Om aktief en gesond te wees, moet ’n kind se groeiende voete gesond wees en nêrens in die vormingsjare ’n knou kry nie.

’n Voet is ’n ingenieurswonder. ’n Baba se piepklein voetjie bevat 28 bene, 107 ligamente en 19 spiere, en daarby ook gewrigte en senings wat stabiliteit en mobiliteit moet verseker. Om te kan hardloop en spring moet kindervoete nie net sterk en stabiel wees nie, maar ook soepel.

Voetdokters stem almal saam dat kinders waar moontlik toegelaat moet word om kaalvoet te loop en speel. Dis gelukkig met ons sonnige klimaat nie te moeilik nie. Probeer skoene tot openbare plekke soos die winkelsentrum beperk. Die res van die tyd kan jou kind kaalvoet wees.

As jou kind kaalvoet op gras en sand loop en kaalvoet klouter, kry die spiere in sy voete en bene baie goeie oefening wat noodsaaklik is vir gesonde ontwikkeling.

Voete groei vinnig

Kinders onder 18 maande se voete groei elke twee maande sowat ’n halwe skoengrootte. Tussen 18 en 24 maande groei dit elke drie maande met sowat ’n halwe skoengrootte, en tussen 24 en 36 maande met ’n halwe skoengrootte elke vier maande.

Ná drie jaar groei ’n kind se voet elke ses maande nog ’n halwe skoengrootte. Koop dus maar gereeld nuwe sokkies en skoene!

Neem dit ernstig op as jou kind ooit oor sy voete kla. Bekyk die voetjies gereeld en let op na hoe jou kind loop.

Gaan klop gerus by ’n voetdokter aan as jou kind dikwels mank of op sy tone loop, of sy tone of kniekoppe na binne of na buite draai.

Tone behoort ook nie bo-oor mekaar te lê nie – dis ’n teken van ’n besering of ander probleem. Plat voete en ingegroeide toonnaels moet ook aandag kry.

Koop so skoene

  • Laat meet jou kind se voete ten minste elke drie maande. Die meeste kettingwinkels en skoenwinkels het ’n meetinstrument in die kinderskoenafdeling.
  • Wanneer jou kind die skoen aanhet, moet daar ’n duimbreedte tussen die voorpunt van die skoen en sy langste toon wees.
  • Die sool van die skoen moet reguit wees, nie gebuig nie.
  • Die skoen moet verkieslik nie ’n aanglipskoen wees nie, maar veters, ’n gespe of ’n Velcro-band hê. Die hak moet toe wees agter wees sodat die voet nie vorentoe of agtertoe skuif nie.
  • Die skoen moet buigsaam wees waar dit oor die bal van die voet strek, en stabiel en ferm agter by die hak.
  • Leer en seil is beter materiale as plastiek of sintetiese stof. Dis duursaam en laat lug deur.
  • Ronde toonpunte verseker daar’s genoeg ruimte waarbinne die tone kan beweeg.
  • Skoene wat “ingeloop” moet word, is swak ontwerp. ’n Goeie skoen behoort van die begin af gemaklik te pas.