Die heel beste wat jy as ouer kan doen is om rustig te bly. Volg ons wenke, stel ’n plan op en moenie toelaat dat jou kind jou ore aansit nie.

Kieskeurigheid kan al in die babastadium kop uitsteek wanneer jou japsnoet weier om kos te eet en net melk wil drink – en jy moet dán al ingryp.

By peuters kom fiemies in verskillende vorms voor: sterk voedselvoorkeure, vrese om nuwe kos te proe of ’n voorkeur vir ongesonde peuselkosse.

Sommige peuters eet ’n baie beperkte verskeidenheid kos, eet min of stadig, of eet kos net as dit op ’n spesifieke manier gaargemaak is. Dit is ook algemeen dat kieskeurige peuters sekere voedselgroepe uitsluit – en gewoonlik is dit groente en vrugte. As jou kind se fiemies jou lam maak, moet jy weet jy is nie alleen nie. Tot 60 persent van ouers beskryf hul kinders as vol kosfiemies.

Hoekom het my kind fiemies?

Daar is drie hoofredes: voedselneofobie, sensoriese sensitiwiteit en ’n behoefte na onafhanklikheid of beheer. Wanneer iemand ’n vrees vir vreemde of nuwe kosse het, noem ons dit voedselneofobie. Dis heeltemal normaal dat alle peuters iewers tussen hul eerste en tweede verjaardag voedselneofobie ontwikkel.

Dié vrees is eintlik daar om peuters wat self begin rondbeweeg, teen gifstowwe in die natuur te beskerm. Dit sorg dat hulle niks eet wat hul nie van kleins af geëet het nie. As jou kind as baba kommersiële babakos geëet of ’n beperkte verskeidenheid tipiese babakos by die dagsorg gekry het, kan gewone huiskos vir haar heeltemal vreemd wees en voedselneofobie sal haar die kos laat weier.

Sommige peuters se fiemies is die gevolg van ’n oorsensitiwiteit vir sekere reuke, smake, teksture, kleure en selfs temperature. Die reuk van vis is dalk vir jou kind baie sterker as vir jou, of iets wat vir jou effens bitter smaak, is vir haar galbitter.

Kinders met sensoriese sensitiwiteite spoeg gewoonlik die aanstootlike kos uit, skud hul lyfie sommer soos hulle gril, kry ’n braakrefleks of gooi selfs op. Wanneer peuters hul babaskoene uitskop, begin hulle almal in ’n mindere of meerdere mate ’n “ek is baas”-houding inslaan.

Hulle wil self dinge doen en self besluite neem. Dit is ’n normale deel van grootword. Sommige kinders wil ook aan die etenstafel wys dat hulle baas is en weier kos net omdat hulle kán en om vir hul ouers te wys dat hulle in beheer is. Wanneer ouers te veel beheer uitoefen, sal kinders ook kos weier in ’n poging om onafhanklikheid te bekom. Navorsing wys dat fiemies meer voorkom in huise waar daar te min struktuur rondom maaltye en die insluiting van vaste kos is. Dit gebeur ook waar ouers te sensitief is vir hul kinders se behoeftes en alles in hul vermoë doen om hul kinders gelukkig te hou. Jou kind se temperament, jou ouerskapstyl asook die soort kos wat in jou huis beskikbaar is, is alles faktore wat kan bydra tot jou kinders se koskieskeurigheid.

As jou peuter meer as 600 ml melk of jogurt binne 24 uur inkry, moet jy dit verminder.

’n Plan teen fiemies

Min peuters wat vol fiemies is, sal dit vanself en vinnig genoeg ontgroei. Hoe jy as ouer jou kieskeurige etertjie hanteer, bepaal in ’n groot mate of en hoe vinnig sy dit laat staan.

Voor jy enige verandering aanbring aan hoe jy jou kind kosgee of hanteer, is dit belangrik om eers met al die betrokke volwassenes te praat: pappa, ouma en die dagmoeder. Kom ooreen dat almal jou peuter dieselfde te hanteer. Hanteer ook al die kinders in die gesin dieselfde.

Navorsing wys dat ’n gestruktureerde plan waarmee jy jou kind stelselmatig leer om alle kosse te eet, die beste werk. ’n Dieetkundige wat goed bekend is met kieskeurige eters en hul hantering kan jou help om so ’n plan vir jou kind op te stel. Dit sal jou help om jou kind sagkens aan ’n wye verskeidenheid kosse bloot te stel. Die eerste stap is dat jou kind die vreemde kosse op haar bord moet kan hanteer.

Daarna gaan jy haar vra om ’n paar weke lank aan elke kossoort te vat en dit te ruik. Die volgende stap is dat sy elke kossoort op haar bord die tongtippie-toets gee, en daarna moet sy een kies waaraan sy gaan hap. In hierdie stadium mag sy dit uitspoeg as sy dit ’n paar keer gekou het en dit vir haar baie sleg is. Bly ’n maand of wat by hierdie stap voor jy haar vra om aan twee kosse op haar bord (wat sy nie uit haar eie eet nie) te hap, dit te kou en in te sluk.

Daarna gaan sy elke kossoort op haar bord moet proe en dan kan die grootte van die happies wat sy moet proe, stelselmatig groter word. Wees altyd bereid om binne die reëls te onderhandel en effens buigsaam te wees. As dit die week is waarin sy aan al die kos moet proe en sy vra om vanaand nie vis te proe nie, mag sy dan die vis net tongtippie-toets en die ander proe. Sy mag egter nie van die tafel opstaan as sy nie die kos “ervaar” het soos volgens die week se plan nie. Onthou die goue reël van kinders kosgee: Jy as ouer is verantwoordelik vir wat, waar en wanneer jou kind eet, maar jou kind is verantwoordelik vir óf sy eet en hóéveel sy eet.

5 moenies

  • Moenie ophou om ’n kossoort te gee as jou kind dit weier nie.
  • Moenie vir jou kind iets anders gee as sy haar kos weier nie.
  • Moenie vir jou kind spesiale of ander kos berei as vir die res van die gesin nie.
  • Moenie jou kind beloon as sy eet of haar met kos of lekkernye beloon vir goeie gedrag nie.
  • Moenie vir jou kind maaltydvervangers (drankies) gee nie.

Wanneer om hulp te soek

  • As jou kind weens sensoriese sensitiwiteit min vrugte en groente eet, kan jy haar deur ’n arbeidsterapeut laat evalueer. Sensoriese-integrasieterapie kan dit verbeter.
  • Laat jou kind se lengte en gewig gereeld evalueer en kry hulp as sy nie na wense groei nie.
  • As jou kind minder as 10 verskillende kosse eet, is die kans goed dat sy voedingstekorte sal ontwikkel. Klop by ’n dieetkundige aan. Doen dit ook as die dokter bevind dat sy ’n ernstige voedingstekort het.
  • Kry hulp as jou kind angstig raak wanneer sy voor maats moet eet.
  • As jou kind op 18 maande nog geen teksture eet nie, moet jy haar laat evalueer.
  • As jou kind uitspraakprobleme het as gevolg van onvoldoende teksture in kos, moet jy hulp soek.
  • Soek hulp as jou kind net danksy aanvullings genoeg voedingstowwe inkry.
  • As jou kind alle vloeistowwe of vaste kos weier, moet jy so gou moontlik aanklop by iemand wat met voedingsversteurings by kinders werk.
Wenke
  • Stel duidelike grense van wat jy van jou kind verwag (kyk na die plan links), maar moet haar nie dwing of buitengewoon beherend wees nie. Vriendelike aanmoediging is die sleutelbegrip.
  • Stel jou kind weg van die tafel aan ongewilde kos bekend soos deur poppekas te hou met groente en vrugte of met groente en vrugte verf patrone te druk.
  • Maak jou peuter betrokke wanneer jy kos koop en kos maak. Vra haar byvoorbeeld om die spinasie in die winkelwaentjie te pak of om die tamaties te was wanneer jy slaai maak.
  • Gee jou kind keuses tussen twee items, soos: “Watter groente dink jy moet mamma vandag vir aandete maak: broccoli of spinasie?”
  • As jou kind nie aan die groentehopie op haar bord geraak het nie en dit ná aanmoediging steeds weier, kan jy dit in ’n groter en kleiner hopie verdeel en sê sy moet een van die twee eet.
  • Maak seker jou kind is teen etenstyd honger deur geen drankies behalwe water tussen maaltye te gee nie.
  • Verminder enige peuselkos wat tussen maaltye geëet word geleidelik tot geen peuselhappies meer gegee word nie.
  • As jou kind kort-kort vir ’n lekkertjie of koekie vra, kies een vasgestelde tyd in die dag waarop ’n klein lekkerny soos een of twee jellielekkers geëet mag word. As jou kind enige ander tyd daarvoor vra, sê sy moet tot daardie happietyd wag.
  • Maak maaltye ’n positiewe ervaring vir almal, veral vir jou kind.
  • Prioritiseer gesinsmaaltye.
  • Maak dieselfde kos vir die hele gesin.
  • Gee jou kind emosionele ondersteuning tydens maaltye. As sy iets moet proe waarvoor sy baie gril, tel haar op jou skoot en vra of jy haar moet voer en of sy self die happie gaan proe.