilig voel binne ’n koesterende verhouding. Wanneer jou kind omring word deur ’n mamma, pappa, versorger, grootouers en juffrou wat sensitief, liefdevol en konsekwent is, voel hy veilig. Hy leer hoe dit voel om kalm en rustig te wees.

Wees ’n speurder. Hou jou kleintjie fyn dop en kyk watter uitwerking interaksies, omgewings of aktiwiteite op hom het. Raak hy dalk té opgewonde, ooraktief, huilerig of impulsief in ’n besige inkopiesentrum? Doen ’n paar eksperimente en kyk watter interaksies, omgewings en aktiwiteite hom help bedaar en hom reguleer. As jy hom op jou skoot tel en styf vashou, vir hom sy waterbottel gee om aan te suig en ’n sagte beertjie gee om vas te hou, word hy dalk kalm en kan julle die inkopielys klaarmaak.

Wees ’n goeie rolmodel. Jou kind leer ook deur jou dop te hou. Dit is ’n feit dat ’n kind meer leer deur dit wat jy doen as deur dit wat jy sê. Wanneer jou kind sien hoe sy ouers en versorger haar eie emosies en gedrag reguleer, leer hy hoe om dit self ook te doen. Dit is uiters belangrik dat jou kleingoed met verloop van tyd sien hoe hard jy werk om jou eie aksies, gevoelens en gedagtes te reguleer.

Maar jy sal net suksesvol wees met jou eie selfregulering as jy jouself ook oppas. Onthou die noodopdrag op vliegtuie: “Sit eers jou eie suurstofmasker op voor jy na kinders of bejaardes om jou omsien.” Skep tye vir oefening, omgee vir jouself, interaksies en aktiwiteite wat jou tenk volmaak.

2. Wees geduldig 

Selfregulering ontwikkel mettertyd. As ’n plantjie jonk is, is die pot baie belangrik om alles by mekaar te hou, maar namate die plant groter word, kan dit uit die pot gehaal en uitgeplant word. Jou baba en peuter het aanvanklik ’n volwassene nodig om die regulering vir hulle te help doen.

Namate jou kind ouer word en hierdie vaardighede leer, kan hy dit meer en meer self begin doen. Koester realistiese verwagtinge. Navorsing wys dat die menslike brein eers in die vroeë 20’s volle volwassenheid bereik. Hou daarom in gedagte dat kinders hulle eers veel later self kan reguleer as wat ons dink.

Dit help dus nie om van jou kind te verwag om in oomblikke van stres sy lyfie, emosies en denke te reguleer nie. In die hitte van die oomblik neem die primitiewe en emosionele deel van jou kind se brein oor. Dan help dit nie om opdragte te gee soos “word nou kalm!” of vrae te vra soos “wat is fout?” nie.

Dis dan belangrik om jou kind te laat besef dat die groot gevoelens wat hy beleef nie groter is as die grootmense in sy wêreld nie. Eers wanneer jou kind weer kalm, rustig en bedaard is, kan julle gesels oor wat op aarde nou gebeur het en hoe julle dink julle dit volgende keer kan hanteer.

3. Meer tyd saam met jou kind 

Oorskedulering, ’n tekort aan slaap, te veel skermtyd en ongesonde eetgewoontes speel ’n rol wanneer dit kom by die ontwikkeling van selfregulering. Begin beweeg en speel aktief. Sit jou foon neer, sit op die vloer en speel saam met jou kind. Wanneer jou peuter beweeg en aktief speel, stimuleer dit die bewegingstelsel in die brein en word goedvoelhormone afgeskei.

Maak seker dat jul daaglikse roetinespeletjies insluit soos stoei, kielie, tuimel, swaai, klim en klouter. Speletjies soos wegkruipertjie, vroteier, stomstreke en Monopoly bevorder self-reguleringsvaardighede. Kinders leer om hul beurt af te wag en hul impulse dus te beheer, opdragte te gee en te aanvaar, en frustrasie te hanteer wanneer iets verkeerdloop of as die ander een wen.