Leer haar só reg en verkeerd

akkreditasie
Lomé Koekemoer, sielkundige en ouerskapsdeskundige, gee raad oor hoe om jou kleinding reg en verkeerd te leer.

Vraag:

My tweejarige is ’n woelige kind. Ek wil nie die heeltyd nee sê nie, maar dit voel asof sy elke dag my geduld toets. Moet sy nie al kan onderskei tussen reg en verkeerd nie? Hoe verduidelik ek dat wat sy doen nie aanvaarbaar is nie?

Antwoord:

’n Tweejarige is in ’n baie interessante ontwikkelingsfase, naamlik dié van verkenning. Sy het nou twee groot behoeftes:

1. om toegelaat en aangemoedig te word om die wêreld om haar te verken, en

2. om te weet dat sy op jou nabye teenwoordigheid kan staatmaak om vir haar veiligheid te gee in hierdie vreemde nuwe wêreld.

Jou kleuter se nuuskierigheid is nou lekker aan die ontwikkel, en daarom is dit belangrik dat jy haar aanmoedig om haar omgewing te verken en ontdek.

Al is haar veiligheid natuurlik baiebelangrik, is daar heelparty dinge wat jy wel kan toelaat. Dink dus na oor die dinge waarvoor jy nee sê, en probeer om gereeld ook ’n paar ja’s in te glip, want dit sal haar nuuskierigheid aanwakker.

Verken saam met haar: Kyk na die kleure van herfsblare, voel die growwigheid van sand, ruik blommetjies, kyk naallerhande diertjies.

Onthou ook dat tweejariges nog nie werklik die vermoë het om met hul verstand tussen reg en verkeerd te onderskei nie. Hulle leer nog hoe die wêreld om hulle werk en maak op jou staat om hulle daaroor te leer. Dis belangrik dat jy in dié proses grense stel, maar op ’n empatiese manier. Wanneer jy vir haar moet verduidelik oor onaanvaarbare gedrag kan jy die volgende doen:

  • Herhaal wat sy gedoen of gevra het, sodat sy voel dat jy na haar luister en haar verstaan (“Mamma hoor jy wil graag met my grimering speel.”).
  • Erken haar versoek (“Mamma kan verstaan dat jy graag met my grimering wil speel, omdat ek grimering dra.”).
  • Verduidelik hoekom hierdie optrede nie aanvaarbaar is nie (“Hierdie grimering is vir grootmense en nie vir kindertjies nie.”).
  • Gee dan keuses oor hoe sy die behoefte meer aanvaarbaar kan uitdruk (“Jy kan kies: Ons kan jou naels met kindernaellak verf, of jy kan met mamma se grimeerborseltjies speel.”).
  • Wys empatie met haar ervaring en probeer die situasie uit haar oogpunt sien. Haar behoefte is geldig, jy moet haar net help om dit op ’n meer aanvaarbare manier uit te druk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees