Hoekom eet sy grond?

akkreditasie
Moet ek haar los?

Vraag: 

My 15 maande oue dogtertjie eet gereeld grond as sy buite speel. Sy was tot dusver nog nie siek daarvan nie, maar ek is bang dis gevaarlik. Moet ek haar los? Het sy enige tekorte?

Antwoord:

Dit is baie algemene en normale gedrag by kinders vanaf nege maande tot en met drie jaar. Dit dui gewoonlik nie op enige tekorte nie. Kinders in hierdie ouderdomsgroep is van nature baie nuuskierig en ondersoek alles. Deel van hierdie ondersoek is om dinge in hulle mond te sit, wat dan grond insluit.

As ’n ouer kind egter grond gaan soek om te eet, dui dit gewoonlik op ’n gedragsafwyking of ’n tekort. Hier is moontlike gevare van grondeet:

1. Swaarmetaal-vergiftiging. Wees versigtig as jou huis naby ’n vulstasie of fabriek is, of die grond tevore daarvoor gebruik is. As jou huis staan op ’n plek wat tevore as ’n stortingsterrein gebruik is, kan jou grond ook besoedel wees.

2. Skadelike bakterieë. Hulle kom gewoonlik van menslike of dierlike afval wat gebruik word vir bemesting.

3. Parasiete soos rondewurms. Eiers van parasiete word dikwels in diere se mis uitgeskei. As kinders die eiers eet, kan die wurms in hul dermkanaal uitbroei en probleme veroorsaak. Ontwurm jou kind elke ses maande.

’n Grondetery is egter nie net negatief of skadelik nie. En gewoonlik eet kinders nie naastenby genoeg grond om probleme te veroorsaak nie.

Blootstelling aan ’n groot klomp nie-skadelike bakterieë is nodig om die immuunstelsel normaal te laat ontwikkel.

As ’n kind te skoon grootword, is hy geneig om allerhande allergieë en immuunsiektes te ontwikkel. Grond-eet gee sy immuunstelsel die nodige blootstelling om normaal te ontwikkel.

Laat jou kind toe om grond te eet, tensy hy groter is en doelbewus grond gaan soek om te eet. In hierdie geval sal ek aanbeveel dat jy ’n dokter raadpleeg.

Hou rondloperdiere uit die tuin en tel gereed alle dieremis op. Leer jou kind om altyd handjies te was nadat hulle buite was. Wees bedag op risiko’s op plase (waar gifstowwe gebruik word), afvalhope, openbare parke en voëlhokke. Wees versigtig waarmee jy die tuin bemes. Die veiligste is goed verrotte kompos, en nie chemiese middels of dieremis nie.

Verryk jou kind se dieet met kalsium, yster en sink. Dit help om ’n grondbehoefte te voorkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees