book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Myne, myne, myne!

akkreditasie

Ontspan. Deel is nie iets wat ’n driejarige sommer gaan doen nie; ook nie juis ’n vierjarige nie. Jy is beslis nie ’n slegte ouer nie en jou peuter gaan ook nie vir altyd onvrygewig bly nie. Die geheim is om aan te hou om ’n positiewe rolmodel te wees en deur al die gevegte heen vir jou kind te wys hoe om konflik op te los.

Madelein Koen, ’n spelterapeut van Rustenburg in Noordwes, sê teen tweejarige ouderdom begin jou peuter sy eie identiteit vorm en word hy daarvan bewus dat hy nie net ’n verlengstuk of deel van jou is nie. Hy begin ’n selfstandige wil ontwikkel en wil ál meer onafhanklik wees. “Hy sal dinge sê soos ‘ek sal self’ en ‘dis myne’, ” sê Madelein. “Dis deel van sy normale ontwikkeling.” Daarby is kleuters tussen twee en vier van nature selfgesentreerd. Hul wêreld draai om hulleself en hulle het net een lewensuitkyk, en dis hul eie. Hulle is so op hul eie behoeftes en die onmiddellike bevrediging daarvan ingestel dat mededeelsaamheid gewoon nie ’n prioriteit is nie. Hulle sal dus maklik ’n speelding gryp en sê “myne” sonder om eers beleef daarvoor te vra, al probeer ons hoe hard om dit vir hulle te leer! Op dié ouderdom het kinders nog nie die vermoë om te deel nie. Dis nie dat hulle kwaadwillig, moedswillig of opsetlik is nie – hulle tree normaal op. Wees dus maar realisties oor jou peuter se vermoë om te deel, sê Madelein. “Onthou dat jou kind op hierdie ouderdom langs ’n maatjie speel, maar nie mét die maatjie nie. “Om dus te verwag dat hy met sy maatjie gaan deel, is onrealisties.” Volgens Madelein kan ’n klein selfsugtige tweejarige met die korrekte hulp en leiding teen drie of vier jaar darem in ’n vrygewige kleuter omgetower word. En teen vyf of ses jaar begin die selfgesentreerdheid afneem en sal die selfsugtige gedrag begin verbeter.

Dit is ’n normale ontwikkelingsfase en deel van hoe jou tweejarige se koppie op dié ouderdom werk. Moenie dus nie te hard probeer om hom te dissiplineer omdat hy nie wil deel nie. “Om kwaad te word elke keer wanneer jou kind nie wil deel nie, kan veroorsaak dat hy deel en raaskry begin verbind,” waarsku Madelein. As jy sy onvrygewigheid nou ignoreer, beteken dit nie jy maak ’n selfsugtige kind groot nie. Dit beteken eerder dat jy hom help om sy eie wil te ontwikkel. Jy moet eintlik bly wees oor dié stadium. Dit bevestig dat jou kleinding se bewustheid van sy eie persoon goed op dreef is. Dis die eerste treetjies na ’n goeie selfbeeld. Van drie jaar oud af word kinders ál selfstandiger, en die uitdaging is wanneer jou kind met ander kinders in aanraking kom. Dan leer hy vir die eerste keer dat hy sy eie onafhanklikheid net binne sekere reëls mag uitleef. ’n Kamer vol speelgoed en ander persoonlike eiendom word nou ’n oefenveld en hy leer hoeveel inisiatief toelaatbaar is, watter grense daar is en hoe ver ’n mens ander mense se grense in ag neem. “Op vierjarige ouderdom leer jou kleuter empatie, wat hom in staat stel om iemand anders se gevoelens in ag te neem. Deel word nou meer natuurlik,” sê Madelein. En ná ’n lang leerproses van gee en neem leer hy uiteindelik ’n nuwe vaardigheid aan: mededeelsaamheid. Wees dus maar geduldig en tree positief op. Pleks van te sê “Niemand gaan met jou wil speel as jy dit doen nie, want jy maak ander hartseer as jy nie wil deel nie”, kan jy iets positiefs sê soos “Dit sal vir jou maatjie so lekker wees as jy vir haar ook ’n kans gee om saam te speel”. En as jou kind die slag wel deel, moet hy geprys word – maar op ’n beskrywende manier. “Moet byvoorbeeld nie sê: ‘Jou maatjie hou daarvan as jy met hom deel’ nie. Wees meer spesifiek: ‘Het jy Pieter se groot glimlag gesien toe jy jou karretjie met hom deel?’ ” sê Madelein.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees