P staan vir peuter

akkreditasie
Hier is 10 dinge wat jou as ouer kan help om die uitdagende peuter-stadium te hanteer.

1. Leer jou kind luister

"Die peuterstadium is die beste tyd om jou kind te begin leer om te luister. Vat aan hom wanneer jy met hom
praat,” sê dr. Don Roos, skrywer en kinderkundige. “Fisieke en oogkontak is baie belangrik. Vra jou kind om die kort opdrag wat jy gegee het, te herhaal. ’n Kind wat kan luister, maak dit vir ander mense – by die kleuterskool en elders – makliker om hom te help.”

2. Maak jou huis peutervriendelik

"Alle slim kinders is nuuskierig," sê Don. "Ouers kan dit gerus soos 'n mantra onthou. Nuuskierige kinders wil meer weet van die wêreld om hulle. Maak dus seker jou kind stel nie bloot net ondersoek in voor jy hom as stout beskryf nie.”

Om te verseker hy kan sy omgewing in veiligheid ondersoek, maak seker jou huis is toeganklik en veilig vir peuters. Hy sal byvoorbeeld nie onthou om nie met jou porseleinware te speel of weg te bly van ’n kragprop nie. Jy moet die kas waarin dit is, gesluit hou en kragproppe bedek.

3. Vermy 'n magstryd

Volgens Ann Cawood, kenner op die gebied van ouer-kind-verhoudings, moet ouers dit vermy om absolute bevele te gee soos: “Eet jou kos.” Op haar webtuiste, www.boundariesinc.co.za, verduidelik sy dat so ’n bevel dikwels ’n “nee”-reaksie by ’n peuter ontlok, wat ’n onmiddellike magstryd tot gevolg het. Bevele moet eerder samewerking vra, soos: “Wat sal ons eerste eet – die wortels of die vis?”

4. Wees realisties

Onthou dat jou kind nog klein is en pas jou verwagtinge daarby aan. Volgens Don moet ’n mens min reëls hê – “hoogstens drie tot vier basiese reëls wat in vele situasies van toepassing is.”

Dit beteken dat jou kind ’n regverdige kans het om die reëls te onthou. ’n Voorbeeld hiervan is die reël dat kos net by die kombuistafel geëet mag word. So hanteer jy kinders wat krummels in kamers los, stukke vrugte op jou sitkamerbank smeer of ’n geëetery voor die televisie – alles met een reël.

5. Stel duidelike grense

Kinders toets dikwels hoe ernstig jy is oor 'n reël, of hoe spesifiek die reël gevolg moet word. Sou jy byvoorbeeld sê sy mag nie op die tafel staan nie, sal sy op die stoel klim en kyk wat jou reaksie is, dan haar een voet op die tafel sit en weer kyk.

Dis belangrik om dan die presiese grens te stel – mag sy een voet op die tafel sit? Nee. Dit is jou plig om duidelik te wees oor die grense, al voel dit soms soos hare kloof. Volgens Anne lê kinders se sekuriteit ook in volwassenes se vermoë om die grense te handhaaf.

6. Wees konsekwent

'n Peuter se geheue is beter as wat 'n mens dink. As dit vandag reg is om op die sitkamerbank te spring omdat jy
te besig is om hom te vermaan, kan jy môre op jou kop staan om te verduidelik waarom dit eintlik verkeerd is. “Ouers moet ook uit een mond praat,” sê Don. “Dit help nie sekere reëls geld wanneer Ma tuis is, maar wanneer Pa moet kyk, verander die reëls nie.” Konsekwentheid vereis goeie kommunikasie tussen ouers en duidelike reëls sonder enige grys gebiede.

7. Kritiseer die daad, nie die kind nie

Vermy negatiewe woorde wat jou kind as mens beskryf, soos stout, moeilik, lelik of goor. Volgens Don moet ’n mens vanuit die standpunt gaan dat jou kind oulik en soet is. “Die woordkeuse wat jy dan gebruik is ‘dit [hierdie daad] pas nie by ’n oulike kind soos jy nie’ of ‘soet kinders maak nie so nie’.

Jou kind leer dan dat sekere dinge nie strook met dit wat as aanvaarde gedrag beskou word nie.” Anne sê ook op haar webtuiste dat ouers gerus vir kinders die woordeskat van gevoelens kan aanleer. “Kinders leer dan dat gevoelens altyd aanvaarbaar is, soos hartseer, woede, frustrasie. Die manier om dit te hanteer is egter nie altyd aanvaarbaar nie. Oulike kinders slaan nie hul maatjies nie, selfs al is hulle kwaad.”

8. Vermy straf

Volgens Anne beteken ferm dissipline jou kind leer die gevolge van keuses. “Om jou kind te slaan is ondoeltreffend,” sê sy. “Dit kweek aggressie en werk oënskynlik net tydelik.” Volgens Don moet alle dissipline uiteindelik lei tot selfdissipline. “Dit help dus nie jou huis is vol onbenullige reëls wat uiteindelik niks vir jou kind se karakter beteken nie.

“Hy moet weet dat hy vry is om te doen wat hy wil, maar dat hy nie vry is van die gevolge van sy dade nie.” Don is glad nie ten gunste daarvan dat ’n kind geïgnoreer word nie. “Daar is ’n verskil tussen ignoreer en om solank aan te gaan met iets anders terwyl jou kind ’n oomblik vir homself nodig het,” sê hy. “Moet ook nie die gevolge, of straf indien nodig, uitstel nie. Moenie dat jou kind moet wag dat Pa huis toe kom om hom te straf nie. Dit is wreed.”

9. Kweek 'n goeie selfbeeld

Dis belangrik dat ouers ’n goeie selfbeeld het, sê Don. “Vir dissipline en kinders het ’n mens ’n goeie humorsin nodig en dit kry jy net as jy ’n goeie selfbeeld het, sodat jy vir jou eie onvermoëns kan lag.” Anne sê ouers moet sorg dat hulle tyd vir hulself inruim, asook tyd vir ander volwassenes. “Dit is nodig om ’n bietjie van jouself te spaar vir wanneer jou kinders eendag die huis verlaat!”

10. Prys jou kind

’n Mens is geneig om te reageer slegs as jou kind iets doen wat optrede vereis. Ouers moet egter onthou om ook positiewe bevestiging te gee vir al die dinge wat hul kind reg doen. Goeie maniere kan nooit te veel geprys word nie, en dieselfde geld vir al die kere dat jou kind op ’n reël ag slaan – veral as sy nie dink jy kyk nie. Volgens Don is veral tyd saam met jou kind ’n goeie beloning.

“Moet tog nooit lekkers of speelgoed as die enigste beloning beskou nie. Ouers onderskat hoe ’n groot beloning dit is om iets saam met jou kind te doen. Die meeste kinders sal dit bo geskenke verkies.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees