Lief my, los my!

akkreditasie
Thinkstock
Jou peuter is nóg baba, nóg kind. Dis nou die beste tyd om die boustene te lê vir emosionele rypheid, konflikoplossing en empatie.

Een- tot driejariges moet reuse-spronge maak in hul sosiale en emosionele ontwikkeling. Jou baba moes hoofsaaklik vertroue leer, maar nou moet hy leer om sy emosies te kommunikeer, uitdagings te hanteer, vriendskappe te smee, en empatie asook ’n gewete (’n sin van reg en verkeerd) ontwikkel.

Die sleutel tot hierdie sosiale en emosionele kennis lê in liefdevolle en ondersteunende verhoudings met ouers, volwassenes en vriende, sê Zero to Three, ’n Amerikaanse nieregeringsorganisasie wat in peuters se emosionele welstand spesialiseer.

Uitdagings en vertroue

Die wêreld kan vir jong peuters angswekkend en onvoorspelbaar wees. Noudat hulle kan stap, kan hulle hulle op ’n vreemde plek bevind (selfs in jou huis of erf) sonder dat hulle noodwendig daar wou wees.

Jy laat jou peuter veilig voel wanneer jy hom aanmoedig om op ’n veilige manier te verken, en hom gerusstel wanneer hy dit nodig het. Hy sal byvoorbeeld weg van jou beweeg, een keer terugkyk, en dan met sy avontuur voortgaan.

Wanneer hy voel hy het te ver gegaan, waggel hy terug na jou vir gerusstelling. As jy ’n ondersteunende vennoot vir jou nuuskierige peuter kan wees, help jy hom om te leer, te groei en vertroue in sy vermoëns te ontwikkel.

Roetine is belangrik, want om te weet wat om te verwag, laat peuters veilig en in beheer voel. Probeer om daaglikse roetines in dieselfde volgorde te hou en min of meer op dieselfde tyd, en laat hulle weet wanneer ’n oorgang van eet na slaap byvoorbeeld gaan kom.

'n Probleemoplosser vol vertroue

Gun jou peuter tyd om ’n probleem op sy eie te probeer oplos. Peuters ontwikkel nuwe vaardighede wanneer jy hulle net genoeg help om ’n nuwe uitdaging te bemeester sonder dat hulle te gefrustreerd raak.

As jou 20 maande oue peuter probeer om ’n vierkantige blokkie in die ronde gaatjie van sy speelding te druk, lei sy hand oor die verskillende gaatjies om hom te wys hoe om die probleem op te los en help om die blokkie in die regte gaatjie te laat val wanneer hy dit kry.

Om jou peuter te help om ’n goeie probleemoplosser te word, kan jy die proses ook prys en nie net die resultaat nie: “Jy probeer regtig hard om uit te vind hoe om dit te doen en jy byt vas.

Dit is baie goed!” Dit help kinders om volharding te leer en laat hulle weet om hard te probeer is net so belangrik as om sukses te behaal.

Emosionele wysheid

Dis belangrik dat kinders die woorde van hul emosies leer, want dit rus hulle mettertyd met die vermoë toe om oor hul gevoelens te praat eerder as om dit uit te woed. Jy kan ook jou peuter se emosies “afrig”.

The Incredible Years – ’n internasionale bewysgebaseerde program vir ouers en onderwysers – gebruik emosie-afrigting om peuters se gevoelswoordeskat te ontwikkel.

Dit behels dat jy oefen om elke emosie wat jy raaksien, te benoem en ook die rede daarvoor uitspel: “Jy lyk baie opgewonde om roomys te kry. Jou ogies blink sommer.” As jy die emosie ’n naam gee en ’n bietjie inligting oor wat tot die emosie gelei het, help jy jou peuter om die gevoel met die oorsaak te verbind.

As jy begin om ’n reeks positiewe gevoelens af te rig, sal jou kind se gemoed inderdaad meer dikwels positief wees. Jou aandag aan positiewe gevoelens kan jou kind dus gelukkiger en trotser op homself laat voel.

As jy negatiewe emosies ook korrek afrig, kan jou peuter voel hy word verstaan. Dit kan hom help bedaar en hy leer dat negatiewe gevoelens met tyd verander.

Om dít te verseker, moet kommentaar oor negatiewe gevoelens altyd gepaardisgaan met stellings oor hoe om dit positief te hanteer.

Jou peuter sukkel byvoorbeeld om sy skoene aan te trek en jy sê: “Dit is frustrerend, maar jy bly so geduldig en hou aan om jou skoene te probeer aankry. Ek dink jy gaan dit regkry.” Jy gee nie te veel aandag aan negatiewe gedrag nie: Jy fokus op ’n manier om dit te hanteer en voorspel ’n uiteindelike positiewe verandering in die negatiewe gevoel.

As jy die negatiewe emosie een keer benoem het en ’n manier gegee het om dit te hanteer, en jou kind huil onbedaarlik of het ’n woedeaanval, ignoreer dit en laat hom self bedaar voor jy weer met hom praat. Dan kan jy die emosie benoem: “Ek is trots op jou. Jou lyfie lyk nou baie kalmer. Jy het hard probeer en nou is jy kalm.”

Die meeste voorskoolse kinders ken net twee en ’n half woorde vir gevoelens – kwaad en hartseer en soms gelukkig. Emosie-afrigting help kinders om hul gevoelens te verstaan en hulle sal uiteindelik ander se gevoelens kan herken en daarop kan reageer – so word hulle meer empatiese mense.

Konflik

Jou peuter is verskriklik bang dat die hele wêreld in duie gaan stort wanneer hy beheer verloor. Hy moet weet jy is daar om die stukke op te tel – dat jy sy gedrag verwerp, maar nie vir hom nie.

Soos alle mense wat nie ’n seker selfbegrip het nie, gepaardis hy baie fyngevoelig. Moenie ’n bakleiery soek nie – moet dus nie te veel bevele gee wat hy kan ignoreer nie, skryf Marina Petropulos in haar Baba-en-Kindersorghandboek.

Volgens Zero to Three kan jy peuters so help om konflik op te los:

  • Wys vir peuters wat in ’n groep speel hoe om te deel. Gebruik ’n klein uurglas sodat hulle ’n visuele herinneraar het van hoe lank hulle vir hul beurt moet wag. Troos kinders vir wie dit moeilik is om te wag en help hulle om hulle intussen met iets anders besig te hou.
  • Speel speletjies waar peuters beurte maak, soos om in ’n kring te staan en balle vir mekaar aan te gee, of laat hulle saam in die water of in ’n sandput speel. Hierdie aktiwiteite help kinders die kuns van deel “oefen”.
  • Lei jou peuter se aandag af (“Kom ons kyk by die venster uit na die vulliswa”) of stuur hul aandag in ’n ander rigting (“Ek gaan klei uithaal. Wie wil daarmee speel?”) om konflik te verminder of te vermy. Peuters onder twee kan nie konflik met bespreking oplos nie.

Teen drie jaar sukkel peuters steeds om te deel, beurte te maak en reëls te gehoorsaam. Jy help hulle om hierdie vaardighede te leer wanneer jy hulle kalm deur die proses van konflikoplossing lei – herhaaldelik tot hulle dit uiteindelik self kan doen.

  • Hou dit eenvoudig. Verduidelik wat gebeur het in so min as moontlik woorde. Praat met ’n kalm stem.
  • Praat weer deur wat gebeur het om seker te maak jou kind verstaan: “Jy het vir Kosie gestamp, want jy woudie besem terughê.”
  • Wys op die gevolg van sy gedrag. “Nadat jy vir Kosie omgestamp het, het hy begin huil. Dit het seergemaak. Hy het hartseer en kwaad gevoel.”
  • Hou ’n dinkskrum oor beter keuses wat jou kind volgende keer kan maak. Ouer tweejariges kan dalk met hul eie idees vorendag kom. Ander sal voorstelle nodig hê soos om hul woorde te gebruik of om hulp van ’n volwassene te vra.

Wanneer peuters amper drie is, kan hulle eenvoudige verduidelikings verstaan. Praat oor reëls in ’n taal wat jou kind kan verstaan: “Jy mag nie slaan nie. As ons slaan, maak dit seer. Wanneer jy kwaad is, kan jy op en af spring of jou voete stamp of jy kan na my toe kom vir ’n drukkie.”

Vriendskappe

Peuters speel nog nie met ander peuters nie, maar langs hulle in wat bekend staan as parallelle spel. Peuters het oefening nodig om die vreugde van vriendskap te ervaar.

Onthou jy hoe jy jou baba ondersteun het namate hy gevorder het van kopbeheer tot sit, toe hy hom later self kon optrek om te staan en uiteindelik kon stap?

’n Soortgelyke stap-vir-stap-proses vind ook plaas namate peuters leer om sosiaal en emosioneel volwasse te raak. Sosiale vaardighede soos deel en beurte maak word bepaal deur jou kind se ontwikkelingsvaardighede en temperament, asook deur wat hy by jou leer.

Peuters leer deur jou na te boots. Probeer dus hul idees respekteer wanneer julle speel. Deel jou positiewe gevoelens, glimlag, maak vriendelike voorstelle, komplimenteer hulle, help hulle met ’n moeilike aktiwiteit, staan hul versoeke toe en werk saam.

Hier is ’n toneeltjie ter illustrasie. Klein Kayla het ’n speeldeeg-skoenlapper gemaak. “Jy het ’n mooi skoenlapper gemaak,” sê haar ma. Kayla antwoord: “Maak monster.”

Haar ma reageer opgewonde: “Dit is ’n goeie idee, ek wil graag jou monster sien.” Sy sien Kayla het nog speeldeeg nodig: “Ek kan sien jy het nog speeldeeg nodig vir jou monster. Ek sal jou maatjie wees en my speeldeeg met jou deel.” Kayla neem die speeldeeg by haar ma. Ma sê “dankie” en Kayla antwoord “dankie”.

Die ma beskryf haar eie sosiale gedrag: “Ek sal jou maatjie wees en my speeldeeg met jou deel,” sodat Kayla kan leer wat dit beteken om te deel en dat hierdie gedrag iets is wat maatjies met mekaar doen. Wanneer die ma sê sy kan sien Kayla het nog speeldeeg nodig, wys sy hoe sy ander se behoeftes raaksien.

Jy kan ook jou peuter subtiel aanpor om op ’n spesifieke manier op te tree. Jy vra byvoorbeeld: “Kan ek ’n beurt met die grafie kry?” Jou kind sê ja en gee die grafie. Jy antwoord: “Dit was vriendelik.

Ek wou die grafie hê en jy het dit gedeel.” Hierdie ouerreaksie moedig kinders aan om iemand anders se perspektief te verstaan – ’n beginstappie na empatie.

As jou kind nie instem om te deel wanneer jy hom aanpor nie, ignoreer dit. Een- tot driejariges is nie op ’n ontwikkelingsvlak gereed om te deel nie. Moenie jou kleuter dwing om te deel nie, want dit sal die doel verydel.

Jy kan ook die sosiale interaksies en verhoudings tussen verskeie kinders makliker maak. Hierdie sosiale afrigting sal eerste vriendskappe laat ontwikkel. Byvoorbeeld:

Kayla en die 18 maande oue Jollie speel. Haar ma sien Kayla wil ’n ander kleur speeldeeg hê: “Ek kan sien jy wil ’n ander kleur hê, jy kan vir Jollie die groen speeldeeg vra deur te sê: ‘Kan ek hierdie speeldeeg asseblief kry?’” Kayla reageer nie. Haar ma herhaal die woorde wat sy kan gebruik nog twee keer.

Uiteindelik sê Kayla “asseblief kry”, maar Jollie hou aan speel. Kayla se ma sê: “Kayla, jy het mooi gevra en jou woorde gebruik. Ek dink Jollie sal dit vir jou gee as sy klaar is daarmee. Kan jy jou beurt afwag? Kom ons maak daardie blou monster terwyl ons wag. Jy wag baie mooi.”

Dan beskryf sy Jollie se gedrag en sê “Jollie, jy werk hard, daardie groen hartkoekie lyk lekker.” Jollie reageer deur van haar groen speeldeeg vir Kayla te gee.

Sonder die ma se sosiale afrigting sou die twee kinders onafhanklik gespeel het sonder om mekaar raak te sien, moontlik tot een van hulle die ander een se klei gegryp en daar ’n gehuil ontstaan het.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees