Ma se groot baba

akkreditasie
Wat moet jy doen as jou peuter skielik weer soos 'n piepklein baba begin optree?

Jy het die ouderdomsgaping tussen jou kinders mooi beplan sodat jou nuwe baba gebore word wanneer jou peutertjie al self kan piepie, in ’n groot bed slaap en nie meer die foppie of bottel soek nie. Dis dus baie frustrerend, om nie te praat van uitputtend nie, wanneer jou peuter skielik weer daarop aandring om doek te dra, in die baba se kot wil klim en die heeltyd rondgedra wil word.

Wat gaan aan?

“Regressie is baie algemeen by peuters en jong kinders,” sê Sarah van Olst, ’n sielkundige met ’n spesiale belangstelling in kinders.

“Dis hoe jou kind kommunikeer dat sy koestering nodig het. Eintlik is dit ’n baie hulpvaardige teken omdat dit dui op jou kind se spesi¬eke behoeftes.”

Regressie na babagedrag kom meestal voor wanneer ’n nuwe baba sy opwagting maak, maar daar kan ander redes ook wees waarom jou kind die een dag trots daarop is om ’n “groot seun” of “groot meisie” te wees en dan die volgende dag weer wil duim suig.

Dit kan wees dat jou peutertjie botsende emosies ervaar oor grootword en skeiding van jou, of sy voel gefrustreerd of oorweldig deur ’n ontwikkelingsmylpaal soos potjielesse.

Uke Collins, ’n speelgroepieonderwyser van Melville in Johannesburg, sê sy sien dikwels dat ’n tweejarige wat al geleer het om die toilet te gebruik en vir ’n paar weke “skoon” is, skielik sonder enige ooglopende rede glipsies kry.

“Dit hou dan ’n paar weke aan voor dinge na normaal terugkeer en ’n mens kan sê dat die mylpaal werklik behaal is.” Regressie kan ook ’n reaksie wees op verandering of stressituasies in die peuter se lewe, soos die genoemde nuwe baba in die huis, die eerste ervaring met kleuterskool, of spanning tuis.

“Toe Tayla (nou 5) ’n baba was, het sy nie juis in ’n fopspeen belanggestel nie,” vertel Jo Giles van Parkview, Tayla se ma. “Maar toe Jaime (nou 3) gebore is, het sy skielik die fopspeen herontdek en dit was weke voor sy dit weer gelos het.”

Hoekom ontstaan regressie?

“Baie mense is onbewus van wat die tekens van regressie eintlik beteken,” sê Sarah.

“Jy sien dat jou kind weer duim suig en in die baba se kot wil klim, wat daarop dui dat jou kind ’n behoefte het om weer klein te voel. Dis hoe jou peuter vir jou sê: Hei, moenie van my vergeet nie.”

Onthou dat kinders nog nie op gesofistikeerde maniere dink nie. Dis in die mens se natuur om koestering en liefde te soek en net omdat jou ma ’n nuwe baba het, beteken dit nie jou peutertjie se behoefte om só na omgesien te word, verdwyn nie.

Terwyl regressie algemeen is, is dit nie te sê dat elke kind in stresvolle tye in ’n baba verander nie. Hy is dalk net meer klouerig as gewoonlik, eerder as dat hy weer wil borsvoed.

“Jou peuter se geaardheid en hoe sterk jul verhouding is, kan ook ’n rol speel in die vlak van regressie,” sê Sarah.

“Dis beslis nie onnatuurlik dat ’n peuter weer soos ’n baba optree nie, maar dit is belangrik dat jy die tekens raaksien en daaraan aandag gee.” Dis heel eenvoudig: As jy oplet dat jou kind meer aandag nodig het, reageer en gee hom die liefde wat hy soek op ’n manier wat julle albei pas, en die regressie sal gou verbygaan.”

Dis belangrik dat jy jou kind nie straf of sy gedrag ignoreer nie, want dan leer jy hom dat sy gevoelens onaanvaarbaar is, sê Sarah.

“As jy jou kind nie toelaat om so op te tree nie, maak jy net die behoefte aan baba wees groter. Haal liewer weer die bottel uit en laat jou kind toe om veilig in jou arms te lê. As jy die boodskap oordra dat ons soms ’n blaaskansie nodig het van grootseun wees, voel jou kind dat sy behoeftes raakgesien en sy onsekerheid aanvaar word.”

Die goeie nuus is dat dit regtig net ’n fase is en jy nie vir ewig met ’n groot baba opgeskeep sal wees nie. Gee dus maar die bottel, oorlaai hom met liefde, sit ekstra tyd opsy en hy sal gou besef dis lekkerder om ’n ouboet te wees.

Hoe jy kan help

Oorlaai hom met liefde

Wys hom dat hy nie soos ’n baba hoef op te tree om jou aandag te kry nie. As daar ’n nuwe baba in die huis is, sorg dat jy alleentyd met jou peuter deurbring. Skeduleer dit sodat jy nie vergeet nie. Jy kan hom ook belangrik laat voel deur te vra dat hy met die baba help. Hy kan byvoorbeeld doeke aangee of help om baba ná badtyd af te droog, maar moet hom nie dwing as hy nie belangstel nie.

Luister na hom

Verseker hom opnuut dat jy weet hy is nou net ’n speel-speel-baba en nie ’n regte een nie. Sê: “Dis lekker om partykeer soos ’n baba te wees, maar mamma is altyd lief vir jou – ook wanneer jy net jouself is.”

Prys grootseun-gedrag

Wys jou kind op die voordele van ouer en groter wees. Die nuwe baba kan nog nie roomys eet nie. Prys hom wanneer hy hom meer volwasse gedra en vier gerus enige nuwe mylpale.

Laat hom baba-baba speel

Laat hom gerus toe om te klou, duim te suig en water uit ’n bottel te drink. As jy die gedrag verbied, versterk jy net sy behoefte om so op te tree en sal die fase baie langer aanhou.

Laat hom uiting aan sy gevoelens gee

Hy moet weet dis in die haak om kwaad of hartseer te voel. As hy iets leliks oor die nuwe baba sê, moedig hom aan om daaroor te praat of die gevoel uit te kry. Sê dan dat ’n mens altyd beter voel as jy oor jou gevoelens praat.

Hou dinge voorspelbaar

As verandering, soos ’n nuwe huis of nuwe baba, die oorsaak van regressie is, doen jou bes om soveel moontlik in sy lewe konstant te hou.

Kry hulp

As dié raad nie help nie, gaan gesels gerus met ’n sielkundige of spelterapeut.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees