book-icon Uitgawe Oktober & November 2019

Jou peuter se kleinspiere: Fyn vat

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Fyn motoriese ontwikkeling behels die ontwikkeling van die klein spiere in die palms van ons hande en vingers en om ons oë en mond. Hierdie spiere en die senustelsel werk saam in ’n uiters delikate balans en stel jou kind in staat om byvoorbeeld iets tussen sy duim en voorvinger op te tel. Om dit alles reg te kry, het jou peutertjie baie oefening en repetisie nodig! Herhaalde oefening versterk die spiere én dra by tot breinontwikkeling. Fyn motoriese ontwikkeling is bitter belangrik, want sowat 70 persent van take wat jou kind een van die dae op skool sal moet verrig, vereis fyn motoriese vaardighede. Dink maar net aan hoe ’n potlood vasgehou en beheer moet word, of hoe jy ’n blad omblaai, wat nog te sê klavier speel of knip. Die onvoldoende ontwikkeling van jou kind se klein spiere kan later in haar lewe tot oneindige frustrasie en selfs agterstande lei. As sy nie genoeg geleentheid kry om haar klein spiere oefening te gee nie, sal die spiere swak wees en haar beheer oor byvoorbeeld haar hande sal beperk wees. Dit kan haar erg frustreer wanneer sy uiteindelik meer gevorderde skooltake moet verrig soos om te skryf, met klei te speel en te teken.

Fyn motoriese vaardighede skep geleenthede vir kinders om hul wêreld te verken. Dit stel hulle in staat om verskillende belangrike funksionele take te verrig: alledaagse werkies soos om skoenveters vas te maak, ritssluiters op klere of tasse te gebruik, knope vas en los te maak, sleutels te hanteer, krane oop en toe te draai en hande te was. Al hierdie take dra by tot ’n kind se onafhanklikheid met selfsorg. Op skool vereis die meeste aktiwiteite goeie fynspierontwikkeling – dis nodig vir verf, knip, inkleur, teken, skryf en lees. Ons hande is die ‘‘gereedskap” wat ons die meeste gebruik om aktiwiteite in ons alledaagse bestaan uit te voer. Ten einde fyn bewegings gekoördineerd uit te voer, moet sekere liggaamsdele stewig en stabiel gehou word terwyl ander beweeg. Om te kan teken en skryf, verskuif die bewegingsfokus byvoorbeeld van die skouer na die elmboog, pols, kneukels, vingergewrigte en uiteindelik die gewrigte van die duim, voorvinger en middelvinger terwyl die laaste twee vingers help om die hand te stabiliseer. Goeie skouerstabiliteit is dus belangrik vir vingermobiliteit en handfunksie. Die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede is afhanklik van goed ontwikkelde groot motoriese vaardighede. In haar eerste drie maande is die gryprefleks – wat jou baba toelaat om haar vingers op te krul en voorwerpe wat in haar hand geplaas word, vas te vat – oorheersend. Aan die einde van haar eerste jaar sal sy al kan kies hoe sy haar hand wil manipuleer om ’n spesifieke voorwerp op te tel – gaan sy die appel met haar een hele handjie of albei hande optel? Terloops, om te leer hoe om albei hande te gebruik om ’n taak uit te voer is ’n uiters belangrike vaardigheid wat in die eerste jaar van ontwikkeling geleer word. Sy kan dit begin oefen deur twee blokkies teen mekaar te kap. Later sal sy leer hoe om elke hand afsonderlik te gebruik om een taak te verrig – soos skottelgoed was. Babas ontwikkel ook die vermoë om spesifieke groepe spiere of ledemate afsonderlik te gebruik. ’n Pap baba beweeg haar hande en arms asof dit een is. Mettertyd ontwikkel sy die vermoë om haar arms en hande in fyner bewegings te beheer. Uiteindelik is dit koördinasie wat alle aspekte van fyn motoriese vaardighede soos ’n goed geoliede masjien laat werk. Namate hand-oog-koördinasie ontwikkel, leer jou nuuskierige agie dat daar ’n verband tussen die verskillende dele van haar lyf is.

Niks hoef harde werk te wees nie. Spel voed ’n kind se lus vir ontwikkeling spontaan. As sy speel, word die sensoriese stelsels gestimuleer en so ook fynspierontwikkeling. Kinders leer deur spel. Spel is hul veld van kundigheid en daarom neem hulle graag die leiding en begin dikwels self goeie speelgeleenthede om aan fyn motoriese ontwikkeling te werk. In hul daaglikse lewe eksperimenteer kinders met hul eie omgewing, beproef nuwe dinge en streef daarna om meer ingewikkelde uitdagings die hoof te bied. Sukses in ’n nuwe uitdaging gee hulle nuwe motivering en selfvertroue om weer en meer te probeer. Dit is die wonder van ontwikkeling!

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees