My peuter eet sleg

akkreditasie
Soms moet jy 'n kossoort 15 keer aanbied voor jou kind dit aanvaar.

Vraag:

My dogtertjie is nou 20 maande oud. Sy eet glad nie goed nie, en het nog nooit nie. Die pediater is nie bekommerd nie, maar sy lyk vir my baie maer. Sy sal soggens ’n bietjie pap eet en dan laatmiddag miskien ’n bietjie pasta. Sy hou nie van groente en vrugte nie. Sy drink nog formulemelk, wat my beter laat voel omdat sy darem iets inkry wat goed is. Wat kan ek doen? Hoe kan ek haar eetgewoontes verander?

Antwoord:

As sy volgens haar groeikaart ’n normale groeikurwe volg, is daar niks om oor bekommerd te wees nie. Dis dalk hoekom jou pediater nie onrustig is nie, maar ek hoor jou kommer. Hier is ’n paar wenke:

  • Sy moet verkieslik nie meer as 500 tot 600 ml formulemelk op ’n dag drink nie omdat dit haar versadig sal maak en sy gevolglik nie genoeg kos sal wil eet nie.
  • Probeer om een ete per dag as gesin saam te eet. Sy sal julle naboots en hopelik só nuwe kosse beproef.
  • Laat haar met kos maak help – so leer sy nuwe kossoorte ken en kan sy ook gemaklik daarmee begin voel.
  • Moenie jou kind omkoop met nagereg of kos as vergoeding gebruik vir goeie gedrag nie. Dit kan veroorsaak dat sy vrugte en groente in ’n negatiewe lig begin beskou.
  • Moet nooit jou kind dwing om te eet nie. Bly kalm as sy kos weier, verwyder die bord en bied dieselfde kos later aan as sy kla sy is honger.
  • Hou aan om groente, vrugte en proteïen met etes aan te bied, al eet sy dit nie. Volhard daarmee – dit kan tot 15 keer se blootstelling kos voor ’n jong kind ’n nuwe kossoort aanvaar.
  • Proteïen ontbreek ook in haar dieet en dis ’n belangrike boustof vir die vorming en herstel van selle in die liggaam.
  • Gee haar drie etes en twee peuselhappies per dag. Vir ontbyt kan jy haar byvoorbeeld ’n verrykte ontbytgraankos soos Future Life, Pronutro, eier met brood of eierbroodjievingers gee. Vir middagete kan sy proteïen, stysel en groente kry, soos pasta saam met hoender of maalvleis en snytjies komkommer en tamaties. Jy kan die groente ook in die pastasous of maalvleis verbloem. Dieselfde geld vir aandete. Peuselhappies kan insluit gerasperde kaas, jogurt, biltong en onversoete vrugtestafies.
  • As jy steeds bekommerd is, kan jy vir haar ’n multivitamien-enmineraalaanvulling gee sodat jy gemoedsrus kan kry.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees