Nou jil sy van suiwer plesier, en enkele minute later huil sy verwoed omdat sy nie haar sin kan kry nie ...

Die peuterjare is byna soos mini-tienerjare: Jou japsnoet se emosies ry wipplank en tussendeur is daar gereelde uitbarstings. Die groot verskil is dat jou peuter nog nie haar emosies kan verwoord nie, terwyl die meeste tieners nie juis op hul mond geval is nie.

Tog is dit uiters belangrik om nou reeds aandag aan jou kleinding se emosionele ontwikkeling te gee, beklemtoon dr. Julie Cilliers, ’n opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein wat in emosionele intelligensie spesialiseer.

”Jy moet jou kleinding nou al begin leer hoe om haar emosies te hanteer, want ’n tiener wat vloerstuipe kry is nie meer snaaks of oulik nie! Peuters kan wel snaaks of oulik lyk as hulle kwaad word, maar dis hul ouers se verantwoordelikheid om die snaaksheid slim te hanteer deur die peuter bewus te maak van wat sy alles voel en hoe dit hanteer kan word. Lag liewer later alleen.”

Die goeie nuus, sê sy, is dat emosionele intelligensie – iets wat sy glo tot 80 persent van ’n mens se lewensukses kan bydra – aangeleer kan word. ”Dit beteken dat party nie met baie en ander met min gebore word nie. Almal kan emosioneel intelligent wees.”

Wat is EI?

Die woord emosionele intelligensie word deesdae baie rondgegooi, maar wat beteken dit presies?

Dr. Ronél le Roux, medeskrywer van Emosionele intelligensie vir kinders en tieners: ’n praktiese gids vir ouers en onderwysers (Human & Rousseau, 2003) beskryf dit as die vermoë om jou eie gedagtes en gevoelens te identifiseer, te verstaan en te beheer en dit gepas aan ander mense te kommunikeer.

Dis ook die vermoë om empatie te hê met ander mense se emosies, wat jou weer in staat stel om op ’n emosionele vlak met hulle ’n verhouding te hê.

Julie gebruik die Amerikaanse sielkundige Daniel Goleman se model om emosionele intelligensie te verduidelik. Volgens hom sluit emosionele intelligensie die volgende in:

  • OPTIMISME Dit verwys na jou peuter se vermoë om te vertrou dat alles met hom goed sal gaan en dat jy vir hom sal sorg.
  • IMPULSBEHEER Dit behels dat jou peuter moet leer om sy behoeftebevrediging uit te stel en is een van die moeilikste vaardighede om baas te raak.
    Hoewel impulsbeheer deel uitmaak van emosionele intelligensie, is peuters te klein om dit werklik suksesvol toe te pas. Jou peuter het nie noodwendig die vermoë om sy honger of dors te gaan bêre nie! Jy kan wel daaraan begin werk, byvoorbeeld deur jou peuter ’n minuut te laat wag tot jy boetie se doek geruil het voor hy kan koeldrank kry.
  • EMOSIONELE HERKENNING EN BEHEER Jou kind moet leer om sy emosies te herken (ek is nou kwaad) en hoe om dit te hanteer (daarom moet ek nou gaan trampolien spring dat die kwaadmannetjies kan uitkom). Dit help soms as jou kind sy emosies kan visualiseer en so hanteer.
  • EMPATIE Dit behels die vermoë om jou in iemand anders se skoene te plaas. Dit is ook betreklik moeilik vir ’n peuter om baas te raak.
  • INTERPERSOONLIKE VAARDIGHEDE Dit gaan oor hoe om ’n goeie maatjie te wees. Omdat jou peuter nog egosentries is, ontwikkel hierdie faset eers later werklik. Peuters speel nog langs mekaar en nie met mekaar nie, en op hierdie ouderdom behels dit dus basies net om nie die maatjie langs hom te klap, byt of skop nie!

Klein begin is half gewin

Jy kan jou baba se emosionele intelligensie van dag een af al begin bou, reken Ronél.

“Elke keer as jou baba huil en jy aandag gee aan haar behoeftes, versterk jy haar gevoel dat jy empatie met haar het en vir haar omgee. Empatie is een van die heel belangrikste vaardighede wat jy jou kind kan leer.”

Ronél sê die idee dat jy ’n baba kan bederf deur haar op te tel as sy huil is uitgedien en deur ’n baba alleen in haar kamer te laat huil, leer jy haar dat koestering ’n skaars item is. “Liefde kan nie ’n baba bederf nie.”

Die peuterjare is die ideale tyd om op hierdie basis van emosionele intelligensie voort te bou, want kinders is dan meer ontvanklik vir leer en ervaar ook allerhande wisselende emosies, sê Ronél.

“Die eienaarskap van ’n gevoel is een van die eerste vaardighede wat ’n kind moet leer, byvoorbeeld: ‘Ek word kwaad’ pleks van ‘Jy maak my kwaad’. Dit is hoe kinders kan leer om nie almal en alles rondom hulle vir hul gevoelens te blameer nie.”

Julie beaam dat die peutertyd besonder belangrik is vir emosionele ontwikkeling. “As ’n kind se behoeftes in die eerste lewensjaar vervul is, het sy hoop ontwikkel en as peuter is sy dus reeds in staat om mense te vertrou.

“In die tweede lewensjaar moet sy wilskrag ontwikkel en op twee gaan sy die behoefte hê om self te probeer om dinge te doen.

“Dis belangrik dat jy jou kinders dan toelaat om hul onafhanklikheid uit te oefen, byvoorbeeld deur self ’n trui aan te trek, al duur dit langer. As sy sukkel, moet jy die mislukking op ’n simpatieke manier hanteer sodat jou kind se selfvertroue nie geskaad word nie en sy so wilskrag opbou.”

EI vir die peutertyd

Benut die unieke eienskappe van die peuterjare om jou kleinding se emosionele intelligensie te ontwikkel. Koester ook realistiese verwagtinge oor die vlak van emosionele intelligensie wat jy op dié ouderdom kan verwag.

“Die peuterjare is die begin, en eintlik moet jy dus geen verwagtinge hê nie. Jy moet net weet waarheen jy met jou kind op pad is,” sê Julie. Hier is ’n paar wenke:

Peuters ervaar sterk emosies

Julie sê peuters het reeds emosionele belewenisse en word kwaad en hartseer, soos ’n mens kan sien wanneer hulle vloerstuipe het. Jy kan jou kind in hierdie stadium al begin bewus maak van haar emosionele belewenisse deur te sê: “Ek sien jy is bang. Kom sit styf teen my.” of “Ek sien jy is kwaad. Gaan spring op en af.’”

Peuters is nuuskierig

Dis een van die hoofeienskappe van ’n peuter en kan positief aangewend word omdat hulle graag meer oor hulself en ander wil leer, sê Julie.

Kyk saam TV en praat oor die karakters se emosies en of hulle reg of verkeerd optree. Wys uit wanneer hulle reg of verkeerd optree, soos om te sê: “Daardie seun voel kwaad. Hy moet eerder gaan water drink voor hy so kwaad wil motor bestuur!” So word die televisie as leerskool ingespan.

Peuters hou van herhaling

Blaai saam met jou kind deur boeke of tydskrifte en gesels oor hoe die mense daarin voel en wat ’n mens behoort te doen as jy so voel, sê Julie.

Hou jou kleinding daarvan om dieselfde storie oor en oor te hoor? Benut dit gerus om begrip vir haar verskillende emosies vas te lê en die gepaste manier om daardie gevoelens te hanteer.

Peuters hou van beweeg

Leer jou kind om beweging in te span om haar emosies positief te hanteer. Laat haar spring as sy kwaad is of wieg as sy hartseer voel.

Peuters hou van kuns en handwerk

Laat jou kleinding verf hoe sy voel eerder as dat sy daaroor praat, sê Julie. As die prentjie geverf is, vra: “Vertel my van jou prentjie.” (Moenie vra wat sy geteken het nie; dit sal haar selfvertroue skaad!)

Moedig haar aan om met klei te bou as sy vir iets of iemand kwaad is. Gesels daaroor en dan kan sy daardie kleivoorwerp in klein stukkies breek. Dit is wonderlike emosionele ontlading.

Peuters hou van laf wees

Dit is vir kinders lekker en snaaks as mamma of pappa gesigte trek, benut dit dus om jou kind te help om die verskillende emosies te herken. Sê “kom ons lyk kwaai”, “kom ons lyk gelukkig” of “kom ons kyk wie die kwaadste kan lyk”. Jou kind sal aanvanklik na jou gesig kyk en dis dus belangrik dat mamma saamspeel.

Peuters is egosentries

Dit kos werklik baie tyd om hulle empatie te leer. Begin deur vir jou kind te sê “watter plan gaan ons maak?” Kinders hou van hierdie woorde. Sê: “Hierdie maatjie in die storie het geval en sy knie bloei. Watter plan kan ons maak om hom te help beter voel?’”

'n Aksieplan

1. Begryp jou rol as ouer

“ ’n Ouer kan nie sy kind se emosionele intelligensie bevorder of ontwikkel as hy dit nie self het nie. Help jouself dus eers hiermee voor jy jou kind probeer help,” sê Ronél.

Sy raai ouers aan om boeke en kursusse oor emosionele intelligensie te raadpleeg. Ronél sê in die eerste 24 maande van ’n kind se lewe is haar ma se emosies vir haar geweldig belangrik.

“Hoewel sy nog geen emosionele beheer het nie, kan sy aanvoel dat mamma geïrriteerd of gefrustreerd is. Hoe meer mamma intense gevoelens ervaar, hoe moeiliker kan die baba dalk wees omdat sy kan aanvoel ma is nie haarself nie.

’n Rustige, kalm ouer wat haar eie emosies meestal onder beheer het, het gewoonlik ook ’n rustige peuter.

“ ’n Peuter op wie heeldag geskree word en wat dikwels pak kry, sal ’n humeurige en ongelukkige kindjie wees. Hulle boots die gedrag van die ouer na. ’n Kleuter wat nooit empatie kry nie, sal afknouerig teenoor ander kleuters wees.”

2. Maak EI deel van jul dag

Wees op die uitkyk vir daaglikse situasies waar jy jou kind van verskillende emosies bewus kan maak, sê Ronél. Gesels met jou kleuter oor gevoelens en wys haar prentjies van verskillende gevoelens. Leer haar hoe dit voel en lyk as ’n mens gelukkig of opgewonde is.

Vra haar of sy hartseer of kwaad (basiese gevoelens) is wanneer sy omgekrap lyk. Leer jou kind dat alle gevoelens aanvaarbaar is, maar nie alle gedrag nie: Sy mag kwaad voel, maar sy mag nie die kat skop of dinge breek nie.

Leer haar om te sê: “Ek mag hartseer voel” en leer haar dan wat aanvaarbare maniere is om uiting aan haar hartseer te gee. Wees te alle tye eerlik oor jou eie gevoelens.

3. Wys empatie 

Empatie behels om jou in te dink in hoe ander mense voel as iets met hulle gebeur, en dis belangrik dat jou kind dit van jou ervaar. Gun dit vir haar en moet nooit haar gevoelens afkraak of ignoreer nie, sê Ronél. “Praat met jou kind oor sekere situasies.

As haar troeteldier doodgaan, kan jy sê: ‘’n Mens voel baie hartseer as jou katjie doodgaan.” Vermy reaksies soos “Hou nou dadelik op huil! Dit was net ’n kat!” 

Natuurlik kners ons almal soms op ons tande weens ons peuters se huil- of woedebuie, maar Ronél sê dat ’n mens nie jou kind moet straf as sy gevoelens ervaar nie.

“Sê liewer: ‘Ek kan sien jy is nou baie kwaad/hartseer. Kan mamma help met die skoene?’ Of vra: ‘Jy lyk so omgekrap en gooi goed rond. Wat het gebeur?’ Moenie jou kind kielie as sy kwaad of hartseer is nie, en moenie ander toelaat om dit met jou kind te doen nie.”

4. Bou haar selfbeheersing

Dis moeilik, want selfs volwassenes sukkel daarmee, sê Ronél. “Hoe minder ’n kind gefrustreer word in wat sy wil doen, hoe minder sal selfbeheersing nodig wees. Gee jou kind beperkte keuses om woedeuitbarstings te beperk.

Vra of sy eers haar speelgoed wil wegpak of eers wil eet. Vergeet maar jou eie rigiede idees dat speelgoed voor ete weggepak moet wees.

Dit veroorsaak net ’n magstryd. ’n Gefrustreerde kind het meer woedeuitbarstings. Vra jou af of dit regtig so belangrik is dat al die speelgoed opgetel moet wees aan die einde van die dag wanneer almal moeg en vaak is.”