book-icon Uitgawe Februarie & Maart 2019

Lees vir jou kind!

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Onthou jy hoe jy kleintyd met jou gunstelingboek op pa se skoot geklouter het; ’n boek waarvan die blaaie al eselsoortjie gevou en hier en daar met grondboontjiebotter besmeer was? Geduldig sou pa die boek oopmaak en hardop begin lees ... Vandag het jy ’n kleinding van jou eie en wonder jy dalk of dit werklik ’n verskil maak as jy hardop vir jou kind voorlees. Ja, ja, en nogmaals ja, meen opvoedkundige kenners. Daar is geen beter manier om jou kind te leer lees, en met begrip te leer lees, as om van kleins af hardop voor te lees nie. Dis oor en oor bewys dat die hoeveelheid tyd wat kinders deurbring deur te luister na hoe ander vir hulle lees, ’n aanduiding is van hoe vinnig hulle later sal leer lees en wat hul leesvlak sal wees, sê die Amerikaanse geletterheidskundige Maryanne Wolf in haar boek Proust and the Squid – the Story and Science of the Reading Brain. Verbeel jou die volgende: ’n Klein kindjie sit op haar ma se skoot en luister na woorde wat vertel van feetjies en kabouters, groot kastele en meerminne wat diep onder die see die mooiste liedere sing. Sy kyk na die prentjies terwyl sy luister. Sy leer geleidelik dat die strepe op die bladsy letters vorm, dat letters woorde vorm, dat die woorde sinne word en dat dié sinne ’n storie vertel. Hannekie Verwoerd, ’n Pretoriase spraakterapeut, tuisskoolma en stigter van luistervinkstories.com, het hieroor navorsing gedoen en is passievol oor voorlees vir kinders. Sy sê navorsing wys dat daar een vaardigheid is wat leessukses meer as enigiets anders verseker, en dit is fonologiese bewustheid, oftewel bewustheid van die klank van jou taal. ’n Kind kan dié bewustheid net ontwikkel as sy ’n spesifieke taal genoeg gehoor het. Hannekie sê dis belangrik om soveel moontlik met jou kind te praat, ja, maar daar is ’n groot verskil tussen die taal wat ons lees en die taal wat ons praat. “Die langer sinne van geskrewe taal berei ’n kind se brein voor vir lees. As jy praat, put jy net uit jou eie woordeskat en uitdrukkingsvermoë terwyl geskrewe taal dié dinge uitbrei en verryk; as jy praat val jy jouself gedurig in die rede terwyl geskrewe taal vloei; en in boeke kry jy volmaakte sinskonstruksies.” Lelani Brugman, ’n spraaktaalterapeut van die Paarl in die Wes-Kaap, stem saam dat die belangrikste voorleesproses fonologiese bewustheid is. “Die klank word gehoor en ouditiewe verwerking vind plaas. Die kind heg betekenis aan die woorde. Haar brein maak sin van die klanke wat gehoor word. “Fonologiese bewustheid is die begrip dat die taal wat ons praat en lees opgedeel kan word in kleiner dele en gemanipuleer kan word.”

Wat is taal?

Taal behels baie meer as net praat. Dis ’n noodsaaklike deel van ’n kind se ontwikkeling wat haar in staat stel om akademies te vorder, sê Hannekie. “Die ander vaardigheid wat net so ’n belangrike fondament vir jou kind se sukses as mens is, is haar groot motoriese vermoë. Dié twee vaardighede is die vaardighede wat ’n baba heel eerste ontwikkel. As jy nie behoorlik aan hulle aandag skenk nie, word jou kind se ontwikkeling op ander gebiede gestuit. “Ouers verstaan nie altyd regtig hoe hul kinders se taal ontwikkel nie en die gevolg is dat hulle nie aandag daaraan skenk nie of dat hulle dinge doen wat ’n negatiewe uitwerking op hul kinders se taalontwikkeling het. Daar is net een manier waarop woorde in ’n kind se kop kom, en dit is deur haar gehoorsintuig.”

Krisis!

In 2016 se Progress in International Reading Literacy Study is bevind dat 78 persent van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie verstaan wat hulle lees nie. Dit hou regstreeks daarmee verband dat bitter min ouers nog hardop vir hul kinders voorlees, sê Hannekie. Voorlees bou die groot brug tussen lees en verstaan wat jy lees, verduidelik sy. “Onthou: Ons praat ánders as wat ons lees. Wanneer jy voorlees, lees jy geskrewe taal en hoor jou kind geskrewe taal. Sy hoor dus ander sinstipes as wat sy hoor wanneer julle gesels. Sy hoor sinne van 32 of 40 woorde lank en hoor hoe dit klink wanneer ’n sin ingevoegde sinne het. Die feit dat sy dit gehoor het, hoe dit klink as iemand anders dit voorlees, en die feit dat sy die intonasie en frasering gehoor het, stel haar in staat om self na die teks te gaan en te weet wat om met daardie sinne te maak. “As jou kind ’n sin moet lees van 32 woorde lank wat deurspek is van invoegsels, goed wat tussen hakies en kommas kom, en sy het nog nooit sulke sinne gehoor nie, gaan sy nie kop of stert daarvan kan uitmaak nie.” Dit beteken nie dat jy alles vir jou kind moet voorlees voor sy dit self lees nie. “As jy elke dag gewone boeke, storieboeke of tydskrifte en koerante voorlees, leer jou kind om met begrip te lees wanneer sy dit self eendag moet doen,” sê sy. “Jy gee vir haar die breingereedskap om lang, moeilike sinne in mensgeskrewe teks te verstaan.”

Hoe lees ek voor?

Dis nie nodig dat jou kind pennetjieregop en tjoepstil sit wanneer jy vir haar voorlees nie, sê Hannekie. “Dis wel nodig dat sy nie deur haar eie boekie blaai terwyl jy ’n ander storie voorlees nie, en die TV moet afgeskakel wees. Lees op ’n tyd wanneer almal wakker is en kan fokus op wat jy lees. Sy moet haar aandag op jou woorde kan fokus. Daarom mag sy met klei speel of brei, inkleur of prentjies teken van wat sy hoor, maar dit wat sy doen moenie haar aandag van die voorlesing weglei nie.” Moet ook nie ophou voorlees wanneer jou kind later self kan lees nie. Die storie wat jy voorlees, kan altyd moeiliker inhoud bevat as dit wat sy self kan baasraak. Dit beteken jy hou aan om jou kind se taalvermoë te stimuleer, sê Hannekie.

Wat van stories op TV?

“Daar is ’n reuseverskil tussen voorleesstories en TV-stories,” sê Lelani. “Eerstens vind daar min kommunikasie tussen jou en jou kind plaas wanneer sy TV kyk, terwyl voorlees kommunikasie tussen julle bevorder. “Om TV te kyk is ’n passiewe proses. ’n Kind sal nie sommer ’n storie stop om vrae te vra nie! Wanneer jy voorlees moedig jy dus ook kritiese en ondersoekende denkpatrone aan, wat nie noodwendig gebeur wanneer sy TV kyk nie. “En wanneer jou kind stories hoor wat jy voorlees, moedig jy haar aan om haar verbeelding te gebruik om met al die inligting ’n prentjie in haar kop te vorm. “Ten laaste is die meeste kinderprogramme kort en aksiebelaai. Dit hou kinders se aandag net vir ’n kort rukkie. Wanneer jy vir haar lees, help jy om haar aandagspan te bou.” 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees