Pasgebore babas se oë word amper altyd in die hospitaal getoets, maar dit beteken nie dat jy hulle nie weer vir ’n toets hoef te neem nie, selfs al was die eerste uitslag goed. Ons het by spesialiste gaan hoor hoe gereeld jou kind oogtoetse behoort te ondergaan en wat alles getoets moet word. Want soos met die meeste ander dinge in die lewe, is voorkoming hier ook beter as genesing.

Ek sien met my klein ogies

In die eerste jaar van jou kleinding se lewe behoort sy minstens drie oogondersoeke te ondergaan, sê Inge Loubser, ’n oogkundige en handelsmerkambassadeur vir Mellins i-Style, ’n oogkundige praktyk met takke landwyd.

Jy hoef egter nie ’n oogspesialis vir die eerste oogondersoeke te raadpleeg nie. As  jou kind ’n ongekompliseerde geboorte gehad het en julle privaat mediese sorg het, sal jou kind se pediater dit hanteer.

“Die eerste ondersoek vind al in die hospitaal plaas kort ná baba se geboorte,” sê Inge. “Die tweede een word gedoen met die belangrike ondersoek op ses weke, en die derde een wanneer jou kind ses maande of ’n jaar oud is.”

Die Amerikaanse Vereniging vir Kinderoftalmologie beveel aan dat pediaters die oogtoetse en -ondersoeke hieronder
in hul kind se eerste vyf jaar laat doen, sê dr. Cor van Zyl, ’n oogspesialis van Bloemfontein. Daarna behoort hulle elke een tot twee jaar weer getoets te word.

  • Die rooi refleks. Met dié toets word ’n lig in die ogie geskyn en verwag die dokter dat die oog rooi weerkaats (baie soos die rooi lig wat soms op ’n foto op ons oë verskyn). As daar nie ’n rooi refleks is nie, word dit soms die “wit pupil” genoem. Dis ’n belangrike aanduiding dat iets moontlik verkeerd is en kan
    onder meer dui op ’n katarak, wat onmiddellike aandag vereis. Die pediater behoort jou dadelik na ’n oogspesialis te verwys.
  • ’n Eksterne oogondersoek waarin die pediater kyk of daar strukturele afwykings is. As sulke abnormaliteite opgespoor word – soos ’n boonste ooglid wat oor die ogie hang – moet die pediater julle weer eens na ’n oogspesialis verwys.
    Ander probleme kan geswolle, tranerige of rooi ooglede wees, wat deur infeksie of ’n verstopte traanbuis veroorsaak kan word. Tranerige ogies is baie algemeen by babas omdat hul traanbuise gewoonlik nog nie ten volle ontwikkel het nie. In sulke gevalle sal die dokter die dreinering van trane aanhelp deur byvoorbeeld die omgewing van die traanbuisie te masseer.
  • ’n Pupil-ondersoek, waar die dokter onder meer kyk of die pupille ewe groot is of dalk ’n ongewone vorm het. As die grootte verskil of die vorm vreemd is, moet julle ook oogspesialis toe.
  • Die vermoë om op ’n voorwerp te fokus en dit te volg. Dis iets wat babas eers ná drie maande regkry; moet dus nie bekommerd wees as jou kleinding dit nie voor daardie ouderdom kan doen nie.
  • Kornea-ligrefleks. Hierdie toets gebruik soos die rooi refleks die weerkaatsing van lig op die oog om na afwykings te soek.
    As ’n lig op die oog geskyn word, behoort lig van die middel van elke pupil af terug te kaats. As dit nie gebeur nie, beteken dit die ogies kyk nie reguit vorentoe en die kind kyk dalk ’n bietjie skeel. Spesialis-aandag is daarvoor nodig.

Ogie kyk skeel

As jou kind se ogie opvallend skeel is (met ander woorde, jy wonder nie eens daaroor nie), moet julle so gou moontlik by ’n oogspesialis uitkom. Hoewel strabisme (skeelheid) nie ’n noodgeval is nie, is dit belangrik om dit so gou moontlik te laat diagnoseer sodat behandeling kan begin.

Dis baie belangrik dat skeelheid behandel word voor jou kind skool toe gaan, sê die Bloemfonteinse oogspesialis dr. Cor van Zyl.

“Sommige kinders kyk nie heeltyd skeel nie,” sê hy. “As dit die geval met jou kind is, neem gerus vir jul dokter ’n video of foto’s van wanneer jou kind wel skeel kyk.” Daar is baie behandelings vir skeelheid beskikbaar, van oefeninge en ’n bril tot ’n operasie.

So lyk 'n goeie oogtoets

’n Goeie oogtoets sal al die volgende insluit, sê die oogkundige Inge Loubser.

  • Gemak van visie Dit behels toetsing van die oogspiere.
  • Sigvermoë Dit word gewoonlik met ’n masjien gemeet, wat verskillende toetse outomaties uitvoer. Die uitslag van dié toets kan egter nie op eie bene staan nie en moet deur ander toetse aangevul word.
  • Die gesondheid van die oog Die oogkundige gebruik ’n spesiale instrument om binne-in die oog te kyk en te soek na abnormaliteite soos obstruksies in kliere, pupil-weerkaatsings en die beweging van die oog.

’n Standaard-oogtoets by ’n oogkundige behoort jou tussen R350 en R450 uit die sak te jaag. Dis verkieslik dat een of albei ouers by is wanneer die toets gedoen word.

Inge beveel ook aan dat ouers nie net moet aanvaar dat hul kind ’n bril nodig het nie. Vra hoekom en vir hoe lank sy die bril sal moet dra. “Probeer ook uitvind of daar alternatiewe is. As ’n bril die enigste of beste uitweg is, bespreek die lens- en raamopsies baie goed met die oogkundige.”

As sy al haar oogtoetse slaag

Selfs al lyk dit nie of jou kind oogprobleme het nie, moet jy haar oë steeds gereeld laat toets – veral as jy of haar pa ’n familiegeskiedenis van oogprobleme het, sê Inge. “Dis baie belangrik dat oogprobleme voor ses tot nege jaar oud raakgesien word,” sê sy.

Inge beveel ook aan dat jy jou kind van drie jaar af elke twee jaar deur ’n oogkundige laat toets, selfs al is haar sig normaal. Dis omdat kinders se oë bly groei en om seker te maak hul sig is gemaklik.

“Soms is ouers gelukkig en hul kinders sê vir hulle dat hulle sukkel om op ’n sekere afstand te sien, maar meestal kom ouers en die kinders ook glad nie agter dat hulle ’n sigprobleem het nie. Gereelde toetse is dus baie belangrik!”

Cor reken ’n kind wie se oë normaal ontwikkel behoort minstens een keer voor skool by ’n oogspesialis uit te kom.
As ’n kind nie goed kan sien nie, het dit ’n invloed op haar hele visuele stelsel. “Die deel van die brein wat vir visie verantwoordelik is, ontwikkel net as dit gestimuleer word. En as dit nie gebeur nie, gaan staan daardie deel stil.”

Dink daaraan as ’n kind wie se arm met geboorte teen sy lyf vasgebind word. Ná ’n ruk sal hy sy arm glad nie kan gebruik nie, selfs al word dit losgemaak. Dieselfde gevaar bestaan by oë en dis dus baie belangrik dat sigprobleme so gou moontlik behandel word sodat die deel van die brein wat vir sig verantwoordelik is, aanhou werk.

’n Sogenaamde “lui oog” kan reggestel word as dit vroeg genoeg gediagnoseer word, maar ná agt tot 10 jaar oud is behandeling baie moeilik, sê Cor.