Selfs die soetste peuter kry die een of ander tyd ’n woede-aanval wat ’n mens se mond laat oophang. Dis emosioneel uitputtend en dikwels ’n reuse-verleentheid, veral as dit op ’n openbare plek gebeur. Daar is darem goeie nuus: Dis heeltemal normaal en nié ’n teken dat jou kind op die afdraande pad is nie.

Sommige kinders is meer geneig tot vloerstuipe as ander. ’n Kind met ’n sterk wil en bedrywige en intelligente kinders wat graag verken sal waarskynlik meer en makliker vloerstuipe kry as jy hulle in hul spore wil stuit. So ook sensitiewe kleingoed wat vinnig gefrustreerd voel.

Madelein Koen, ’n spelterapeut van Rustenburg in Noordwes, sê ’n kind se temperament bepaal sy reaksie op situasies. “Hoe meer in voeling jy met jou kind se temperament en persoonlikheid is, hoe meer begrip sal jy vir sy hantering van die situasie hê,” sê Madelein. Jou rol is om jou kind te lei om te leer om sy frustrasies beter te verstaan en dit op ’n meer aanvaarbare manier uit te druk.

Hoekom vloerstuipe?

Dis ’n normale deel van kinders se emosionele ontwikkeling. Daar ís tye wanneer jou kleinding hom tot vloerstuipe wend om jou te manipuleer: Jy móét nou vir hom lekkers koop, anders gaan hy aanhou skop en skree. Hy toets sy grense en beproef jou geduld. Dis deel van sy onafhanklikwording: Hy wil self besluit, self kies, self bepaal wat in sy lewe gebeur, al kan hy nie. Maar vloerstuipe gaan oor veel meer: Jou peuter is besig om die wêreld om hom teen ’n verbysterende pas te leer ken en ontdek, en dis onvermydelik dat hy take sal aanpak of hom in situasies sal bevind wat heeltemal bo sy vuurmaakplek is. Dan ervaar hy net een oorweldigende emosie: frustrasie. Selfs volwassenes se emosies kook soms oor weens frustrasie, hoeveel te meer nie kleingoed wat nog nie geleer het hoe om hul emosies te hanteer nie? Verskeie faktore vererger jou kind se frustrasie en dís ’n kortpad na vloerstuipe.

1 Gebrek aan woordeskat

Peuters en kleuters vind dit aanvanklik moeilik om hul behoeftes oor te dra omdat hul woordeskat nog baie beperk is. Stel jou voor jy wil vandag jou blou skoene aantrek, maar jy ken nie die woord blou nie en jou ma gee jou die pienkes? Kinders wat oor ’n emosionele woordeskat beskik kry dit ook beter reg om hul emosies te beheer omdat hulle die gevoel kan herken en benoem: “Mamma ek is kwáád vir boetie!”

2 Gebrek aan impulsbeheer

Kleuters sukkel om hul emosies te beheer en tree baie impulsief op. Hulle soek onmiddellike bevrediging en moet nog leer om te wag.

3 Moegheid en honger

Jou kleinding ontplof makliker as hy moeg, honger of ongesteld is.

4 Negatiewe aandag

Vloerstuipe is soms ’n manier om aandag te kry. Negatiewe aandag is beter as geen aandag nie.

Keer vloerstuipe so

Jy kan nie alle frustrasie uit jou peuter se lewe verwyder nie. Dis ook nodig dat hy soms gefrustreerd voel, want daarsonder kan hy nie nuwe vaardighede baasraak soos om self aan te trek nie. Jy kan wel help om sy frustrasievlak te beperk.

Hou speelgoed ouderdomstoepaslik

Te moeilike uitdagings sal hom frustreer, maar te min stimulasie kan weer tot verveling lei en dus tot konfrontasie en frustrasie.

Gee keuses

Dit laat jou kleinding in beheer voel en verminder ook frustrasie. “Keuses in jou kind se alledaagse lewe bemagtig hom en gee hom ’n gevoel van positiewe beheer oor homself,” sê Madelein. “Laat hom self kies hoe hy ’n taak wil voltooi of wat hy wil aantrek; dit laat hom belangrik voel. Vra gereeld sy mening oor dinge.”

Stel min, maar duidelike grense

As jou kind weet jy gee nooit toe oor lekkergoed voor aandete nie, is die kans vir ’n woedebui daaroor heelwat skraler as wanneer hy weet daar is ’n moontlikheid dat hy jou kan manipuleer.

Wees konsekwent

Volgens Madelein moet jy altyd dieselfde reëls handhaaf, want kinders leer negatiewe gedragspatrone vinnig aan. “Dit wat jy as ouer toelaat – al is dit net ’n toegewing hier en daar, sal in jou kind se gedrag na vore kom.”

Volg ’n vaste roetine

So weet jou kind wat om te verwag, en dit laat hom veilig voel.

Verwoord jou kind se behoeftes vir hom

Hoe gouer hy die vermoë ontwikkel om sy gevoelens en behoeftes in woorde uit te druk, hoe minder gefrustreerd sal hy word.

Lees sy lyftaal

As jy sien hy voel oorweldig deur ’n situasie of is oormoeg, verwyder hom daaruit of bied jou hulp subtiel aan (soos as hy kwaai met ’n taak sukkel) sonder om oor te neem.

Moenie dadelik net nee sê as hy ’n verkeerde pad inslaan nie

Trek eerder sy aandag met iets anders af. As jy nee sê, verduidelik in kort en eenvoudige taal hoekom: “Nee, moenie die kat se stert trek nie – sy gaan jou krap.” Madelein sê ook dat jy sy negatiewe gevoelens moet probeer vervang met positiewe terugvoer: “Vryf haar liewer, jy doen dit altyd so goed!”

Bestee genoeg gehaltetyd saam jou kind

“So maak jy dit vir jou kind onnodig om aandag op verkeerde maniere te soek,” sê Madelein. Dis omdat jy sy emosionele emmer positief gevul hou.

Wees ’n rolmodel in hoe jy jou eie emosies hanteer

Volgens Madelein is kinders fyn waarnemers en leer hulle by hul ouers hoe om uiting aan hul emosies en gedrag te gee. As jy dus jou humeur verloor, gaan jou kind dit ook doen.

HET JY GEWEET?
Die goue vloerstuipe-reël is: Moenie aan jou kind se eise toegee nie. Die versoeking is soms groot, maar die verkeerde en onkonsekwente boodskap wat jy uitstuur, gaan jou kind volgende keer net weer ’n kans laat waag.

Stap 1
Bly kalm

Dis gewoonlik onmoontlik om ’n woede-aanval stop te sit as jou kind eers vlamvat, en jy hoef ook nie. Jy moet wel in beheer van die situasie bly. Toegegee, dis moeilik om kalm te bly as jou kind op die vloer lê en skop, maar dis presies wat jy moet doen. As jy skree of kwaad word, is dit net olie op die vuur en sal dit nie die woede laat bedaar nie. Dit sal jou kind net nog meer buite beheer laat voel. Madelein sê dit is wys om jou die “kan dit wees”-vrae af te vra: “Kan dit wees dat my kind my onverdeelde aandag soek?” “Kan dit wees dat my kind in beheer wil voel?” “Kan dit wees dat my kind oorgestimuleer is?” Vloerstuipe is vir jou kind ’n vorm van ontlading. Die meeste kinders sal enige vorm van vertroosting verwerp en kan jou selfs wegskop of harder gil as jy dit nader waag. Ander sal wel toelaat dat jy hulle vashou en tot bedaring bring. Kyk wat vir jou kind werk. Jy kan by jou kind bly tot hy uitgewoed is, of as dit jou te veel ontstel of jy sien jou teenwoordigheid vererger die situasie net, kan jy hom uit die situasie verwyder. Tel hom op (al skop en skree hy) en neem hom na sy eie veilige plek soos sy kamer, waar hy in privaatheid kan ontlaai sonder ’n gehoor wat die gedrag aanvuur. In ’n winkelsentrum kan dit soms beteken dat jy jou waentjie net so laat staan en jou kind na die naaste badkamer of jul motor neem tot hy weer kalm is. Madelein herinner ouers egter daaraan om nooit jou kind in die openbaar te verneder nie. “Dit doen afbreuk aan sy selfbeeld en sal die woedebui buitendien vererger.”

Stap 2
Erken gevoelens

As jy weet waarom jou kind vloerstuipe het, sê kalm: “Ek kan sien jy is kwaad omdat jy nie lekkers kan kry nie, maar dis amper aandete. Ek gaan jou nou los tot jy klaar geskree het. Sê my as jy klaar is.”

So nie kan jy net erkenning aan sy emosies gee. Moenie met hom probeer redeneer as hy nie positief reageer nie; gee hom kans om self tot verhaal te kom. Die boodskap is: “Ek verstaan jou frustrasie, maar vloerstuipe is nie die manier om jou sin te kry nie.”

Stap 3
Tyd vir troos

As jou kleinding uitgewoed is, is dit troostyd en hersteltyd. Vloerstuipe sal jou en jou kind emosioneel en fisiek heeltemal uitgeput laat. By sommige kinders moet jy intree en troos sodra die ergste verby is – so help jy hulle om veilig en getroos te voel en weer in beheer van hulself te kom.

Ander kinders verkies dit om alleen gelaat te word tot hulle weer heeltemal kalm is (en kan nog ’n hele ruk lank skree dat jy moet padgee!). Gun hulle dan hul ruimte. Madelein se raad is dat jy jou kleinding help om opsommend na te dink oor die situasie sodra hy weer reg is vir kontak.

Vra vlugtige vrae soos: “Wat het gebeur?”. “Wat is ons reël?” “Wat gaan ons volgende keer doen?” Soen hom, sê jy is jammer hy was so ongelukkig en bly hy voel weer beter, en beweeg aan. “Wanneer kinders die situasie op ’n positiewe manier leer verstaan, is hulle meer geneig om daarna hul gedrag beter in bedwang te hou,” sê Madelein