Daar is baie wat jy kan doen om seker te maak jou baba en peuter bereik sy middellyn-mylpale. Maar wat beteken dit en hoe raak dit jóú kind? Die oorsteek van die middellyn (middellynkruising) is een van die belangrike boublokkies van vaardighede wat jou kind moet baasraak om gereed vir die grootskool te wees.

Wat is middellynkruising?

Die menslike liggaam word in ’n linker- en regterkant verdeel deur ’n denkbeeldige middellyn wat strek van jou kroontjie, deur jou neus en tot tussen jou voete. Middelynkruising beteken dat jy hierdie denkbeeldige streep oorsteek, verduidelik Amy Rode, ’n arbeidsterapeut van Stellenbosch. Ware middellynkruising vind net plaas as jou skouergordel verby die heupgordel draai en nie as jy jou een hand effentjies na die ander kant strek nie. Middellynkruising stel jou in staat om die oog, hand en voet van die een kant van jou lyf in die ruimte van die ander oog, hand en voet te gebruik, sê Elrie Maree, ’n arbeidsterapeut van Port Elizabeth. Maar ons lyf bestaan eintlik uit drie verskillende middellyne wat almal belangrik is vir baba se ontwikkeling, sê sy: sagitaal, transvers en frontaal.

Die drie middellyne

Links en regs: Die sagitale midlyn

Dis die denkbeeldige lyn wat die liggaam in ’n linker- en regterkant verdeel. ’n Baba steek dié middellyn oor wanneer hy sy arm oor sy borsie vou sodat hy van sy rug op sy magie kan draai. ’n Peuter steek dit oor wanneer hy van links na regs met ’n verfkwas op ’n groot stuk papier verf sonder om handjies te ruil. In graad 1 gaan die kind gemaklik woorde van links na regs op ’n bladsy kan lees.

Bo en onder: Die transverse midlyn

Die romp verdeel die boonste en onderste deel van die liggaam. ’n Vyf maande oue baba steek hierdie middellyn oor wanneer hy met sy voete speel. Vierjariges geniet dit om vorentoe te buig sodat hulle aan hul toontjies kan raak. Dié middellyn is ook ter sprake wanneer ’n kind die bal met een hand bo die kop vashou terwyl sy lyfie vorentoe beur om dit te gooi.

Voor en agter: Die frontale midlyn

Dié middellyn verdeel die voor- en agterkant van die liggaam. ’n Agttien maande oue baba steek sy frontale middellyn oor wanneer hy vooroor of agteroor op die bed in die kussings inplons. ’n Kleuter swaai sy armpies sodat hy ekstra ver vorentoe kan wip of agteruit kan spring.

Babatyd is belangrik

Middellynkruising is nie verniet ’n gonswoord nie. Dit bewerkstellig en beïnvloed meer as een faset van jou kind se lewe, sê Amy. Dit help met die gebruik van albei kante van die liggaam, saam of afwisselend. Dit maak dus bilaterale integrasie moontlik, oftewel die gekoördineerde gebruik van die twee kante van die liggaam, soos wanneer jy met ’n mes en vurk eet, jou veters vasmaak, fietsry, swem of met ’n skêr knip. Wanneer die middellyn oorgesteek word, begin die vaslegging van hand-, voet- en oogvoorkeur ook. Dis weer belangrik vir fyn motoriese vaardighede soos skryf, groot motoriese ontwikkeling en vloeiende oogbeweging. Al is bilaterale integrasie en hand-, voet- en oogvoorkeure eers teen vyf of ses jaar voltooi, word die grondslag in die babatyd gelê. “In die praktyk word die middellyn oorgesteek wanneer jy ’n bal moet vang wat na die kant gegooi word, ’n boek lees van een blad na die volgende, by ’n tafel in ’n boek skryf van een blad na die volgende of jou balans moet hou terwyl jy op ’n onstabiele oppervlak beweeg,” sê Amy. “Wanneer jy hardloop, klim of selfs net by ’n tafel sit en skryf, draai jou lyf ook. Vir balans het ’n mens dus middellynkruising én goeie rotasie nodig.” ’n Kind wat nie sy middellyn oorgesteek het nie, kan met baie dinge sukkel, sê Elrie. “Hy kan sy plek verloor wanneer hy in die middel van die bladsy kom. Letters en nommers kan omgeruil word. Dit kan lyk of hy dubbelhandig is, maar eintlik het die vaardighede van nie een van sy twee hande genoeg ontwikkel nie.”

Het jy geweet?
Middellynkruising vind net plaas as die skouergordel oor die heupgordel draai en nie as jy jou arm net effens na die ander kant toe strek nie.

So ontwikkel dit

Eerste paar maande

In die eerste paar maande van ’n baba se lewe voer hy baie verskillende bewegings met albei kante van sy lyfie uit. Dié bewegings lyk dalk doelloos, maar dis noodsaaklike boustene vir leer en gedrag, sê Elrie. “Die brein berg al hierdie sensasies en ervarings van die sintuie en die spiere sodat die liggaam dit later kan gebruik om meer doelgerigte bewegings uit te voer. ’n Mens kan dié proses vergelyk met ’n padkaart wat vir die liggaam opgestel word sodat hy later presies weet hoe om met sekere paadjies langs te ry.”

Teen drie maande

Middellyn-oriëntasie begin op omtrent drie maande wanneer jou baba sy handjies na mekaar bring om te voel, kou, speel en kyk, sê Amy. Hy gebruik sy nekspiere om sy koppie van kant na kant te beweeg en weer na die middellyn terug te bring. “Namate die nekkie en ander spiere sterker word, kan hy op sy handjies fokus en hulle in die middel bymekaar uitbring,” sê Elrie. “Jou baba sal op ’n paar maande oud ’n blokkie met die een hand optel, dit na die middellyn van die liggaam bring en dan in die ander hand plaas. So word die twee dele van die liggaam simmetries gebruik.” Later sal jou baba begin om per ongeluk van sy rug tot op sy sy, en nog later van sy maag tot op sy rug te rol (gewoonlik teen vier tot vyf maande) tot hy dit uiteindelik doelbewus self kan doen, sê Amy. “Dié rolbeweging is die begin van rotasie tussen die heup- en skouergordel en dus die begin van die kruising van die middellyn.”

Teen ses maande

As jou baba teen omtrent ses maande oud begin sit, leun hy eers net vorentoe en later begin hy na die kante druk of uitreik. Teen so agt maande kan hy al in ’n vierpunt-knielposisie oorleun om te begin kruip of ’n speelding by te kom. “Dis weer rotasie en kruising van die middellyn,” sê Elrie. “Sodra jou baba kruip, in en uit die sitposisie beweeg of hom self in ’n staanposisie begin optrek, is daar gedurig rotasiebewegings en middellyngebruik.”

Teen agt maande

Tussen agt maande en ’n jaar ontwikkel jou baba die vermoë om ’n speelding aan die teenoorgestelde kant van sy lyf op te tel. Op 12 maande sal hy ’n kryt optel met die hand die naaste daaraan.

Teen 18 maande

Op 18 maande kan daar dalk ’n voorkeur vir ’n spesifieke hand wees, maar die twee dele van die lyf werk nog nie heeltemal as ’n span saam nie. Aktiwiteite moet so aangebied word dat albei dele van sy lyfie aktief ingespan word.

Teen twee jaar

Op twee jaar is daar reeds baie beter samewerking tussen die twee dele van die liggaam, sê Elrie. “Jou baba het hierdie patrone met kruip en loop ingeoefen. Die twee dele funksioneer nog as aparte dele, maar nuwe bewegings is nou moontlik, soos dat die een handjie die beker vashou terwyl die ander water ingiet. Peuters eksperimenteer ook graag met bewegings waar ál vier ledemate ingespan word, soos dat hulle die armpies op en af swaai terwyl hulle opgewonde rondspring. Dis baie lekker om op hierdie ouderdom groot krale in te ryg of met ’n skêr te begin snipper.”

Kleuterfase

Tussen drie en sewe jaar leer jou kind om eenvoudige toerusting te hanteer soos kleurpotlode en papier, ’n skêr, ’n fiets en ’n grafie en emmertjie. Fyner kunsies soos om knope en veters vas te maak en met ’n mes en vurk te eet word ook geleer, sê Elrie. “Namate die spiere sterker word, kan ’n meer vaardige hand na vore te kom en sal die een hand byvoorbeeld die papier vashou terwyl die meer vaardige handjie met ’n kryt teken. Elkeen van hierdie vaardighede vereis die sensoriese inligting van albei kante van die liggaam wat in die brein gelê en wag het.”

JOU BABA
  • Masseer sy lyfie sodat hy die twee helftes van sy liggaam sensories kan voel.
  • Moedig rol aan. Babas volg speelgoed soos balle en helderkleurige houers. Jy kan help deur sy beentjie by die heup te buig in die rigting waarheen hy moet rol.
  • Laat jou baba tussen jou bene op die mat sit en speel sodat hy oor jou bene moet leun om speelgoed te gaan haal om mee te speel.
  • Laat jou baba op jou skoot sit en balanseer terwyl jy hom regop vashou of na die kante of skuins agteroor laat leun. Hy behoort sy lyfie te draai om sy balans te hou.
  • Moedig kruip aan sodra jou kleinding wys hy is reg en lus deur vir hom hindernisbane te bou of hom saam met die hond op die gras te laat kruip.
  • Gebruik elke moontlike geleentheid wanneer hy eet, bad of speel om albei dele van die liggaam by aktiwiteite te betrek. Smeer byvoorbeeld met badtyd seep aan die linkerkant van die lyfie en dan aan die regterkant.

Hou jou kind dop

Tekens dat jou kleinding dalk ekstra aanmoediging nodig het om die middellyn oor te steek, sluit in dat hy ná die aanvaarde mylpaal-ouderdom nog met ’n paar dinge sukkel:

  • Jou baba sukkel om sy bottel met twee handjies vas te hou.
  • Dis vir hom ’n uitdaging om van sy rug tot op sy maag te rol. Hy verkies dit om net na die een kant van die liggaam te rol.
  • Hy kruip nie of seil op sy sitvlak.
  • Hy vermy die een kant van sy liggaam.
  • Jou peuter se bewegings kom stokkerig, gespanne of lomp voor.
  • Hy struikel maklik.
  • Hy vermy speelgoed waar die een handjie byvoorbeeld ’n houer vashou terwyl die ander hand iets moet inpas.
  • Die twee handjies waai nie gelyk nie of hy wil nie seepbelle met twee hande vang nie.
  • Hy voer nie ritmiese bewegings uit wanneer hy op die maat van “musiekinstrumente” speel of dans nie.
  • Dis vir hom ’n uitdaging om klere aan en uit te trek.
  • Hy kan nie met twee voetjies gelyk spring nie.
  • Hy sukkel om stewig op een voet te staan wanneer die ander voet ’n bal skop.
  • Hy ondersteun nie papier met die een hand terwyl die ander hand teken nie.
  • Hy kom lomp voor as hy met ’n vurkie of lepeltjie eet.
  • Hy is lomp met potlood-en-papier-aktiwiteite.
  • Hy ruil die potlood of kwas van die een hand na die ander as hy teken of verf.
  • Hy breek speelgoed of artikels maklik wanneer hy dit van die een hand na die ander wil oorplaas. Sy oogbewegings word onderbreek van die een kant na die ander kant van sy liggaam.
  • ’n Dominante hand ontwikkel nie spontaan teen omtrent vyf jaar oud nie.