Kleuterskoolkos onder die vergrootglas

akkreditasie
Kan jy vertou dat jou kind gesonde kos by die kleuterskool hry? Lees hier wat jy alles van skooltjiekos moet weet.

Alles wat haar juffrou sê, is wet en waarheid: van jou neus wat groei as jy jok tot stories wat uit boeke weghardloop as daar geraas is.

Maar wanneer mamma by die werk is, moet juffrou nie net help met verf en lees nie, maar ook met eet. Mammas wat self ’n kosblik pak, het nog ’n mate van beheer oor wat hul kroos eet, maar baie kleuterskole voorsien die kos.

As jou woelwater ’n groot deel van die dag by die skooltjie is, kan wat sy daar gevoer word, haar gesondheid bepaal. Maak seker jy weet wat jou kind daar te ete kry.

Spanwerk

Jy as ouer het die grootste invloed op die vorming van jou kind se eetgewoontes. As jou kind egter vyf dae per week alle maaltye behalwe aandete by die skool eet, word die skool amper soos ’n verlenging van jou huis.

Dit wat jou kind by die skool leer, gaan ’n groot uitwerking op haar lewe hê; net so gaan dit wat sy daar eet, ook ’n groot invloed op haar eetgewoontes en gesondheid hê. Dit gaan dus nie baie help as jy jou bes probeer om jou kind te leer gesond eet en die skool doen dit nie.

Ma, juffrou, die tannie wat die kos maak en die een wat dit gee, moet ’n span wees wat saamwerk om elke kind te leer dat gesond eet lekker is. Die uiteinde sal nie net ’n slimkopkind wees nie, maar ook ’n kind met ’n gesonde lyf.

Wat die wet sê

Voor ’n sentrum vir vroeë kinderontwikkeling sy deure mag oopmaak, sal ’n omgewingsgesondheidsbeampte die plek ondersoek om te kyk of die perseel, asook die kombuis, aan sekere gesondheidsen veiligheidsvereistes voldoen. As hy tevrede is, sal ’n gesondheidsertifikaat uitgereik word.

Daarna word geriewe minstens een keer per jaar besoek om seker te maak dat dit steeds aan die vereistes voldoen. Die departement van maatskaplike ontwikkeling verskaf aan voornemende eienaars van kleuterskole ’n lywige dokument met riglyne vir dienste wat in vroeë kinderontwikkeling gelewer word.

Hierdie dokument, wat aan die hand van die Kinderwet opgestel is, bevat ook ’n paar basiese riglyne vir die voeding van kinders. Daarvolgens behoort kinders minstens een keer per dag kos by die skool te kry. Hoe langer die kinders by die skool is, hoe meer etes moet verskaf word.

Die minimum standaard stipuleer ook dat die hoeveelheid kos en drankies gepas vir kinders se ouderdom moet wees en dat die maaltye en peuselhappies aan hul voedingsbehoeftes moet voldoen.

Kinders se voedingsbehoeftes verskil op grond van hul ouderdom, en daarom sal elke ouderdomsgroep, soos babas, peuters en kleuters, hul eie spyskaart nodig hê.

Dit is ’n taak vir ’n kenner op die gebied van voeding en daarom word skole aangemoedig om dieetkundiges in te span om met die opstel van spyskaarte te help.

Algemene riglyne oor die kos, soos die gaarmaak van groente om maksimum voedingswaarde te behou, word uiteengesit, asook ’n voorbeeld van ’n basiese maaltydplan.

Omdat die riglyne vir ’n wye verskeidenheid kulture en inkomstegroepe geld, is dit net vir die minimum toelaatbare kos wat gegee moet word. Dit help die armste skole om te sien hoe ’n mens met baie beperkte bronne steeds vir kinders gesonde kos kan gee.

As jy egter ’n plaas se prys betaal by jou kind se kleuterskool, kan jy heelwat meer as die minimum vereistes verwag.

Van die riglyne, soos dat genoeg vrugte en groente verskaf moet word, is baie vaag en ’n dieetkundige moet dus liefs leiding aan elke skool gee op grond van die kultuur, ouderdomsgroepe en beskikbare bronne.

Die minimum standaard

  • Kinders bly minder as 5 uur: 'n Peuselhappie
  • Kinders bly 5-8 uur: 2 peuselhappies en 'n maaltyd
  • Kinders bly meer as 8 uur: 2 maaltye en 2 peuselhappies

Die kos moet deur die skool of ouers voorsien word.

Die riglyne wat skole kry

  • Babas moet op aanvraag gevoed word.
  • Babas onder twee se kos mag nie ekstra sout of suiker bevat nie.
  • Ouers moet elke dag ingelig word wat hul baba die dag geëet het.
  • Ouer kinders moet onder volwasse toesig eet.
  • Personeel moet seker maak dat etenstye onstpanne is.
  • Personeel moet rolmodelle van gesond eet wees.
  • Kinders moet aangemoedig word om alle kos te beproef, maar moet nooit gedwing word om iets te eet as hulle nie wil nie.
  • Daar moet voorsiening gemaak word vir kinders met spesiale voedingsbehoeftes.
  • Skoon drinkwater moet altyd beskikbaar wees.
  • ’n Verskeidenheid kosse behoort gegee te word.
  • Kinders behoort elke dag kos te eet wat baie vitamein A, B en C bevat.
  • Ouers behoort die spyskaart te alle tye te kan sien.

Die maaltydpatroon waarvolgens spyskaarte beplan moet word:

Ontbyt

  • Pap met melk en suiker.

Oggenpeuselhappie

  • Bruinbrood met margarien
  • Melk

Middagete

  • Proteïenryke kos of gereg, soos droë bone, vleis, vis, hoender, eiers, kaas.
  • Styselkos soos pap, stampmielies, mielierys, aartappels.
  • Groente, verkieslik donkergroen of diepgeel, soos spinasie, groenbone, kool, wortels of pampoen.
  • Die voedingswaarde van hierdie groente is hoër as ander groente.
  • Vrugte twee keer per week, indien moontlik.

Middagpeuselhappie

  • Bruinbrood met margarien
  • Grondboontjiebotter of ’n ander smeer
  • Melk om te drink

Sit jou bril op

As jy ’n kleuterskool gaan soek, sal elke skool hul spyskaart waarskynlik vir jou wys. Hou in gedagte hoeveel maaltye jou kind daar gaan eet wanneer jy daarna kyk.

As sy net aandete by die huis eet, beteken dit dat die skoolkos minstens twee derdes moet verskaf van die voedingstowwe wat jou kind per dag nodig het. Hulle sal dus minstens een glas melk, twee vrugte, een proteïen en een of twee groentes per kind moet kry.

Net ’n vetkoek en stroop vir middagete sal dus beteken dat jou kind daardie dag nie al die nodige voedingstowwe inkry nie.

Sit jou bril op en moenie jaag wanneer jy na die spyskaart kyk nie. As die skool duur is, kan jy op meer voedingryke kos aandring.

Ontbyt en middagete behoort uit drie soorte kos te bestaan en peuselhappies uit twee kosse. Kyk dat daar nie meer as twee dae per week verwerkte kos soos weense worsies, visvingers of blikkies kos is nie; die meeste van die kos behoort van vars produkte gemaak te word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees