Hoe lank gaan sy word?

akkreditasie
Kan 'n mens voorspel hoe lank jou kind as volwassene gaan wees? Ons beproef 'n paar formules.

Jy is maar geneig om te wonder hoe jou kind eendag gaan lyk. Gaan sy lank of kort wees en watter soort mens gaan sy wees? Baie mense het al aanlynprogramme ingespan om kinders se lengte te bepaal.

Ek kon self nie wag om die sommetjies te doen toe ek hoor dat ’n mens jou kind se lengte as volwassene kan beraam deur haar lengte as tweejarige te verdubbel nie. Dit het my taamlik bekommerd gehad, want die uitslag was dat my meisiekind reusagtig lank sou wees. Seker te verstane, met ’n ma wat 1,82 m en ’n pa wat 1,92 m lank is.

Ek wou darem nie hê sy moet eendag te hoog die lug intoring nie, want ek was op skool self ’n onwillige reus en het altyd probeer om korter op klasfoto’s te lyk. Maar dis als net skattings.

Die bekende Mayo-kliniek in Amerika sê daar is geen bewese manier om regtig ’n kind se lengte as volwassene te voorspel nie, maar verskeie formules kan ’n taamlike goeie raming van groei voorsien. Dit is belangrik om te onthou dat alle kinders nie teen dieselfde pas groei nie en party bereik hul groeifases vinniger as ander.

Party studies sê oorgeërfde faktore dra 60 tot 80 persent tot jou lengte by. Dit beteken dat baie lang of baie kort ouers onderskeidelik gewoonlik ’n lang of kort kind het.

Kinders het ’n genetiese potensiaal om ’n sekere lengte te bereik op grond van die gene wat hulle van hul ouers geërf het. Maar watter van jou gene het jou kind wel gekry en watter kombinasie daarvan?

Jy sal nooit weet nie. Jy kan maar net raai watter kombinasie van gene jou kind se groei sal bepaal. Jy is dalk effens aan die kort kant terwyl jou man lank is, maar julle kan dalk albei “lang gene” hê.

Dit is egter nie net genetiese faktore wat tot lengte bydra nie, maar omgewingsfaktore ook. Dit sluit in sake soos jou kind se voeding, gesondheid en sportaktiwiteite.

Babas en kleuters groei die vinnigste, maar teen twee begin die groeikoers afneem. Daarna verlangsaam die groeiproses, maar dit duur stabiel voort. Wanneer kinders puberteit bereik, is vinnige groeifases algemeen.

Hoe werk ek dit uit?

Dit is natuurlik nie ’n presiese wetenskap om lengte te skat nie, maar dit is wel ’n prettige oefening en daar is vele formules op die internet om jou kind se lengte as volwassene te probeer bepaal. As jy nie vir die kuberruim lus is nie, kan jy dit sommer self met die hulp van die kassies regs uitwerk. Kry net ’n sakrekenaar gereed!

Formule 1

Verdubbel jou kind se lengte op die ouderdom van twee. Baie webtuistes sê jy kan dogtertjies se lengte op 18 maande verdubbel en seuntjies s’n op 24 maande. Ons voorbeeld is tussen die twee ouderdomme. Alexa Esterhuizen van Krugersdorp is 20 maande oud. Sy is nou 80 cm lank. 80 cm x 2 = 160 cm (1,6 m)

Formule 2

Tel jou en jou man se lengte in sentimeter bymekaar en deel die getal deur twee. As jy ’n seuntjie het, tel 6,5 cm by. Die getal behoort jou seuntjie se lengte as volwasse man te voorspel. Dit kan tot 10 cm minder of meer wees.

As jy ’n dogtertjie het, trek 6,5 cm van die getal af en dit behoort haar lengte as volwasse vrou te wees.

Alexa se ma, Chantel, is 1,56 m terwyl haar pa, André, 1,80 m lank is.

156 cm + 180 cm = 336 cm
336 cm ÷ 2 = 168 cm
168 cm – 6,5 cm (soos hierbo verduidelik) = 161,5 cm oftewel, 1,61 m

Formule 3

Dis baie dieselfde as Formule 2. Die som word net effens anders bereken. Tel jou en jou man se lengte in sentimeter bymekaar. Tel 13 cm vir seuntjies by of trek 13 cm vir dogtertjies af. Deel dit deur twee. Dit sal hul lengte as volwassene wees.

Alexa se ma, Chantel, is 1,56 m lank terwyl haar pa, André, 1,8 m lank is.

156 cm + 180 cm = 336 cm
336 cm – 13 cm = 323 cm
323 cm ÷ 2 = 161,5 cm oftewel 1,61 m

Dit is dus duidelik dat klein Alexa eendag in die omgewing van 1,6 m sal wees.

Aanlynberekenaars

Daar is ’n paar berekenaars op die internet wat jou kind se lengte as volwassene beraam. Al wat jy vir ’n vinnige berekening nodig het, is die volgende: Jy sal jou kind se geslag, gewig, lengte, ouderdom en jou en
jou man se lengte moet invul.

Dis gewoonlik op Amerikaanse webtuistes beskikbaar en daarom sal jy dalk eers die omskakeling van sentimeter na duim en voet, en kilogram na pond moet doen.

Tik net “online conversion” in Google in en werk dit gou uit.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees