Jou kind moet sekere dinge vir kort rukkies onthou, soos dat jy gevra het hy moet sy blou skoene gaan haal. Ander dinge moet vir lank onthou word, soos dat “b” vir by staan.

Albei hierdie soorte onthou is belangrike boustene vir leer en iets wat geleidelik ontwikkel. Jou kind se brein is al van geboorte af besig om strategieë te ontwikkel wat hom sal help om inligting te herroep en te onthou. Jy kan daardie proses aanhelp met hierdie praktiese wenke.

Leer hom opruim

Opruim is net so belangrik soos speel. Leer jou kind van jongs af om sy omgewing te orden.

Wys hom hoe ’n mens opruim – kinders weet dit nie vanself nie.

Eers die blokkies, dan die kryte en dan die motortjies. As dinge altyd op dieselfde plek gebêre word, hoef ’n mens nie later te probeer onthou waar jy dit gelos het nie – jy weet mos waar dit is!

Speel kaartspeletjies

Speel gereeld kaartspeletjies wat gerig is op geheue-ontwikkeling, soos Memory Cards en Uno.

Maak lysies

Speel onthouspeletjies in die motor. Sê: “Ons hou piekniek en vat ’n mandjie.” Hy moet herhaal wat jy sê en een item byvoeg: “Ons hou piekniek en vat ’n mandjie en ’n piesang.”

Dan’s dit weer jou beurt om te herhaal en by te voeg. Kyk hoe lank die lysie kan word voor hy iets vergeet.

Kan jy nog onthou?

Vra hom uit oor goed wat gister gebeur het, of laas week, of laas winter. Hoe meer gereeld hy inligting moet herroep, hoe meer oefening kry sy brein.

Onthou vandag

Vra jou kind elke aand wat hy daardie dag vir ontbyt geëet het, wat in sy kosblik was en of hy kan onthou wat hy vir middagete gehad het.

Onthou wat ek wegsteek

Pak voorwerpe op ’n skinkbord uit. Laat jou kind goed daarna kyk. Verwyder dan een ding sonder dat hy sien wat. Hy moet dan sê wat jy weggevat het.

Maak die speletjie ál moeiliker deur ál meer voorwerpe te gebruik of die posisie van die voorwerpe te verander of sy kyktyd korter te maak.

Patrone om te memoriseer

Wanneer julle krale ryg of blokkies bou, konsentreer op patrone of kleure wat jou kind moet naboots en herhaal.

Pak die patroon, laat hy daarna kyk, verwyder dit dan en kyk of hy dit uit sy kop kan pak.

Dít is wat ek sien

Metageheue is die vermoë om te verwoord hoe iets onthou word. Jy “praat” deur die ding wat jy wil onthou om dit te vestig, byvoorbeeld die patroon van die krale wat julle ryg: “Een bloue, dan ’n rooie, en ’n gele. Die rooi kruip tussen die blou en die geel weg.”

As julle hardop beskryf wat hy wil onthou, word dit maklik.

Saam winkel toe

Vra jou kind om die inkopielys te help onthou.

Speel ’n spel skaak

Skaak is een van die beste bordspeletjies om geheue te oefen.

Luister en teken

Goeie luistervaardighede is nou verbind met ’n goeie geheue. Sê vir jou kind om mooi te luister en dan alles te teken wat jy sê.

Begin met ’n lys van drie diere. As hy dit maklik regkry, kan jy die lys langer en langer maak.

Luister, sien en doen

Kinders leer deur te luister, te sien en te beweeg. Span al drie in om hom te help om iets te onthou. Wys hom die voorwerp, sê wat die ding se naam is en laat hy sy voete stamp op die maat van wat jy sê.

Leer hom assosiasie

As hy opdragte of ’n roetine moet volg, kyk of jy dit kan laat rym of allitereer: “Dis tyd vir bad, borsel, boek en bed.” Lê dan klem op die “b”-klank.

Leer hom visualiseer

Voor kinders leer skryf, vorm hulle begrippe met die hulp van prente. As jy die woord “pen” hoor, sien jy in jou geestesoog die voorwerp self en nie die woord “pen” nie.

Moedig jou kind aan om dinge te visualiseer voor hy iets daarmee doen.