Groot sprong van 1 tot 2

akkreditasie
In jou japsnoet se tweede jaar volg die mylpale vinnig op mekaar, en vorder hy van hobbel tot hardloop en van stamelwoordjies tot sinnetjies.

Dis te kostelik hoe jou peuter die een dag skaars kan praat en die volgende dag byna die hele tesourus probeer opsê. Maar ’n toenemende woordeskat is maar net een van die mylpale wat jy tussen een en twee jaar oud van jou japsnoet kan verwag ...

Onthou egter dat mylpale nie rigied nagestreef moet word nie, waarsku Susanne Hugo, ’n arbeidsterapeut en een van die bydraers tot die Mysmartkid/Myslimkind-ontwikkelingsprogram (MSK)*. “Elke kind is anders en ontwikkel teen sy eie pas.” Kom ons kyk dus na die belangrikste mylpale vir een- tot tweejariges: emosioneel, fisiek en spraakgewys.

Emosionele mylpale

Peuters se emosionele en sosiale ontwikkeling gaan hand aan hand, sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige en ook ’n lid van die MSK-paneel.

“Die meeste interaksie wat jong kinders het, is met hul versorgers, en hierdie interaksie lê die grondslag vir hul toekomstige verhoudings. Peuters leer ook baie van emosionele uitdrukking deur net hul ouers dop te hou,” sê sy.

Volgens Anel is kinders geneig om tussen een en twee jaar meer selfbewus te word. “Hul emosies word ingewikkelder en hulle begin om gevoelens van skaamte, trots of skuld te ervaar.

Hulle beskik egter nog nie oor die taalvaardighede om hul emosies uit te druk nie en sal dit met gedrag uitdruk. ’n Woedebui is dus net ’n uitdrukking van die frustrasie wat jou kind voel as dinge buite sy beheer is.” Kinders kan nou ook ’n sin van humor wys en jy sal sien jou baba lag en glimlag oor dingetjies wat hy snaaks vind.

Help hom so

Dis belangrik om met jou peuter oor sy emosies te gesels en oor hoe om dit uit te druk – al verstaan hy dit nog nie mooi nie. So help jy hom om sy emosionele woordeskat te vergroot en leer hy ook om sy emosies te hanteer, sê Anel.

Sê dinge soos: “Ek sien jy voel regtig gefrustreerd omdat jy nie daardie speelding in die boks kan kry nie. Kom ons kyk, miskien kan jy die boks net ’n klein bietjie wyer oopmaak?”

Hoe weet ek as daar 'n probleem is?

As jou kind vir lang rukke hartseer en terneergedruk lyk, het jy dalk rede tot kommer.

“Vloerstuipe kom nou al voor, maar as ’n kind só kwaad word dat hy homself seermaak, kan dit op ’n probleem dui. As jou kind ook nie met jou of ander kommunikeer of probeer om jou aandag met ’n glimlag te kry of deur na jou te kyk nie, is dit dalk nodig om professionele raad in te win,” sê Anel.

Fisieke mylpale

Die mylpale hieronder is tipies van die peuterjare en verskerp namate jou kind se tweede verjaardag nader kom, sê Susanne. Jou kind ...

  • sit onafhanklik en kan hom self optrek om te staan,
  • trek hom self teen meubels op en loop sywaarts al met die meubels langs terwyl hy daaraan vashou,
  • kruip met gemak en kan by trappe opkruip,
  • kan ’n bal met reguit arms gooi, maar nog nie in ’n spesifieke rigting nie,
  • geniet dit om speelgoed en ander items rond te gooi,
  • probeer met ’n kryt op papier krap,
  • kan (met ’n bietjie geluk) ’n toring met twee blokkies bou,
  • begin om twee voorwerpe met een hand vas te hou,
  • kan self opstaan sonder om aan meubels vas te hou,
  • loop (waggel) onafhanklik, maar hou sy voete nog wyd uit mekaar. Sy hele voetsool maak kontak met die grond en sy arms is weg van sy lyf om te balanseer.
  • sal buk om ligte voorwerpe of speelgoed op te tel sonder om vooroor te val en sal begin om dit rond te dra terwyl hy stap,
  • krabbel met kryt op papier wanneer hy die geleentheid gegee word,
  • vang, gooi en skop ’n groot bal, maar verloor nog soms sy balans,
  • begin om deur ’n boek te blaai,
  • geniet dit om voorwerpe in en uit te pak,
  • kan ’n toring van drie blokkies bou,
  • loop met meer gemak op sy eie en sonder om te val,
  • begin hardloop, klim en spring namate sy balans verbeter,
  • klim die trappe onafhanklik op en af deur eers albei voete op een trap te sit voor hy op die volgende een klim,
  • sal nou ’n bal kan gooi en skop sonder om sy balans te verloor,
  • kan een bladsy op ’n slag deur ’n boek blaai,
  • gebruik albei hande om ’n deksel oop te draai en kan op sy eie ’n deurknop draai om ’n deur oop te maak, en
  • begin om meer definitiewe merke te maak terwyl hy “teken” en om met kolletjies en strepe te eksperimenteer.

Help hom so

Susanne het dié raad om jou kind te help om sy mylpale te bereik:

  • Gee hom die geleentheid om sy omgewing te ontdek en verskeie voorwerpe op te tel en te ondersoek – maak net seker dis veilig.
  • Gee hom speelgoed wat hy kan gooi en gee hom geleentheid om voorwerpe in en uit te pak. Jy kan dit geleidelik moeiliker maak deur hom ’n ál kleiner houer te gee om dit in te pak.
  • Laat hom toe om te klim en klouter en gee hom die geleentheid om trappe te klim en oor verskillende oppervlaktes (gras, sand, grond) te kruip of loop. As jou kind nog nie op sy eie kan loop nie, kan jy sy hande vashou of speelgoed vir hom gee wat hy kan rondstoot, maar vermy ’n loopring.
  • Onthou jou kind leer deur herhaling. Herhaal aktiwiteite dus.
  • Jou peuter se aandagspan is nog kort – moenie van hom verwag om vir lank belangstelling in een aktiwiteit te toon nie. Sorg vir ’n verskeidenheid aktiwiteite en moet hom nie dwing om ’n aktiwiteit te doen nie.
  • Laat jou kind in sand speel en wys hom hoe om sandkoekies te bak.
  • Laat jou kind in water speel. Gee hom verskeie plastiekhouers en wys hoe om water van een houer in ’n ander te gooi. Gee hom ’n ballon om mee te speel. Laat hy dit met sy hande slaan, gooi dit vir hom om te vang en laat hy dit vir jou gooi.
  • Gee hom papiere, kryte en verf. Moedig hom aan om te krabbel en wys hom hoe om horisontale en vertikale strepe te trek, kolletjies te druk en sirkels te teken.
  • Laat jou kind met klei speel en wys hom hoe om ’n toring met blokkies of enige plastiekhouers te bou.

Hoe weet ek as daar 'n probleem is?

As jou kind twee jaar oud is en nog nie die volgende kan doen nie, kan jy hulp soek, sê Susanne:

  • Hy kan nog nie loop of hardloop nie. Hy moet ook van rigting kan verander terwyl hy dit doen.
  • Hy kan nie ’n groterige bal vang wanneer dit in sy arms gegooi word en kan dit ook nie teruggooi nie. Hy moet ook ’n bal kan skop sonder om sy balans te verloor.
  • Hy kan nie ’n toring van blokkies bou nie.
  • Hy kan nog nie met ’n kryt krabbel of begin om kort strepies te trek as iemand al vir hom gewys het hoe om dit te doen nie.

Spraakmylpale

Die mylpale hieronder maak deel uit van kommunikasie-, spraak- en taalontwikkeling, sê Catherine Barry, ’n spraaktaalterapeut en ook een van die MSKpaneellede.

  • Jou peuter kan op ’n oorheersende prikkel fokus sonder dat sy aandag deur elke verandering in sy omgewing afgetrek word.
  • Funksionele spel ontwikkel, wat beteken jou kind begin dinge gebruik op grond van hul doel, soos ’n karretjie wat op die vloer getrek word en ’n borsel waarmee hare geborsel word.
  • Jou kind sal dade na-aap wanner hy speel, soos om met ’n besem te vee.
  • Jou peuter wys hy is bewus van ander kinders.
  • Hy kan spesifieke woorde begryp en kan woorde soos “bal” of “kar” buite konteks verstaan.
  • Jou kind verstaan eenvoudige opdragte en vrae met een sleutelwoord soos “Waar is jou oë?”. Teen die einde van die jaar verstaan hy vrae soos “Waar?” en “Wat is dit?”
  • Onthou begrip ontwikkel voor woorde gebruik word. Jou baba sal meer verstaan as wat hy kan sê.
  • Jou kind sal in dié jaar sy eerste regte en betekenisvolle woorde begin gebruik en teen die einde van die jaar sal hy 50 woorde betekenisvol kan gebruik en twee woorde bymekaar kan sit om kort frases soos “mamma kom” te gebruik.
  • Jou baba sal die meeste van die klinkers teen die einde van die jaar kan gebruik.

Help hom so

Gehoor

Moedig die ontwikkeling van goeie luistervaardighede aan. Een van die beste maniere om dit te doen, is om self ’n goeie luisteraar te wees. Sit tyd opsy om op jou kind te fokus. Sorg dat daar nie te veel geraas in die omgewing is nie. Geraas kan veroorsaak dat jou peuter belangrike dinge wat hy moet hoor, ignoreer.

Spel

Speel op jou kind se vlak met hom. Gebruik ouderdomsgeskikte speelgoed of wat ook al beskikbaar is. Julle kan dalk agter die bank wegkruip, die lepels en vurke sorteer of kieliespeletjies speel om liggaamsdele te leer. Maatjies is op enige ouderdom belangrik. Voorsien ’n veilige omgewing aan jou kind om te speel en te ontdek en gee hom genoeg tyd om alleen, met jou en met ander kinders te speel.

Taal

Help jou kind onderskei tussen die woorde wat hy hoor en wat hy sê en doen. Gebruik betekenisvolle handgebare om vir jou kind wenke oor die betekenis van woorde te gee.

Verander jou stemtoon om aandag op sleutelwoorde te vestig. Jou kind sal ’n nuwe woord in verskillende kontekste moet gebruik voor hy die betekenis ten volle sal verstaan.

Gebruik taal en woorde om jou kind aan te moedig om woorde te gebruik. Wees ’n aktiewe deelnemer aan gesprekke met jou kind, luister en gee hom terugvoering op sy kommunikasie. Probeer om vrae te vra wat meer as ’n “ja” of “nee” vereis.

Moedig jou kind aan om sy keuses in woorde uit te druk deur twee keuses te gee soos: “Wil jy sap of melk hê?” Moedig langer sinne aan deur te herhaal wat jou kind sê, maar om daarop uit te brei. Byvoorbeeld: “bad”. “Ja, Mamma bad gou.”

Spraak

Hoe jou kind klanke sê, is nou minder belangrik as die woorde of sinne wat hy gebruik. Maak seker hy hoor goed aangesien dit ’n groot invloed op taal en spraak kan hê. Lees vir hom. Dis ’n heerlike manier om gehaltetyd saam deur te bring.

Julle kan ook net saamsit en oor die prentjies in die boek gesels. Luister na kleuterrympies en liedjies en voer dit uit. Gaan stap, kyk wat lê op die grond, kyk na blomme en insekte, en benoem alles.

Is daar probleme?

Catherine sê dis dalk nodig om ’n professionele mening in te win as:

  • jou kind min bewustheid van die wêreld om hom toon en sukkel om betrokke te raak by voorwerpe of mense,
  • voorwerpe in sy mond sit, gooi of teen goed stamp sonder om belangstelling daarin te toon of te verstaan dat dit ’n funksie het,
  • julle albei op dieselfde voorwerp fokus en jou kind nie in staat is om saam met jou daarop te fokus nie,
  • jou kind baie stil is en nie klanke gebruik nie,
  • jou kind teen 18 maande geen regte woorde sê nie en ná 18 maande steeds baie kwyl.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees