Ons gebruik elke dag die groot spiere van ons lyf wanneer ons loop, sit of staan. Groot motoriese ontwikkeling gaan daaroor dat jou kind die spiere wat onder meer sy kop, skouers, arms, rug, maag en bene beheer, só leer gebruik dat hy bewegings akkuraat en met goeie tydsberekening kan uitvoer. Dit stel jou kind in staat om regop op ’n stoel te sit en by ’n tafel te werk.

Groot motoriese spiere stel jou kind ook in staat om vir langer rukke stil te sit, soos hy by die skool moet kan doen.

Jou kind se spiere leer met sy brein en senustelsel saamwerk om sy lyfie te laat doen wat hy wil doen. Dit sluit in ’n goeie balans, oog-hand- en oog-voet-koördinasie, goeie samewerking tussen die twee kante van sy lyfie, sterk spiertjies wat weerstand kan bied, en ’n bewustheid van waar sy liggaamsdele is, al kan hy dit nie sien nie. Sonder goeie groot motoriese vaardighede kan jou kind dit ook moeilik vind om fyner takies soos knip en skryf uit te voer.

8 tot 11 maande

Jou baba behoort teen agt maande oud vanuit ’n maagliggende posisie tot ’n sittende posisie te kan kom en gemaklik alleen te sit. Hy kan ook nou begin kruip. Teen omtrent nege maande oud kan hy vanuit ’n sittende posisie op sy hande en knieë gaan staan en andersom. Daarna begin hy hom teen meubels optrek en kan staan terwyl hy teen meubels leun. Hier teen 10 maande sal jou kleinding al met die meubels langs loop terwyl hy daaraan vashou. Teen 11 maande sal hy kan loop terwyl jy sy handjies vashou.

Help só

  • Laat wip jou baba saggies op jou knie of op ’n groot bal.
  • Gee jou baba soveel moontlik tyd op die vloer.
  • Ry fiets met sy beentjies.
  • Gebruik speelgoed om hom aan te moedig om gereeld om te rol.
  • Sit speelgoed net buite sy bereik om hom aan te moedig om daarna te reik en te kruip.
  • Plaas meubels naby genoeg aan mekaar dat hy van een meubelstuk na die volgende kan loop. Skuif dit geleidelik verder van mekaar af namate sy selfvertroue toeneem.
  • Hou sy handjies vas en stap met hom.

12 tot 18 maande

Jou woelwater staan teen 12 maande 12 sekondes lank sonder ondersteuning, loop terwyl jy sy een hand vashou en kan enige dag sy eerste treetjie gee. Teen 15 maande kan hy onafhanklik loop en teen trappies opkruip. Hy sal op sy hurke sit en speel en buk om goed op te tel. Hy kan al ’n groot bal begin gooi. Hierna sal sy loopvaardighede verder verfyn tot hy sywaarts, in sirkels en agteruit kan loop. Hy begin ook teen 16 maande met hulp trappies klim. Teen 18 maande kan hy ’n bal gooi en probeer skop en hom al taamlik balanseer terwyl hy ’n speelding loop en trek. Teen twee jaar sal jou peuter die wêreld vol hardloop. Hy kan van ’n lae trappie of boksie afspring en ’n stilstaande bal skop. Hy kan alleen trappies klim terwyl hy aan die reling vashou en sal gek wees daaroor om op sy skopfiets te ry. Hy kan sonder om aan iets vas te hou afbuk en iets optel, en uit ’n knielende posisie opstaan.

Help só

  • Laat jou baba op ’n groot handdoek sit. Jy en jou maat kan dan elkeen ’n punt van die handdoek neem en hom liggies heen en weer swaai.
  • Leer jou baba teen trappe afkruip deur hom om te draai sodat hy op sy magie met sy voete na onder afgaan.
  • Laat jou kleinding hom in ’n lang spieël bekyk terwyl hy bewegings uitvoer.
  • Vorm ’n brug met jou lyf en laat baba onderdeur kruip, oor jou klim en op jou sit.
  • Speel perdjie met hom op jou rug.
  • Sit jou kind se voete bo-op joune en “loop” saam.

2 tot 3 jaar

Jou peutertjie word nou woelig. Hy kan eenbeen spring (omtrent twee hoppe) en met afwisselende voete op en af met trappies loop. Hy kan agteruit loop en enkele sekondes op een been balanseer. Hy sal ’n bal wat aangerol kom, kan vang en ook ’n bal ’n halwe meter ver na ’n spesifieke teiken kan gooi. Hy kan ’n driewiel met pedale begin ry en sal vir sowat drie meter op ’n streep kan loop. Hy kan met albei voete in die lug spring.

Help só

  • Moedig jou kleinding aan om bollemakiesie op ’n sagte mat te slaan. Maak seker sy kennetjie is teen sy bors gedruk wanneer hy rol.
  • Laat hom van ’n klimapparaat af hang, maar bly byderhand om ondersteuning te verleen.
  • Gee hom ’n mini-winkeltrollie of stootwaentjie om rond te stoot.
  • Laat hom skopfietsie ry wat sy beenspiere versterk en die twee kante van sy lyfie koördineer.
  • Laat hom van ’n klimapparaat af hang, maar bly byderhand om ondersteuning te verleen.
  • Gee hom ’n mini-winkeltrollie of stootwaentjie om rond te stoot.
  • Laat hom skopfietsie ry wat sy beenspiere versterk en die twee kante van sy lyfie koördineer.

3 tot 4 jaar

Jou kleuter kan nou ’n bal vang op ’n afstand van 1,5 meter, dit bons en met sy elmboë gebuig gooi. Hy kan lekker op ’n klimraam klouter, gly en swaai, wat sy groot spiere sommer baie goeie oefening sal gee. Hy kan sonder hulp uit ’n hurkende posisie regop kom. Hy galop, hardloop, loop, wriemel en kan op sy tone loop. Hy kan al sowat vyf keer op een been wip en vyf sekondes op een voet balanseer, asook met albei voete vorentoe spring. Hy ry kort entjies met sy driewiel.

4 tot 5 jaar

Jou kind kan teen vier jaar ’n leer met alternatiewe voete klim, hy kan sowat agt sekondes op een voet balanseer en agt keer eenbeentjie spring. Hy kan met albei voete op dieselfde plek spring en ook van ’n hoogte van 60 cm met albei voete afspring. Hy kan ’n bal in die lug gooi en vang, en die bal laat terugspring en dan vang. Hy loop op ’n balanseerbalk, kan begin touspring en het ’n gemaklike hardloopstyl.

5 tot 7 jaar

Jou kind kan al gemaklik touspring en ’n bal wat na hom toe rol skop, asook die bal dribbel. Hy kan fietsry en ’n bal sowat drie meter ver akkuraat gooi. Hoe ouer hy word, hoe verder sal hy kan gooi. Hy loop soos ’n volwassene en kan galop en huppel. Hy sal sywaarts kan spring en 180 grade kan draai. Hy kan meer as 10 keer op een been spring en kan agteruitloop met sy hak teen sy toon. Hy kan selfs al opstote begin doen. Hy kan ook ’n handoorslag uitvoer. 

11 aktiwiteite vir kleuters

Rol. Dit versterk verskeie spiergroepe, asook draaivermoë, bilaterale integrasie en middellynkruising. Laat jou kind op en af teen heuwels en op die grasperk rol – dis veral goeie oefening omdat dit teen weerstand en teen verskillende snelhede gebeur.
Kruiwaloop. Hou jou kind se bene vas en laat haar vorentoe of agtertoe op haar hande loop. Dié speletjie stimuleer die hand-, skouer-, nek- en rugspiere.
Bollemakiesie. Dit stimuleer spiere wat ’n hoofrol speel in balans en motoriese beplanning.
Spronge. Sterspronge, tweebeentjie spring en eenbeentjie spring stimuleer die posisiesintuig, wat lei tot beter bewustheid van die liggaamsdele in die ruimte, asook balansvaardighede.
Huppel en kruishuppel. Dit stimuleer die vloeiende gebruik van die twee helftes van die liggaam en middellynkruising. Spiere wat ontwikkel word, sluit in die heup-, maag- en rugspiere.
Hinkspel (hopscotch). Dit moedig veral motoriese beplanning en balansvaardighede aan.
Dans- en klapspeletjies. Doen dit op die maat van aksieliedjies soos “Saai die waatlemoen”: “roei die skuitjie”, “blaas die fluitjie”, ensovoorts. Dit stimuleer ritme, bilaterale integrasie, middellynkruising en motoriese beplanning.
Diereloop. Wip soos ’n hasie, plofstap soos ’n olifant, vlieg soos ’n by, skop soos ’n donkie, spring soos ’n padda, loop soos ’n gorilla ... Dit stimuleer byna alle spiergroepe en lei tot beter ruimtelike vaardighede en motoriese beplanning.
Engeltjies. Laat jou kind op haar rug lê en eers haar ledemate afsonderlik oplig, dan albei arms gelyktydig, dan albei bene gelyktydig, daarna die arm en been aan een kant gelyktydig, dan dié aan die ander kant en laastens die arm aan die een kant en die teenoorgestelde been gelyktydig en andersom. Dit moedig veral motoriese beplanning en bilaterale integrasie aan.
Hardloopspeletjies. Dit stimuleer spiere wat help met balans, motoriese beplanning en ruimtelike oriëntasie.
Apparate. Apparate soos ’n springmat, klimraam, hoepels, toue, rolskaatse, skaatsborde en fietse bied ook eindelose moontlikhede vir prettige ontwikkeling.

Het jy geweet?
As jou kind se groot motoriese vaardighede nie goed ontwikkel is nie, kan hy die aktiwiteite vermy waarvoor hierdie vaardighede nodig is. Dit kan veroorsaak dat sy groot motoriese vaardighede ál verder agterraak.

Raakgekoop

Nivea Sun Kids het ’n SBF van meer as 50. Moisturising Sun Spray en Protect & Sensitive Sun Lotion vir sensitiewe velle kos R174,99 elk vir 200 ml en is by alle groot kleinhandelaars te koop.