'n Kind wat kan

akkreditasie
Wanneer jou kind tekens van onafhanklikheid en selfstandigheid begin wys, moet jy alles uit haal om dit verder aan te moedig...

Teen ongeveer sewe maande begin jou baba agterkom dat jy en hy nie een mens is nie. Dis dan dat hy ’n behoefte begin ontwikkel om dinge self te wil doen. Hierdie onafhanklikheid is ’n belangrike mylpaal en help jou peuter om ’n eie identiteit, positiewe selfbeeld en selfvertroue te ontwikkel.

Dit help hom ook om met ander mense om te gaan. Een van jou vele take as ma is om jou kind op die pad na onafhanklikheid te begelei. En stap een is om ’n veilige omgewing vir hierdie reis te skep.

Doen dit so

Laat hom self dinge doen

Moenie goed vir jou kind doen wat hy self kan doen nie. Laat hy self die lepel vashou en hom self voer, al duur dit baie langer en al is dit ’n groot gemors. Laat hom in die oggend maar soos Superman aantrek skool toe; dis ’n geveg wat jy nou maar kan verloor.

Maak jou huis peuter-veilig

Jou klein peutertjie is niks anders as ’n ontdekkingsreisiger nie. Die oomblik wanneer hy op sy eie begin beweeg, gaan die wêreld vir hom oop. Rig jou huis so in dat hy na hartelus kan verken.

Elke keer wanneer jy “nee” sê of “moenie daaraan raak nie”, vat jy ’n stukkie van sy nuwe onafhanklikheid weg. As jy gedurig nee moet sê, is die kans ook goed dat ’n magstryd ontstaan waar jy heeldag nee sê en hy heeldag daaroor kerm.

Beperk sy televisietyd

Te veel blootstelling aan televisie beperk onafhanklikheid, want dit gee nie kans vir interaksie, ontwikkeling van kreatiwiteit en optrede nie.

Gee opdragte

Al is hy skaars 18 maande oud, kan jy jou peuter vra om sy speelding in die mandjie te bêre of sy vuil broek in die wasgoedboks te gooi. Moedig hom gereeld aan om sulke eenvoudige takies uit te voer. Dit sal wondere verrig vir sy sin van onafhanklikheid.

Moedig waaghalsigheid aan

Moedig jou kleintjie aan om nuwe dinge te beproef. As hy skrikkerig was om by die glyplank op te klim, moedig hom aan om dit self te doen. Prys hom as hy nuwe dinge aanpak, maar moet hom nie wegstoot as hy nie wil nie.

Volg 'n roetine

Hoe veiliger jou kind voel, hoe makliker sal hy onafhanklik van jou optree. As dinge voorspelbaar is, voel hy veilig en in beheer. Roetine en ’n ouer wat doen wat sy sê maak ’n peuter se lewe voorspelbaar.

Gee positiewe terugvoer

Positiewe terugvoer sal sy selfvertroue opbou om nuwe horisonne te beproef. Gee spesi¬eke jy-boodskappe soos “Ek kan sien jy is trots op die speelgoed wat jy self opgetel het” pleks van “Ek is trots op jou”.

Wys hom hoe

As jou kind te veel kere mislukking ervaar, kan hy later moed verloor. Help hom op die regte pad deur moeiliker take stadig en stapsgewys vir hom te demonstreer. Laat hom dit dan self doen en prys hom as sy dit reg doen.

Reël speelafsprake

Gaan kuier gereeld by ander mense as jou kind normaalweg by die huis bly en nie na ’n speelgroepie of kleuterskool gaan nie. Dit sal jou peutertjie se sosiale vaardighede aanhelp en ’n groter sin van onafhanklikheid ontwikkel.

Bied keuses

Laat jou peuter waar moontlik tussen twee dinge kies, al dink jy hy verstaan nog nie goed nie. Vra “Wil jy brood of ’n piesang hê?” terwyl jy al twee na hom uithou. As hy die piesang kies, bevestig dat dit ’n goeie keuse was, en andersom. Dit sal hom grootman laat voel.

As jou kleinding klou

Tussen 12 maande en twee jaar het sommige peuters meer tyd as ander nodig om die moed bymekaar te skraap om hul eie ding te doen. Dus kan jou peuter steeds ontsteld raak as jy hom iewers los of werk toe moet ry. Hy behoort egter al vinniger te herstel ná so ’n huilsessie. Die vernaamste rede is dat hy nou ’n bietjie ervaring bygekry het en weet dat jy altyd terugkom.

Wat kan jy doen?

  • ¬Moenie vir jou kind kwaad raak as hy huil omdat jy weggaan nie. Stel hom gerus en sê jy verstaan dat hy na jou gaan verlang. Dis egter belangrik dat jy positief en kalm bly. Kinders kyk altyd na hul ouers se optrede om ’n situasie te beoordeel.
  • Verseker jou kind oor en oor dat jou weggaan net tydelik is. Sê ook vir hom dat jy aan hom gaan dink en baie daarna uitsien om hom gou weer te sien.
  • Vestig jul eie klein groetroetine wanneer jy moet weggaan. Soen hom byvoorbeeld een keer op elke wang, gee ’n stywe drukkie en blaas ’n soentjie. Kinders ¬oreer as daar roetine is omdat dit hulle gerusstel as hulle altyd weet wat om te verwag. Probeer ook om jou kind altyd op dieselfde tyd te gaan haal as hy by ’n dagsorgsentrum of kleuterskool is. Sê vir hom as jy op ’n sekere dag ’n bietjie later gaan wees.
  • Soos met kleiner kindertjies bly genoeg onverdeelde aandag ná jou terugkeer belangrik.
  • Oefen sy alleenspel: Sê jy gaan vyf minute lank in die kamer langsaan besig wees terwyl hy lekker speel. Keer ná vyf minute terug. Rek hierdie tydjie ál langer tot hy besef hy kan onafhanklik van jou funksioneer. Moedig hom aan om hom self besig te hou terwyl jy met ander ding besig is. Die idee is dat jy altyd binne hoorafstand moet wees, maar nie noodwendig heeltyd by hom nie.
  • Hou groettye kalm en ferm. Verseker jou kind van jou liefde en dat jy hom later weer gaan sien, en sê hy moet sy dag geniet voor jy ferm en vinnig wegstap. Moenie skelm probeer wegglip nie – dit skend sy vertroue. Steek kers op by ’n kindersielkundige as dit vir jou voel of jou kind se angstigheid alles oorheers en hy niks sonder jou kan doen nie.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees