Mamma, daar's 'n leeu in my kas!

akkreditasie
Jou japsnoet se vrese lyk dalk vir jou verspot, maar dis baie belangrik dat jy dit reg hanteer.

Estie* is histeries bang vir honde. Eintlik sommer vir alle diere – veral wilde diere. Sy is bang hulle kom by haar huis in.

As haar gesin iewers heen gaan is haar eerste vraag of daar bobbejane of ape gaan wees. Of dalk seekoeie of bye. Snags hardloop sy bang-bang in die gang af, want iets jaag haar. Die ironie is dat haar ouers glad nie weet waar haar vreeslike vrees vandaan kom nie.

Vir ’n volwassene kan Estie se vrese irrasioneel en onsinnig lyk – ons weet immers die waarskynlikheid dat ’n wilde dier haar in die stad kan aanval is omtrent nul – maar vir Estie is haar vrese baie werklik.

Soms is die oorsprong van kinders se vrese duidelik: ’n Kwaai hond het iemand naby hom gebyt of ’n televisieprogram het ’n vreesaanjaende situasie uitgebeeld. Ander kere is die oorsaak minder ooglopend.

Erika Nell, ’n kliniese sielkundige van Pretoria-Oos, verduidelik dat baie kindervrese daaraan te wyte is dat ’n kind se brein nog nie gevorderd genoeg is om logies uit te werk dat daar byvoorbeeld niks is om in die donker voor bang te wees nie.

“Kinders se verbale vermoëns het ook nog nie so goed ontwikkel soos volwassenes s’n nie. As volwassenes kan ons oor ons vrese praat en dit so verwerk. Kinders kan nie op dieselfde manier daardeur werk nie en is baie sensitief vir suggestie omdat hul verbeeldingswêreld vir hulle baie werklik is. Hulle is dus besonder vatbaar vir vrese, ook onrealistiese vrese.”

Peutervrese is gewoonlik ’n reaksie op die een of ander prikkel, sê dr. Hannie Schoeman, direkteur van die Sentrum vir Spelterapie en Opleiding in Gansbaai in die Wes-Kaap.

”Kinders is nie dom nie. Hulle hoor partykeer volwassenes praat of sien iets op TV, of ouers lees hardop koerant sonder om die volle situasie vir die kind te interpreteer. Dié inligting is nie noodwendig vir volwassenes angswekkend nie, maar lei tot ’n intense vrees by kinders as hul verbeelding dit laat handuit ruk.”

Hannie sê kinders met ’n ryk verbeelding sit verskillende stukkies inligting bymekaar sodat dit vir hulle sin maak, want hulle wil verstaan wat hulle beleef en sien.

”Hul ervaringswêreld is nog nie groot of intens genoeg ontwikkel dat hulle rasionele gevolgtrekkings kan maak nie en hulle ontwikkel dan ’n vrees. As daardie vrees nie behoorlik hanteer word nie, kan dit vir hulle ál intenser word tot hulle later glo dis die werklikheid.

“Dit gaan nie daaroor of dit wat hulle vrees regtig bestaan nie: As jou kind dit beleef, is dit vir hom ’n probleem of versperring wat hy te bowe moet kom.”

Ouers se vrese speel ook ’n belangrike rol in kinders se vrese, sê Hannie. ”Kinders hou hul ouers se gesig dop. As ma haar wenkbroue lig of hy hoor in haar stem dat sy bang is, reageer hy op wat hy sien. Dit kan sy vrese vererger.

“Party ouers gebruik vrees ongelukkig ook as ’n wapen om hul kinders te beheer en sê dinge soos ’jy mag nie daar gaan speel nie, want jy gaan gesteel word’. Dis ’n verskriklike manier om jou kind af te skrik as jy nie wil hê hy moet iets doen nie.”

Hannie sê party kinders is meer vatbaar vir vrese as ander. ”Elke kind se unieke samestelling speel ’n rol,” sê sy.

Verbeeldingsvrese

Baie kinders het vrese vir onsigbare of onwerklike dinge.

  • Monsters onder die bed "Baie kinders is bang vir monsters onder hul bed," sê Hannie. "Dis amper universeel: Hulle staan partykeer by die deur en gee twee groot tree tot by die bed , want hulle is bang die monsters lek hulle of byt hul tone."
  • Die badprop of toilet Peuters is partykeer bang dat as jy die badprop uittrek, hulle saam met die water in die gaatjie af gaan verdwyn. Net so kan kinders histeries word as hulle op 'n toilet sit en boetie trek die handvatsel, want hulle is bang hulle spoel weg. 
  • Die donker In die donker voel 'n kind hy het nie beheer nie, want hy kan nie om hom sien nie. 

Vrese vir werlikheid

Dis een ding as jou kind bang is vir monstersbwat jy weet nie werklik bestaan nie,bmaar wat as jou kind iets vrees waarvoorb’n klein bietjie ontsag eintlik heel gesondbis, soos honde, spinnekoppe, slange of wilde diere?

Erika sê ’n vrees vir honde is ’n realistiese vrees aangesien die bedreiging wel waar kan word. Waak ook daarteen om jou kind so oor honde te laat ontspan dat hy later domastrant is en hom self in gevaar stel, waarsku Hannie.

”Kennis is mag. Vertel jou kind waarom honde mense gewoonlik byt, soos dat ’n hond nie van asemnood hou nie en ‘jy dus nooit jou arms styf om sy nek moet druk nie’. Leer jou kind: ’Moenie sommer aan ’n hondjie of diertjie wat jy nie ken se kop vat nie, want sy kop is spesiaal. As jy aan ’n vreemde hondjie wil vat, wag tot pappa of mamma by is en sê jy kan aan sy ruggie vat.’

“Dis belangrik dat jy jou kind leer om diere te respekteer en om te verstaan dat ’n dier nie soos ’n mens is nie. Hy kan nie vir jou sê wat hy voel nie, want hy kan nie praat nie. As ’n kind dit verstaan, is hy op sy hoede en vra hy toestemming: ’Mag ek aan die hondjie vat of is dit ’n kwaai hondjie?’ ”

Geen ouer wil haar kind blootstel aan ’n situasie waar daar ’n werklike risiko is nie, en daarom is dit belangrik dat ouers hul kind van kleins af leer om te onderskei. “As daar ’n werklike gevaar is en jou kind dit wil vermy, is dit immers toepaslik.

Leer jou kind: ‘Ons kan met Flafe by die huis speel, want ons weet sy is ’n vriendelike hond, maar hierdie hond ken ons nie; kom ons wag dus vir sy eienaar.”
* Skuilnaam

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees