Wanneer oudioloë aanbeveel dat jy jou  gesonde kind wat sonder komplikasies gebore is se ore gereeld laat toets, verwys hulle eintlik na drie toetse in die eerste ses tot sewe jaar. Die eerste een is binne 24 uur ná geboorte, op een jaar is daar ’n tweede toets, selfs al het jou kind die eerste een geslaag, en dan is daar nóg een voor jou kind teen ses jaar oud skool toe gaan.

In sekere gevalle behoort kinders egter hul ore elke jaar te laat toets, ongeag die uitslag van hul eerste toetse. Dis wanneer jou kind aan een van dié risiko’s vir gehoorverlies blootgestel was, sê prof. Claudine Storbeck, direkteur van die Universiteit van die Witwatersrand se sntrum vir dowe-studies:

  • Tyd in die neonatale waakeenheid,
  • Geelsug,
  • ’n Lae Apgar-telling, of
  • Enige asemhalingsprobleme metgeboorte.

“Neem jou kind ook vir ’n gehoortoets as jy in enige ander stadium bekommerd is oor sy reaksie op klanke,” is Claudine se raad.

Dis dus belangrik dat jy bewus is van al die kommunikasie- en taalmylpale wat jou baba, peuter en kleuter behoort te haal. Blaai om en lees in die kassie op die volgende bladsy meer hieroor. Dit is deur Claudine en haar span saamgestel. 

Die heel eerste toetse

Wanneer dit kom by gehoorsiftingstoetse is die algemene gevoel onder kenners dat dit nooit te vroeg is vir ’n toets nie, maar dikwels te laat.

Gehoorsiftingstoetse kort ná geboorte in die hospitaal is nie verpligtend nie, maar dit word aanbeveel omdat dit ’n betroubare manier is om moontlike gehoorverlies vroeg al raak te sien. Die diens word in alle privaat hospitale aangebied, maar jy moet dit versoek en ’n toestemmingsbrief onderteken. Die toets, bekend as oto-akoestiese emissies (OAE), kos sowat R270 en is pynloos.

Dit werk so: ’n Klein rubberproppie word in die buitenste oorkanaal geplaas. Die oortjie word dan met sekere klanke gestimuleer. As ’n baba se gehoor normaal is, sal die buitenste haarselle van sy koglea (of binneoor) sy eie klanke (of emissies) produseer. Die binneoor eggo bloot die klanke terug, wat dan deur ’n sensitiewe mikrofoon in die oorkanaal gemeet word.

Die klein toestel wat oudioloë vir OAE’s gebruik sal ná die kort toets een van twee dinge sê: slaag (pass) of verwys (refer). Slaag beteken jou kind se gehoor is in hierdie stadium normaal terwyl verdere gehoortoetse ná ’n “verwys” nodig is. Claudine raai ouers sterk aan om die oudioloog te vra vir die uitslag van die toets.

As jou baba in die neonatale eenheid was of enige ander risiko-faktore soos geelsug, ’n laer Apgar-telling of enige asemhalingsprobleme tydens geboorte gehad het, word ’n ouditiewe breinstamrespons- (OBR-) toets ook aanbeveel.

Dit behels oorfone op jou kind se kop en elektrodes op sy voorkop. Die masjien wat die oudioloog gebruik sal ook in hierdie geval ’n slaag- of verwys-uitslag uitskop.

As toets 1 onsuksesvol was

Die verwys-resultaat met die eerste siftingstoets beteken nie noodwendig dat jou baba doof is nie, maar dat verdere toetse gedoen moet word. Babas het soms nog vernix (die wit, taaierige stof waarmee pasgeborenes bedek is) in hul ore wat kan veroorsaak dat hulle ’n verwys-resultaat kry.

“Dit bly egter baie belangrik dat jy jou kind terugneem oudioloog toe vir die opvolg-siftingstoets,” sê Claudine. Dit word gewoonlik teen ses weke gedoen.

Dit moet jy weet

  • Ouers moet ’n toestemmingsbrief teken voor ’n gehoorsiftingstoets gedoen kan word.
  • Jy behoort die uitslag en verslag van die siftingstoets onmiddellik te kry.
  • As die uitslag ’n “verwys” is, kan julle daar en dan ’n afspraak vir ’n opvolgtoets te maak. ’n Tweede siftingstoets is baie belangrik.
  • ’n Verwysing op ’n tweede siftingstoets moet lei tot ’n verwysing na diagnostiese oudiologie, waar fyner toetse gedoen word om moontlike gehoorgestremdheid en die graad daarvan te diagnoseer. Daar behoort nie meer as twee siftingstoetse gedoen te word voor ’n verwysing na diagnostiese udiologie nie.
  • Behandeling behels onder meer die voorskryf van gehoorapparate of kogleêre inplantings. ’n Oefenprogram sal ook voorgeskryf word.
  • As ’n oudioloog besorg is oor ’n oorinfeksie behoort sy julle te verwys na ’n oor-neus-keelspesialis.
  • Kry hier hulp, ouerleiding en oefenprogramme: Hi Hopes by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg (011-717-3350, www.hihopes.co.za), Carel du Toit-sentrum in Kaapstad (021-938- 5303, careldutoit.co.za)

Het jy geweet?

  • Gehoorgestremdheid is die algemeenste geboorteafwyking ter wêreld.
  • Daar word elke dag 17 babas met gehoorverlies in ons land gebore.
  • Altesaam 94 persent van babas met gehoorverlies se ouers kan goed hoor.
  • Van die algemeenste oorsake van gehoorverlies is vroeë geboorte, breinvliesontsteking, chroniese oorinfeksie en sekere middels soos aspirien en sekere antibiotika, tuberkulose- en malariamedisynes.

Hou tred met jou kind se kommunikasie-mylpale

As jy nee op twee of meer vrae per ouderdomsafdeling antwoord, moet jy jou kind vir ’n gehoortoets neem.

Geboorte tot drie maande

  • Maak goo-geluide
  • Het ’n spesifieke huil vir ’n spesifieke behoefte
  • Glimlag vir jou
  • Reageer op harde klanke
  • Bedaar as sy ’n bekende stem hoor

Vier tot ses maande

  • Babbel en maak verskillende klanke
  • Maak haar eie klanke as jy met haar praat
  • Geniet waar’s-hy-daar’s-hy-speletjies
  • Draai haar kop na geluide
  • Reageer op musiek of speelgoed wat ’n geraas maak

Sewe tot 12 maande

  • Reageer op haar naam
  • Wys vir jou wat sy wil hê met geluide en handelinge
  • Begin eenvoudige opdragte uitvoer, soos om na haar neus te wys as jy vra “waar is jou neus?”
  • Draai haar koppie in die rigting van ’n klank
  • Gee aandag wanneer iemand met haar praat

12 tot 18 maande

  • Gebruik eenvoudige woorde en begin twee of meer bymekaarsit
  • Geniet dit om na stories te luister
  • Wys na liggaamsdele of prentjies in ’n boek as sy daaroor gevra word
  • Kyk na jou gesig as jy met haar praat
  • Het ’n woordeskat van sewe tot agt woorde

18 tot 24 maande

  • Verstaan meer woorde as wat sy kan sê
  • Voeg twee woorde bymekaar soos “nog koekie”
  • Vra eenvoudige vrae
  • Wag haar beurt af tydens gesprekke
  • Het ’n woordeskat van 50 tot 100 woorde

Twee tot drie jaar

  • Gebruik sinne met drie of meer woorde in
  • Verstaan begrippe soos “op”, “af”, “binne-in” en “bo-op”