Kweek 'n netjiese peuter

akkreditasie
Daar's 'n goue tydperk waarin jou kind leer om op te ruim: tussen 15 maande en drie jaar. Dis dus nou of nooit!

Het jy geweet dat navorsers bevind het te veel chaos en rommel maak dit moeilik om te fokus en beperk jou brein se vermoë om inligting te verwerk? En in sy boek Ouerskap met styl (Maskew Miller Longman) vertel die ouerskapsghoeroe Dereck Jackson dat hy in sy jare by ’n kinderleidingsentrum ’n regstreekse verband gesien het tussen hoe ’n kind se kamer lyk en hoe sy skoolboeke lyk.

“Kinders wat nooit geleer het om hul eie onmiddellike omgewing te organiseer en te respekteer nie, is nie in staat om hulleself te organiseer in die meer ingewikkelde omgewing van die opvoedingswêreld nie,” skryf hy.

Om jou kleinding te leer opruim is dus nie net die pad na ’n netjieser huis nie – dis ook belangrik vir jou kind se ontwikkeling. Maar wanneer en hoe begin jy?

Opruim bou wenners

Opruim lyk dalk vir jou na ’n kleinigheid, maar soos al die ontwikkelingsmylpale is dit iets wat ’n basis skep vir baie ander eienskappe, sê Karin Bronkhorst, ’n opvoedkundige sielkundige van Bryanston in Johannesburg. Kyk waarmee dit alles help:

1. Meer struktuur Deur self op te ruim leer ’n kind orde en voorspelbaarheid en dit skep struktuur. Die oomblik dat jy dit vir kinders gee, voel hulle veilig en is hulle gelukkig.

2. Groter onafhanklikheid Jou kind leer mamma se werk is nie om alles vir hom te doen nie. ’n Peutertjie kan dalk nie baie self doen nie, maar hy kan help opruim.

3. Verbeterde selfregulering Jou peuter leer dat hy nie net kan mors waar hy wil nie en dat hy agterna sal moet skoonmaak. Dit leer hom om self grense te stel, soos dat hy nie net al die speelgoed moet uitgooi nie, want hy gaan dit weer moet optel.

4. Liggaamlike vaardighede Opruiming help om fyn en groot motoriese vaardighede te ontwikkel, want jou kleinding moet buk en dinge optel en neersit.

5. Kognitiewe vaardighede Opruiming leer jou kind watter dinge in watter groepe hoort: Al die karretjies kom in hierdie bak en al die poppe in daardie een. Dis ’n belangrike vaardigheid op skool en verbeter kinders se organisasievermoë.

6. Respek As jy jou kleinding leer om op te ruim, leer hy respek vir sy eie besittings en vir ander mense in die huis, sodat jy nie eendag opgeskeep sit met ’n tiener wat klere en ander goed op die grond gooi en niemand respekteer nie.

7. Beter konsentrasie Afhangende van sy ouderdom sal jou kind mettertyd leer fokus om die taak te voltooi. Dis gedrag wat hom later op skool goed te pas sal kom. As peuter sal hy dalk net twee dinge optel, maar geleidelik word dit meer tot hy daarin slaag om gefokus te bly en sy hele kamer man-alleen op te ruim.

Rooi lig

Hoewel opruiming en die gepaardgaande vaardighede baie belangrik is, moet jy nie so op netjies maak fokus dat jou kinders nie die heerlikheid van vrye spel kan ontdek nie, waarsku Karin.

“Aan die begin van die kinderjare is spel ongelooflik vry en sonder grense en dit hoort so. Moenie soveel op opruiming konsentreer dat jou kind nie kans sien om dinge te toets en ontdek nie omdat hy te bang is vir die skoonmaakwerk agterna. Daar móét ’n bietjie morsery wees, want as daar nie gemors word nie, is daar nie vryheid van verkenning nie.”

Netjieser, jaar vir jaar

Die nuutste navorsing wys kinders behoort van 17 maande af al te begin opruim waar hulle gespeel of gemors het, sê Dereck Jackson in sy boek. Natuurlik is dit 10 keer makliker en vinniger om self op te ruim as om ’n onwillige peuter sover te kry om dit te doen.

Jy het egter ’n venstertydperk van tussen 15 maande en drie jaar om jou kind maklik te leer skoonmaak, sê Karin. (G’n wonder dus dat baie ouers met slordige tieners weeklaag dat hulle nie streng genoeg was toe hul kinders klein was nie.)

Karin deel die volgende riglyne.

15 maande: Jy ruim op en maak skoon, maar betrek jou kleinding deur hom te vra om twee of drie goedjies vir jou op te tel.

2 jaar: Jou kleinding moet al ’n deeltjie self kan opruim, byvoorbeeld: “Tel vir mamma al die karretjies op, dan sal ek die res optel.”

3 jaar: Jou kind moet al sy speelgoed self kan wegpak. Moedig hom aan om elke ding te bêre sodra hy klaar daarmee gespeel het.

4 jaar: Vierjariges speel gewoonlik met een ding op ’n slag en daar is ’n vaster patroon van spel sodat hulle een ding kan bêre voor hulle met ’n volgende een speel. ’n Meisie sal byvoorbeeld besluit sy speel met haar poppe, want sy wil nie alles omkrap nie.

5 jaar: Jou kleinding is nou waarskynlik in ’n kleuterskool waar daar ook ’n roetine van speel en opruim is. Hy kan al oorsaak en gevolg taamlik goed verstaan: As ek vuilmaak, moet ek weer skoonmaak.

Maak dit maklik

Berei jou daarop voor dat dit ’n tyd-rowende uitdaging kan wees om van jou voorskoolse kind ’n opruimer te maak en dat dit nie oornag sal gebeur nie, maar weet ook dat jy later in jou lewe nog baie  dankbaar sal wees vir die tyd en moeite wat jy daarin belê het.

As jy nie bedags self by die huis is om jou kind hierdie vaardighede te leer nie, dring daarop aan dat jou kind se oppasser dit met geduld doen. Rus haar toe met die nodige inligting en vaardighede sodat sy ouderdomsverwante verwagtinge van jou kind kan koester en hom stap vir stap kan help.

  • Probeer skoonmaak beperk. Laat hom ’n uur lank speel en dan opruim, pleks daarvan om elke vyf minute op te ruim.
  • Maak jou opdragte spesiek. Moenie sê “maak jou kamer aan die kant” nie, sê liewer hy moet sy karretjies wegpak en daarna sy skoene.
  • Maak seker elke speelding het ’n vaste bêreplek sodat dit maklik weggepak kan word.
  • Plaas ’n speelgoedboks in elke vertrek sodat opruimwerk in dieselfde vertrek gedoen kan word.
  • Merk verskillende houers speelgoed duidelik deur byvoorbeeld ’n prentjie van ’n karretjie op die karretjiesboks te plak. So weet jou kind wat in watter houer gebêre moet word.
  • Leer jou kind hóé om op te ruim. Hy gaan dit nie vanself weet nie. Verduidelik van kleins af hoe om dit stelselmatig te doen: Eers gaan ons al die karretjies optel en in hierdie boks sit. Nou gaan ons al die diertjies optel en in hierdie emmertjie bêre.
  • Ontwikkel sy skoonmaak- en opruimvaardighede op verskillende vlakke. Op 18 maande is jou asjas mal oor besems en skoonmaak; benut en versterk dit deur vir hom ook ’n skoppie en borseltjie te gee. So kan hy sien skoonmaak is lekker vir mamma (sit maar daardie maskertjie op!) en ek kan haar help.
  • ’n Goeie opruimroetine maak dit makliker om van opruiming ’n gewoonte te maak. Leer jou kind byvoorbeeld dat julle altyd opruim voor julle handjies was om te gaan eet.
  • Hou dit speels, want tot omtrent vyf jaar oud bestaan ’n kind se wêreld uit speel, sê Karin. Hou dus ’n kompetisie om te kyk wie dit die vinnigste kan doen, en kyk hoe woel hy! Kyk wie die meeste speelgoed binne vyf minute kan wegpak of ruim volgens kleure op.
  • Sing saam ’n spesiale opruimliedjie. Jy kan die een kies wat jou kind by die kleuterskool sing, of sing “Opruimtyd, opruimtyd, kom nou maatjies, opruimtyd. Alles wegpak gou-gou-gou, netjies is dit nou, nou, nou!” op die wysie van die Barney-liedjie “I love you, you love me.”
  • Gee positiewe terugvoer op alle opruimpogings. Jou fokus moet wees op die feit dat jou kind bereid is om skoon te maak en nie op hoe goed hy skoonmaak nie. Jy soek nie ’n perfeksionistiese kind nie, maar ’n kind wat skoonmaak. Vertel hom jy’s trots op hom, al lê daar nog een of twee goedrond.
  • Moenie dat die speelgoed ophoop en baie raak en dan van jou kind verwag om op te ruim nie! Gryp liewer in voor dit te deurmekaar raak.
  • Gee voorbereidingstyd. Moenie jou kind se speeltyd onverwags onderbreek en van hom verwag om dadelik op te ruim nie. Gee hom tyd om sy gedagtes daarby aan te pas deur hom ’n paar minute voor die tyd te waarsku: “Jy het nog twee minute, dan moet jy begin opruim, want dis amperbadtyd.”
  • Maak voorsiening vir speletjies wat langer as een “speelperiode” neem, soos as jou kind besig is om ’n groot legkaart te bou of Lego te speel. Kry dan ’n veilige plek waar julle die halfgeboude goed kan hou tot hy weer daarmee kan speel, sodat hy nie voel opruiming is ’n bedreiging vir sy spel nie.
  • Laat speel jou kind opruimspeletjies op die internet! Daar is allerhande oulike skoonmaakspeletjies te kry, sê Karin. Dis prettig en leer jou kind om op te ruim. Gaan gerus na www.cleaning-games.net of google cleaning games of clean-up games.
  • Kies jou oorloë. Jou kleinding gaan sukkel om ’n hele kamer op te ruim as hy doodmoeg is. Laat hom dan liewer net ’n paar goedjies opruim en sê julle sal later die res takel. Julle kan verder opruim as hy opstaan en uitgerus is.
  • Moenie volmaaktheid verwag nie. Ouers wil dikwels hê alles moet silwerskoon wees, maar met klein kindertjies moet ’n mens partykeer ook maar net die deur toetrek, ’n glas wyn skink en môre weer skoonmaak.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees