Ons het sedert Ben se geboorte al soveel eerstes beleef dat ons nie meer weet hoeveel daar al was nie. Heelwat daarvan is met verloop van tyd in hierdie rubriek geboekstaaf, en die oorgrote meerderheid is op foto’s en video’s vasgelê en is nou iewers (en blykbaar veilig) geberg in die cloud van daardie onpeilbare uitspansel bekend as die wêreldwye web. Dié opnames kan seker beskou word as my en Carla se kollektiewe, geargiveerde geheue met betrekking tot ons seun sedert sy eerste asemteug op 29 September 2014 tot waar hy nou is, amper drie jaar later.

Die eerstes hou natuurlik nooit op nie. Nuwes word bykans daagliks bygevoeg. En dis nie altyd iets wat ’n mens noodwendig wil opteken of afneem nie. Trouens, waar eerstes in die verlede oorwegend vir aangename hoogtepunte en herinneringe gesorg het, kry ons deesdae ook meermale met die onaangenames te doen.

Een doodgewone Maandagoggend biep my selfoon byvoorbeeld in die middel van ’n kantoorvergadering ’n WhatsApp-biep. Ek loer so onopsigtelik moontlik onder die tafel na die boodskap, want ek kén daai biep.

“Ben het op sy ken geval,” skryf my vrou. “Hy bloei. Ek het ’n pleister geplak. Hy slaap nou.” Als goed en wel, dink ek, met ’n druppeltjie sweet op my bolip. Geen krisis nie.

My seuntjie is soms so woelig soos daai advertensiehasie met die duur battery in sy pens, en ek is eintlik verbaas dit het nie al vroeër gebeur nie. Skaars 15 minute later biep die Whats-App weer.

“Hy is wakker. En hy skree. Ek gaan hom hospitaal toe neem.”

Dit word onmiddellik gevolg deur ’n foto van Ben met ’n gapende wond aan sy ken. Oukei, dis hoe dit op daardie oomblik vir my gelyk het. Die vervlakste selfoonkameras is deesdae so klinies en skerp. “Gapende” en “wond” langs mekaar klink nou skielik bitter erg. Dalk was dit nader aan ’n oop snytjie. Ken eerste teen die kombuis se teëlvloer was die oorsaak, van probeer weghardloop toe sy ma gesê het “kom, dis tyd om daai nat doek van jou te ruil”.

’n Uur later daag die foto ná die doktersbesoek op: vier steke verberg agter ’n pleister wat omtrent sy hele onderkaak bedek. Die arme mannetjie.

Die aand by die huis word daar opgewonde aan my vertel hoe die “dogter” hom ’n “spyting” gegee het voor die steke ingesit is. En woerts! Daar hol hy weer lomp maar vreesloos in die gang af met my werkskoene aan sy voete, geklee in sy jacket (een van sy ma se truie wat elke nou en dan dreig om aan die oorgrote skoeisel was te haak). Hou hart, hou! Hy het sedertdien ook gesig eerste van sy bed af teen ’n laaikas geval, want “ek die jump-jump game gespeel, pappa”.

Vir ’n week ná hierdie eerste het hy kompleet gelyk soos daai karakter van Phantom of the Opera met die verwronge gesig.

“Ek is bang om hom parkie toe te neem,” sê Carla toe die kneusplek bo sy neus die volgende dag met ’n knop staan, die kleur van ’n treurige reënboog in ’n nog treuriger kusdorpie in die middel van die winter.

“Sê nou maar net een van die ander mammas sien sy ken en sy oog … en die volgende oomblik hou Kinderwelsyn hier voor ons deur stil? Ek sweer ek kry klaar skewe kyke van mense. Is ons slegte ouers? Is ek ’n slegte ma?”

Ja, dáái vraag. Want ’n mens kan nie help om te wonder nie. Is ons goeie ouers?

Ons oorlaai hom nie met speelgoed nie. Sy klere is grotendeels van vriende oorgeërf. Hy hoor gereeld die woorde “los dit”, “moenie vat nie” en “nee”. Hy volg ’n taamlik rigiede eet-, bad- en slaaproetine. Sy “skermtyd” word beperk tot 15 minute TV of selfoon elke tweede, soms derde dag, nooit op sy eie nie. Soetgoed is iets wat net sy oumas hom skelmpies in die kies stop.

Kyk, hy leef allesbehalwe in vrees vir sy ouers. Trouens, hy is ’n vrygeestige klein japsnoet wat gereed staan met ’n teenargument.

“Hier is jou twee gummies,” hoor hy elke oggend voor ontbyt wanneer ek hom sy multivitamien-jelliebeertjies gee.

“Pappa, net drie beertjies gee. Of one-two-three-four-five beertjies,” tel hy met die vingertjies op sy een hand.

Of, met die aantrekslag: “Wil jy jou cargo pants en jou Spiderman-hemp dra?”

Dan dink hy ’n rukkie na en antwoord: “Nie dié nie, mamma. Dáái. Ek wil dáái oupafrokkie en pappa-jeans hê.”

Toe my vrou dus nou die dag hardop wonder of ons goeie ouers is, herinner ek haar aan nog ’n eerste wat ons onlangs beleef het – en sedertdien gereeld beleef. Elke keer as ek dit hoor, voel dit of my keel toetrek en ek die trane moet wegsluk.

“Pappa, mamma!” roep hy die oggend douvoordag uit sy kamer toe ons nog vir vyf minute wou lê voor ons dagtake begin. “PAPPA, MAMMA!” kom dit weer, dié keer harder, dringender. Ons staan op en stap na sy kamer toe.

“Wat is dit, seuntjie, wat pla?”

“Ek lief vir pappa, mamma.”

FOTO: Emielke

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.